Logo
Arendsvlei S5 Slim BB
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

Nuwe verhoudings, koue liefde ontwikkel in Afrikaanse sepies in September

Nuus
30 Augustus 2023
Dis heerlike lente, maar die winter bly nog in sommige karakters se harte...
sepie

Arendsvlei

Asof Beatrice nie al genoeg stres in haar lewe het met Abigail en Clint nie, sit sy nou met groot probleme by die skool. Verdagte mense begin die skool bietjie teister en net wanneer Beatrice dink alles is verby, gebeur daar nog iets, slag na slag. Die Cupido’s probeer sinmaak van alles, maar hulle het geen idee dat Desmond Galant en sy bende agter alles sit nie. Gaan die skool gered kan word ná Desmond se tweede probeerslag om die skool oor te neem? Tussendeur alles dit moet Beatrice ook vir Clint ’n finale antwoord oor hul verhouding gee. Is daar trouklokke wat lui?

Gepraat van liefde, Hein is weer besig met iets misterieus. ’n Vreemdeling probeer in kontak kom met Hein en alhoewel hy dink dit is vreemd, raak die situasie net nog vreemder. Yvette en Ruby is bekommerd oor Hein se doen en late, maar hy is net te verlief en gelukkig om na enige iemand te luister. Kyk, ons is gewoond aan Hein en sy vreemde denke, maar hierdie een moet die koek vat. Want twee misterieuse mense saam, kan net vir hope drama sorg. 

Intussen moet Bianca steeds met haar suster se doen en late opgeskeep sit. Zyla plant allerhande saadjies in beide Bianca en Thys se kop oor haar sake-aanbod. Maar as hulle maar net weet wie saam met Zyla konkel… Saartjie kom vinnig agter iets omtrent haar tannie is nie pluis nie en sy stel self ondersoek in. Maar soos Saartjie ondersoek instel, so besef Zyla sy hou haar dop. Die vraag nou is: Gaan Zyla wegkom met haar idee sonder om uitgevang te word?

Arendsvlei is weeksdae om 19:30 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Suidooster

Met die koms van ’n nuwe seisoen, is dit nie noodwendig ’n kwessie van die heerlike lente en die winter is verby nie... Ja, Ruiterbosch het omtrent ’n stormagtige winter agter die rug en die donker wolke maak plek vir sonskyn, maar in die skadu’s broei daar onheil...

Boonop blyk dit dat van die inwoners se hegte vriendskappe met mekaar iets van die verlede is. 

Die Daniels-gesin kom voor ’n groot toets te staan soos Tyron, Lee-Ann en Brendan se wêreld in ’n oogwink verander en ’n onsekere toekoms hulle in die gesig staar. 

Terselfdertyd besef Siya en Danni dat ouerskap uitdagend bly, terwyl Carlo vir Bennie vra om ’n geheim oor iets te hou, wat groot moeilikheid kan beteken as dit op die lappe kom. 

Nazeem het ’n nuwe onderduimse plan, en oudergewoonte gee hy nie om wie in die proses seerkry nie. Daar is ook nuwe spanning in die Samsodien-gesin en Rhafiek sit dalk met die gebakte pere...

Susan kry ’n opwindende nuwe loopbaangeleentheid, terwyl dit lyk of daar weer liefde vir Kate gaan blom. Rugbykoors loop ook hoog in Ruiterbosch en van die inwoners gaan maak selfs ’n Franse draai om die Bokke te ondersteun.

Suidooster is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders

Wanneer Daleen besef sy en haar kinders kan nie permanent terugkom Suid-Afrika toe nie, oorweeg Tertius om ’n groot stap te neem. Bets daag op, en Naomi wil haar help – tot Louis se groot ontsteltenis. Nicolette maak ’n skokkende ontdekking tydens die Oorplantingseenheid se bekendstelling wat traumatiese gevolge het. Louis moet slegte nuus aan At oordra, en die Koster-familie is baie gespanne.

At veg desperaat om iemand aan die lewe te hou, en Karen ontferm haar oor ’n nuwe pasiënt, Braam. Tracy moet afskeid neem van iemand, en ’n verhouding wat ’n krisispunt bereik het, lyk of dit gaan oorleef. Tracy is geskok wanneer Binneland Stereo haar geheim verklap. Elise is terug en sy vryf ’n Binneland-verpleegsuster verkeerd op. Nicolette begewe haarself in ’n gevaarlike speletjie, en Thalia ontvang slegte nuus.

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Diepe waters

Met die lente in die lug is dit tyd vir 'n nuwe begin en om eindes af te rond, maar die konstante probleme in die gemeenskap maak dinge nie maklik om die lente te waardeer nie.

Wim sit met die hande in die hare wanneer dit duidelik is dat sy huwelik met Rose in gevaarlike waters bereik. Gaan Wim sy huweliksbootjie kan red - en wil hy? Want die gras is dalk groener aan die anderkant van die draad, maar daardie einste stukkie grond kom ook met sy eie probleme...

Lettie het 'n ou probleem wat weer opduik, maar vir een of ander rede kan sy net nie die probleem ordentlik uitsorteer nie. Bloed is dalk dikker as water, maar hoeveel pyn en lyding moet 'n mens verduur voor daardie bloed op dun ys begin val?

Karla, wat reeds talle probleme hierdie jaar uitsorteer het (meestal op haar eie), is nou op 'n lekker plek in haar lewe. Ongelukkig ontdek sy ook dat sy 'n groenoog monstertjie huisves – en sy het geen idee hoe om daardie monstertjie soos mis voor die son te laat verdwyn nie... Hoekom sou daardie monstertjie se teiken dan nou juis Charity wees?

Zelda en Bybie kry weer te doen met 'n monster – maar nie 'n figuurlike een nie. Dit is een van vlees en bloed, en nader aan die hart, as waarmee hulle gemaklik is. Wanneer dit nie net hul lewens is wat bedreig word nie, gaan die twee vinnig moet dink om seker te maak dat die skade wat aangerig word nie ook iemand se dood beteken nie.

Die enigste een wat lyk asof hulle voluit vir die lewe en die liefde gaan, is Pam. Pam ontmoet iemand met wie sy baie in gemeen het, en Jaco lyk soos die prins op die wit perd wat haar nuwe lewe gaan voltooi. Is hierdie die sprokies-einde waarop Pam hoop, of is hier 'n nagmerrie wat wag om te gebeur?

Diepe Waters is Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerke #DiepeWaters, #Arendsvlei, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.