Logo
web uni tv guide

Bravo!

144GlansjoernaalPG13

Ons Sprokiesbruilof: ’n Professionele trougas

Nuus
22 Junie 2017
Reynard Slabbert gesels oor deftig lyk, bruilofte en “plus ene”.
OSB Reynard

kykNET-kykers het nou al bruilofgaste van omtrent alle tipes op Ons Sprokiesbruilof gesien. Bravo! se Reynard Slabbert sal natuurlik deurgaan as ’n bruilofgas wat jy altyd deur ’n ring kan trek.

Wat is jou gunsteling deel van gereedmaak vir ’n glansryke funksie?

“Ek geniet nogal die aantrek en die regmaak daarvoor. Baie keer as mense vir my iets interessant gee om te dra – iets wat ek nooit sou gedra het nie – dan kry ek komplimente daaroor. Dit is nogal lekker.”

Van watter deel van die voorbereiding hou jy die minste?

“Omdat ek so gereeld na glansgeleenthede toe gaan, moet ek gereeld klere kry, want ek kan nie dieselfde lyk nie. Die slegste deel is om al die klere bymekaar te sit. Dit vat nogal baie tyd en baie ryery van my kant af.”

Na watter deel van ’n bruilof sien jy die meeste uit?

“Met ’n troue, kuier jy skaars met die bruidspaartjie, want hulle is so besig. Om die vriende weer te sien, is die grootste ding. Dit is soos ’n reünie, so ’n mens wil moeite maak om daar uit te kom. “

Wat by ’n bruilof is nie so lekker vir jou nie?

“As mense verskriklike lang speeches maak. Die lekkerste troues waar ek al was, was dié met die kortste toesprake, waar alles van die hart af kom.”

Moet jou metgesel goed kan meng met die ander mense by die troue?

“Absoluut. As jy nie in ’n verhouding is nie, is selfs jou beste vriendinne nie noodwendig ’n goeie match vir ’n troue nie. Jy gaan soms moet wegbreek, dan gaan die [metgesel] moet kan meng, anders gaan dit moeilik raak vir die persoon en vir jou.”

Moet jou metgesel goed kan dans?

“Ja. Later in die aand, gaan jy jou chicken dance wil uitruk en die persoon gaan jou moet kan back.”

Moet jou metgesel aantreklik wees?

“Dit is nooit ’n slegte ding nie. Nee, dit maak nie regtig saak nie. Dit gaan maar net daaroor dat mense hulleself geniet.”

Het jy enige wenke vir gesprekvoering, as ’n mens aan ’n tafel sit waar hy of sy nie almal ken nie?

“Moenie politiek gesels nie. Vra maar net vrae. Ek dink ’n mens moet pasop om te wag dat mense jou vrae vra, want oor die algemeen is mense skaam as hulle in so ’n groep saamgegooi word.”

Ons Sprokiesbruilof se finale episode word Donderdag 29 Junie om 20:30 op kykNET (kanaal 144) uitgesaai. Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).