Logo
OME S2 Slim BB Web Uni
web uni tv guide

Op My Eish!

144Realiteit13 L

Soene, drama en uiteindelike liefde

Nuus
07 Julie 2022
Niemand het dít sien kom nie! Kykers het gedink Francois Jacobs se soeke na liefde op die laaste episode van Op my eish! gaan ’n uitdaging wees, want hoe kies mens tussen drie vroue wat almal op jou verlief is?
Nykie en Francois SP BB

Alles het goed gegaan met die laaste afsprake en elkeen van die drie vroue – Leyla, Claudia en Nykie – het spesiale aandag by Francois gekry. Die vroue het hulle beste voetjie voorgesit, vertel wat in hulle harte aangaan en ja, gewys hoe hulle voel.

Francois het erken dit gaan ’n moeilike besluit wees, maar ook teenoor sy wingman Schalk Bezuidenhout gebieg dat daar wel een vrou is wat ’n kortkop voor is.

Die kuier saam met vriende het goed afgeloop en toe is dit tyd om na die hotel terug te keer waar Francois en die drie vroue gebly het. En dis daar waar dinge op dramatiese wyse uitgedraai het ... Francois het vir Nykie na sy kamer genooi, iets wat teen die reëls van Op my eish! is, en toe Leyla en Claudia dit uitvind, was hulle minder as beïndruk. Hulle het om die waarheid al twee vir Francois die volgende dag duidelik gestel dat hy nie hulle respek verdien nie en al twee het die pad gevat.

Francois het erken hy het hulle harde woorde verdien, maar ook gesê dat Nykie wel die een was wat hy wou kies.

Dis nou ’n hele paar weke ná die dramatiese verfilming van die finale episode en Francois en Nykie is steeds bymekaar. Sou hulle ander besluite geneem het?

“Absoluut niks anders nie,” sê Francois. “Alles het gebeur soos dit moes.”

“Ek het by Op my eish! ingestap met ’n oop hart en geen verwagtinge nie,” sê Nykie. “Ek het elke dag iets nuut van myself geleer en die hele proses so geniet. Ek glo alles gebeur vir ’n rede en daarom sou ek niks verander nie. Alles het gebeur soos dit moes en ek is so dankbaar daarvoor.”

Wat was hulle onderskeie hoogtepunte?

“Om soveel amazing mense te ontmoet en al die ongelooflike memories te kon deel,” sê Francois. “Maar meer as enigiets, dat ek my beste vriend en lewensmaat ontmoet het.”

Nykie stem saam. “My hoogtepunt was al die mense wat ek ontmoet het, insluitende die liefde van my lewe.”

Hulle het nog kontak met van die ander vroue wat deelgeneem het. “’n Paar van hulle is vandag my beste vriendinne,” sê Nykie.

Wat is liefde?

“Liefde is daai kielie-gevoel wat in jou kriewel van jou kroontjie tot jou kleinste toontjie,” sê Francois. “Dit los jou met ’n huppel in jou stap waarookal jy gaan, jou huilerig laat voel as jy nie naby haar is nie en soos ’n kind voor Kersfees laat voel as jy haar weer sien. Liefde is Nykie.”

“Liefde is nie oppervlakkig nie, dit is onvoorwaardelik,” sê Nykie. “Ek glo dat jy op jou eie kan lewe en self gelukkig kan wees, maar ware liefde met iemand anders is as jy daardie geluk wil deel. Dis om na iemand te kyk en te sien dat jy die res van jou lewe saam met hulle kan wees, deur die goeie en die slegte tye. Vir my is ware liefde die persoon by wie jy die veiligste voel, maar saam met wie jy op die grootste avontuur is. Die liefde wat Franna my wys, is die tipe liefde wat ek nog altyd net van gedroom het.”

Op my eish! is op DStv Catch Up beskikbaar.