Logo

Suidoosterfees bied teater-pitkos

Nuus
26 April 2016
Die 13de Suidoosterfees vind vanjaar van 27 April tot 2 Mei 2016 in Kaapstad plaas, en die tema is “Distrik 6”.
Wond Suidooster

Die 13de Suidoosterfees vind vanjaar van 27 April tot 2 Mei 2016 in Kaapstad plaas, en die tema is “Distrik 6”.

Daar sal oudergewoonte iets vir almal wees – van drama en komedie, tot by kabaret, dans en gratis vermaak op die piazza.

Produksies sal by die Kunstekaap- en Fugard-teater, sowel as by die Distrik Ses-museum gehou word.

’n Paar opwindende hoogtepunte sluit in: Emo Adams Is Duidelik, David Kramer: Onder Die Spanspekgeel Maan, Shaleen Surtie Richards in Die Woema van ’n windgat wyfie, Laurika Rauch en Elvis Blue in Hart & See, en selfs ’n splinternuwe drama getiteld Kristalvlakte met akteurs Ilse Klink, Brendon Daniels, Dean Smith, Royston Stoffels en ander.

Die tweede Suidoosterfees-talentsoektog het ook by die Joseph Stone-ouditorium in Athlone op Saterdag 6 Februarie begin.

Die finaal op die piazza vind plaas op Saterdag 30 April van 09:00 tot 15:00.

Kontak Lyndsay Cader by 021 406 2900 of [email protected] vir meer inligting.

WOND
Artscape (Arena)

Teks: Charles J Fourie
Regie: Heinrich Reisenhofer
Vervaardiger: Indy Spirit Worx in samewerking met Suidoosterfees
Met David Johnson en Dominique Fourie
Vrydag 29 April 16:30-17:30
Saterdag 30 April 13:30-14:30
Sondag 1 Mei 18:30-19:30
Prys R110
Ouderdomsbeperking: 18 Taal, Geweld, Seks, Naaktheid

“All who pass, remember the thousands of people who lived for generations in District Six and were forced by law to leave their homes because of the colour of their skins”.

’n Eensame man en ’n enkellopende vrou ontmoet mekaar aanlyn, ontdek hulle is 98% gepas vir mekaar – totdat hulle op ’n eerste afspraak gaan. ’n Nag van makabere liefdespel volg, rituele van verleiding en pyn, terwyl beide raak verstrengel in ’n bedrieglike web.

“Wat buite bloei is ’n teken van wat binne bloei”.

Hoe ver is twee gefragmenteerde siele bereid om te gaan op hul soeke na heelmaking en die waarheid?

“’n Magiese verdoeseling van die verlede onder die illusie van ’n vergifnis wat nie bestaan nie.”

WOND is ’n nuwe plofbare, sielkundige riller uit die pen van bekroonde skrywer Charles J Fourie.

34 wond suidooster


INVISIBLE
Artscape-teater

Teks: Vinette Ebrahim
Regie: Christo Davids
Met Vinette Ebrahim
Vrydag 29 April 14:00-15:00
Saterdag 30 April 21:00-22:00
Sondag 1 Mei 12:30-13:30
Prys R110

“Mens, maar hulle word baie keer nie so gesien nie, want volgens baie, is hulle die skuim van die aarde”.

Die haweloses. Straatmense. Ons kyk verby, deur en oor hulle. Soms maak ons of hulle nie bestaan nie, want die reuk is bietjie erg en “dammit, hulle kon ten minste moeite doen om te was!”

So ontmoet ons vir Kathleen Marion Jacobs. Op ’n dag was dinge vir haar nie meer so helder nie.

Niks het meer sin gemaak nie. Sy’t begin hardloop. Weg van dit wat skielik vir haar vreemd was. Weg van alles wat vir haar bekend was. Familie, vriende, die skool waar sy ’n geskiedenis-juffrou was en die kinders wat vir haar gelag het.

Katie is ’n bekende bergie op Groentemarkplein, vol stories en streke. Almal ken haar en sy ken almal, en ’n “smile en ’n laggie kos jou niks, maar as dit ’n life lesson is, kos dit R5.00!”

34 vinette ebrahim in invisible


Katie se storie is nie uniek nie. Dit het al met baie gebeur, maar wat maak haar storie van op straat wees so besonders? Was dit die wegskeur as kind van Distrik Ses in 1966? Of was dit dalk die feit dat die Cape Flats soos ’n strop om haar nek gesit het tot sy nie meer asem kon haal nie? Of haar liefde vir geskiedenis? Of dalk omdat haar eie geskiedenis nie afgespeel het soos wat sy dit as ’n klein dogtertjie vooruit gesien het nie. Maar sy is nou hier, met geskiedenis en al. “Julle ken my, maar julle sien nie my siel nie!”

KRISTALVLAKTE
Fugard-teater

Teks: Amy Jephta
Regie: Marí Borstlap
Met Ilse Klink, Brendon Daniels, Roysten Stoffels, Bianca Flanders, Tarryn Wyngaard, Dean Smith, Gantane Kusch, Daniel Richards, Ruben Engel, Riaan Visman en Antonio Fischer
Vrydag 29 April 20:00-21:30
Saterdag 30 April 20:00-21:30
Sondag 1 Mei 15:00-16:30
Dinsdag 3 Mei 20:00-21:30
Woensdag 4 Mei 20:00-21:30
Donderdag 5 Mei 20:00-21:30
Vrydag 6 Mei 20:00-21:30
Saterdag 7 Mei 20:00-21:30
Prys R60, R90, R110

Uit die flenters van die dwelmoorlog smous Priscilla vir haar en haar gesin ’n lewe aanmekaar. Die gemeenskap bloei weens die snypunt van politieke ordes, bendebase en godsdiensleiers. Soms is daar eilandjies van vrede, soos in enige goeie oorlog. Maar oorlog is nes die liefde – dit sal altyd ’n uitweg vind. En solank die bloeddruk klop, sal Priscilla se smokkelhandel oorleef in die agterstraatjies van die geskiedenis.

Amy Jephta se epiese teaterstuk het ’n sterbelaaide rolverdeling: Ilse Klink, Brendon Daniels, Roysten Stoffels, Bianca Flanders, Tarryn Wyngaard, Dean Smith, Gantane Kusch, Daniel Richards, Dean Balie, Riaan Visman en Antonio Fischer. Dit vertel die storie van ’n gemeenskap, veel groter as die van individuele karakters.

Hierdie verwerking van Bertolt Brecht se Mutter Courage und ihre Kinder bied geen eenvoudige antwoorde nie, maar vlek sosiale werklikheid oop tot op die been.

Die Afrikaansvatter
Artscape-teater

Regie: Simon Witbooi
Met Simon Witbooi ‘Hemelbesem’
Saterdag 30 April 15:00-16:00
Prys R100

Die Afrikaansvatter sinspeel op Afrikaans as taal en die mense wat die taal besing in al sy vorme, binne verskillende kulture. Dit dien as ’n mikroskoop wat fokus op die variëteite van ons taal. Dit los die gehoor met die keuse om te bepaal of die seremoniemeester ’n Afrikaansvatter, of‘‘n Afri-kansvatter is.

Dis ’n eenman-komedie, met satiriese neigings so nou en dan.

DAVID KRAMER: ONDER DIE SPANSPEKGEEL MAAN
Artscape-operahuis

Musiekregie: David Kramer
Vervaardiger: DK Productions
Vrydag 29 April; 18:00-19:00
Prys: R80, R100, R150, R200

David Kramer gaan sy rooi velskoene blinkvryf, die snare van sy blikkitaar instem en sy porkpie-hoed styf op sy kop vasdruk, want dis weer tyd om musiek te maak dat die biesies bewe.

Met begeleiding van sy orkes en ’n paar gaskunstenaars, sal David van sy liedjies sing wat pas by die tema van die konsert: Onder Die Spaanspekgeel Maan.

David is bekend vir sy liedjies oor die Karoo en wat stories vertel, terwyl sy energieke persoonlikheid sorg vir heerlike vermaak.

Dis beslis ook nie elke dag dat jy die kans kry om hierdie gesoute kunstenaar in lewende lywe te beleef nie.

[caption id="attachment_244175" align="alignleft" width="667"]
34 david kramer hogg spier
Foto: John Hogg[/caption]

EMO ADAMS IS DUIDELIK
Artscape-operahuis

Teks: Emo Adams
Regie: Basil Appolis
Musiek: Emo Adams
Met Emo Adams en die Take Note Band
Vrydag 29 April 21:00-22:00
Prys R60, R80, R120, R150

Emo Adams is ietwat van ’n rare verskynsel in die vermaaksbedryf. Hy skryf en sing liedjies, skryf draaiboeke en vertolk self al die rolle. Boonop is hy ’n vervaardiger asook aanbieder en gryp ’n saal vol mense aan met skreeusnaakse komedie. Nogtans weier hy om toe te laat dat enige van sy vele godgegewe talente hom definieer.

Is Duidelik vat die gehoor op ’n musikale reis vol humor en lekker danstreffers, soos net Emo kan!

HUISTOE
Artscape-operahuis

Regie: Alistair Izobell
Musiekregisseur: Donveno Prins
Woensdag 27 April 19:00-20:00
Saterdag 30 April 11:00-12:00
Prys R80, R100, R150, R200

“’n Musikale viering van ’n hartroerende deel van ons kultuur en geskiedenis. ’n Kykie in ’n wêreld wat al vir sommige vergete is.”

Huistoe is ’n musikale fantasiegesprek tussen uiteenlopende siele: familielede, vriende, vreemdelinge wat woonagtig was in die destydse Distrik Ses. Op een of ander manier is ons almal verbind tot hierdie plek wat die regering ons nie wou gun nie.

Was dit dalk die enigste tyd en plek waar daar ’n werklike “rainbow nation” was. “Sometimes a thought like that could cross your mind...” Kom, kom ons gaan Huistoe!

Die Woema van ’n windgat wyfie
Artscape-teater

Teks: Barry van Rensburg
Regie: Andre Stols
Vervaardiger: Windgat Produksies
Met Shaleen Surtie Richards
Vrydag 29 April: 17:00-18:00
Saterdag 30 April: 18:30-19:30
Sondag 1 Mei: 10:00-11:00
Prys: R150
Ouderdomsbeperking: OT

Die Woema van ’n windgat wyfie is ’n eenvrou-komedie waar ’n slim-skerp teks en briljante spel mekaar ontmoet.

Dit volg in die suksesspore van Annale van ’n windgat, die Fiësta-bekroonde Ballade van ’n Banggat en Jou gat my Skat. Dis lewenswysheid verpak in ’n humor-houer.

Die alombekende en beminde Shaleen Surtie-Richards is die windgat wyfie. Sy bekyk die mensdom (hardegatte, slapgatte, banggatte en natuurlik windgatte) vanuit die unieke perspektief van die windgat vrou. Want: ’n windgat vrou is ’n unieke spesie. En ons weet mos hierdie windgat wyfie het woema.

Wil jy ontspan met skerp, skoon humor, en terselfdertyd die mens beter leer verstaan? Dan is Die Woema van ’n windgat wyfie jou show.

Kaartjies is beskikbaar landwyd by Computicket. Besoek www.suidoosterfees.co.za vir meer.