Logo
Hartklop slim bb
web uni tv guide

Hartklop

144Drama16 L

Strompelend, maar nie van drank nie – Hartklop

Nuus
25 Julie 2023
Vind meer uit oor die seldsame kondisie, "Auto-brewery syndrome".
Hartklop ep 2

Op Dinsdag 25 Julie om 20:00 is die tweede episode van kykNET (DStv-kanaal 144) se nuwe mediese drama, Hartklop, uitgesaai. In hierdie episode, wat tans op DStv Stream beskikbaar is, is een van die gevalle wat behandel word dié van ’n vrou wat voorkom of sy dronk is, maar sweer sy het nie ’n druppel alkohol oor haar lippe gehad nie. 

Die rol van dié vrou, Tessa, word vertolk deur Anika du Toit en sy het al interessante draaie in die TV- en filmbedryf gestap.

Ek het Drama by Kovsies in Bloemfontein studeer, grotendeels omdat ek lief is vir toneelspeel, maar ek het ook ’n droom gehad om agter die skerms te werk. Ná my studies is ek gekies om deel van die M-Net Magic in Motion-internskap te wees en het ek Johannesburg toe getrek en vir twaalf maande op verskeie produksies in verskeie departemente gewerk. 

Jy is deesdae ’n lynvervaardiger. Wat behels dit en waaraan het jy al gewerk? 

’n Lynvervaardiger moet die produksie se begroting beheer. Dit beteken jy moet met die tegniese span en agente onderhandel om elke persoon en verskaffer te kontrakteer en om seker te maak jou span vervaardig ’n topgehalteproduk vir die kliënt terwyl daar binne die begroting gebly word. Ek werk nou saam met die kreatiewe vervaardigers. Ek was onder meer die lynvervaardiger van Hartklop, die Netflix-fliek iNumber Number, die reekse Savage Beauty en Ludik. Ek het ook onlangs klaargemaak met The Masked Singer South Africa wat ’n lekker realiteits-TV-uitdaging was. 

Wil jy graag meer voor die kameras wees? En hoe het jy voorberei vir die rol van Tessa? 

Tessa was ’n verskriklike lekker karakter om te vertolk en al is sy net vlugtig deel van die episode, het haar reis groot op en af oomblikke. Ek sal beslis meer voor die kameras wil wees, maar as ’n mens eers met ’n projek begin, is drie of vier maande in ’n oogwink verby en dan begin jy aan die volgende een werk.

Dit was wonderlik om met Hartklop die geleentheid te kry om ’n karakter soos Tessa te speel. Wanneer ek vir ’n karakter voorberei, probeer ek myself natuurlik in haar wêreld plaas. Met Tessa het ek en die kostuumontwerper besluit dat sy van joga af gekom het wat haar fiks en gesond laat voorkom. En hoewel dit interessant is om ’n nuwe karakter te skep, dink ek tog altyd hoe ek self in daardie oomblikke sou reageer en dan vind mens ’n middelpunt tussen ’n natuurlik reaksie en ’n karakter wat anders loop, eet, praat en dink as jy. Wanneer die twee punte ontmoet, gebeur die magic van self. 

Wat is jou groot droom in die vermaakwêreld? 

Om een van die mees gesogte lynvervaardigers in ons land te wees – een wat die balans kan vind tussen geld spandeer en die storie wat saak maak; wat sal veg vir haar span en wat ’n veilige omgewing vir die akteurs en hulle kreatiwiteit skep. Ek wil nuwelinge oplei en die magic van ons bedryf wys. Dis harde werk en dis lang ure, maar ek wil ’n vervaardiger wees saam met wie mense wil werk. Ek wil ’n bydrae tot ons industrie maak, al is dit net om deel van ’n span te wees wat wonderlike stories vertel. 

Die mediese geval – koolhidrate maak dronk 

“Ons het die besonderhede verander, maar daar was werklik ’n geval van ’n intern wat haar hoof se instruksies verontagsaam het en toetse op ’n baie siek pasiënt laat doen het wat uiteindelik die pasiënt se lewe gered het,” sê Zoë Laband, skrywer van Hartklop

“Dit was ’n geval van outogistingsindroom (auto-brewery syndrome), ’n rare kondisie wat veroorsaak dat die inneem van koolhidrate ’n persoon so dronk soos alkohol kan maak.” 

Interessante feit: Een van die interns was amper Duits

 “Die weermag in Duitsland stuur van hulle leerlingdokters na Suid-Afrika – Baragwanath in Soweto en Groote Schuur in Kaapstad – vir opleiding, aangesien daar soveel messteke en koeëlwonde is. Ons het in ’n stadium oorweeg om een van die karakters Duits te maak,” sê Zoë. “Ons het met ’n Duitse student gepraat en hy het vertel dat daar in Suid-Afrika gepraat word van "sien een, doen een, leer een”. Met ander woorde, jy sien een keer hoe dit gedoen word, dan moet jy dit self kan doen en dan moet jy iemand anders kan leer om dit te doen. Dit is uit noodsaak gebore omdat daar nie genoeg opgeleide dokters is nie en baie pasiënte sal sterf indien die interns nie inspring en help nie. In Duitsland moet hulle eers ten volle gegradueer en jare se internskap doen voor hulle sulke prosedures mag doen. Hier word ons interns aan die diepkant ingegooi, iets wat hy sê skrikwekkend, ietwat onverantwoordelik en ook totaal nodig is.” 

Skakel elke Dinsdag om 20:00 in vir 'n splinternuwe episode van Hartklop. Dié reeks kan ook gestroom word op DStv. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk, #Hartklop te gebruik.