Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

Oktober sorg vir hope drama op kykNET

Nuus
18 September 2020
Daar’s hope drama, intrige, opwinding en ligte vermaak wat op kykers wag vanaf die laaste week van September.
Main 1600x640 V3

Hier is die splinternuwe reekse waarna kykers kan uitsien:

Geregte en genot, geboue en geskiedenis, geesdrif en gedagtes – dit is alles op die spyskaart in Toegang, ’n splinternuwe leefstylprogram met Nataniël as gasheer en kok wat op 5 Oktober om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.

Net Koffie is ’n nuwe leefstylprogram net oor koffie wat op 3 Oktober om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, met Henriëtte Marx as aanbieder.

Die Uitnodiging begin ook Dinsdag 6 Oktober om 21:00. Dis is ’n TV-reeks wat familietwiste probeer oplos, vriendskappe wat verbrokkel help heelmaak, en selfs (soms) aartsvyande weer met mekaar laat praat.  'n Bemiddelaar gee 'n ernstige probleem aan wat diep pla.  Aanbieder Cato Bekker besoek die vegtende partye.  Gaan hierdie verhale in versoening eindig? Kyk en sien.

Maak ook gereed vir die ligte drama, Ekstra Medium, vanaf 22 September 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Met bekendes soos Cintaine Schutte, Wilhelm van der Walt, Llandi Beeslaar en Marvin-Lee Beukes.

Bly direk daarna ingeskakel vir die nuwe reeks uit die pen van Louis Pretorius (Die Boekklub en Fynskrif), Kompleks, wat 22 September 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. Kyk uit vir Armand Aucamp, Roeline Daneel en Crystal Donna Roberts. Koos Kombuis is die verteller.

Hierdie programme keer terug vir nog ‘n seisoen op kykNET (DStv-kanaal 144):

Met meer as genoeg flieks, kortfilms en dokumentêre reekse, is fliekNET (DStv-kanaal 149) beslis ’n kanaal waarop jy lekker in Oktober kan boer. Die kortfilmreeks Ons stories, met stories uit ons eie Suid-Afrikaanse bodem, is ’n moet, asook Daar doer in die fliek wat die geskiedenis van die filmbedryf in Suid-Afrika vertel. Trefferflieks van ’n paar jaar gelede soos Hoofmeisie, Strikdas, Paljas en Semi-soet is op die spyskaart, asook onlangse treffers soos Wonderlus, Nul is nie niks nie, Vir altyd, ’n Man soos my pa en Dis ek, Anna.

Goeie nuus vir kykNET&kie-kykers is dat Arendsvlei vanaf 1 Oktober 20:00 nou vier dae ‘n week in plaas van drie dae ‘n week uitgesaai word! En dit beteken natuurlik net nóg drama in die Vlei. Kaptein Krige (Brendon Daniels) maak ’n draai in Arendsvlei – hy het ‘n belangrike taak om uit te voer...

Nog goeie nuus is dat die gewilde Afrikaanse geselsprogram, Tussen Ons, binnekort met méér episodes per week, ’n nuwe tydsgleuf en ’n vars aanslag spog. Dit sal van 5 Oktober van Maandae tot Donderdae om 17:30 op kykNET & kie uitgesaai word in plaas van Donderdae om 20:00.

Die Spreeus is ook vanaf 3 Oktober 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) te sien. Week ná week ondersoek twee speurders van die Spreeus-ondersoekafdeling, Bas Koorts en Beatrice Mack, ’n ander fenomeen en volg hulle misdaad se spoor tot in ander wêrelde. Daar word bekende verhale uit die Suid-Afrikaanse kultuur gebruik, stories soos die een oor die spookvrou van Uniondale, die tokoloshe en selfs ’n huldeblyk aan CJ Langenhoven.

Daar is weer musiekprogramme te kies en te keur op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146). Jakkie Louw – 20 Jaar (2 Oktober 21:00) en Jannie du Toit se Kiekies: Lucas Maree se liedjies (16 Oktober 21:00) is twee van die hoogtepunte.

’n Ander aanbieding wat beloof om baie gewild te wees, is André Venter in Worship op 25 Oktober 17:30 op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146). In André se eie woorde: “Hierdie projek is my dankie aan die Suid-Afrikaanse publiek. Dié program is ’n oomblik van worship uit ’n plek van groot dankbaarheid, maar ook ’n plek waar ek gestuur word om mense te bedien.”

Op kykNET Lekker (DStv-kanaal 148) kan kykers heerlike kykgenot verwag. Koortjies met Jonathan Rubain, word Sondae 19:00 vanaf die begin van die reeks uitgesaai. Dit geld ook vir Arendsvlei (vanf 5 Oktober 20:00), Maak My Famous (vanaf 11 Oktober 17:30) en Tussen Ons (vanaf 5 Oktober 17:00). Nog ‘n groot bederf is Alie Barber, wat vanaf 3 Oktober 19:30 uitgesaai word. Alie is ‘n goedige haarkapper wat ‘n tipiese barbiersalon in Kaapstad aan die gang hou. Sy regterhand, Mr Min, liewe Margie en koerantverkoper Lovebite, sorg vir skaterlag genot, afgewissel met musieknommers geskryf deur Taliep Petersen.

Groot nuus – een van die gewildste kykNET-dramas van ‘n paar jaar gelede, Vallei van Sluiers, saai vanaf 7 Oktober 20:30 op kykNET Lekker uit. Vallei van Sluiers is die storie van ‘n paar bekende Bolandse vrugteboerfamilies, die De Bruyns, die Roberts’e en die Van Rhijns. Skakel in om Tinarie van Wyk-Loots in haar eerste TV-rol te sien. Bekendes soos At Botha, Stian Bam, Erica Wessels, Nico Panagio en Lida Botha is ook in die reeks te sien.