Logo
Leef jou Reis
web uni tv guide

Leef Jou Reis

144LeefstylPG

Nuwe seisoene vir geliefde reekse

Nuus
17 Maart 2021
Vier reekse maak in April hulle terugkeer met splinternuwe inhoud.
afp bb

Daar is ‘n paar reekse wat so deel is van kykNET soos wat braaivleis deel van die Suid-Afrikaanse kultuur is. Vier van hierdie reekse maak in April hulle terugkeer met splinternuwe inhoud.

Leef jou reis

Pak jou tas en kom toer saam na van die mooiste plekke. Gerrie Pretorius en sy span het vir die nuwe reeks in Suid-Afrika asook na die buiteland gereis om weer vir ‘n opwindende reisreeks te sorg.

Plaaslik gaan kykers sien wat die Addo Nasionale Park het om te bied asook wat jy alles moet weet as jy die Otterwandelpad wil aandurf. Die span het ook hulle 4x4 gepak en wys onder meer hoe mooi die Baviaanskloof is en hoe Bird Island se 250 000 wit malgasse lyk. Daar wag ‘n eksotiese kuier in die Maldives en ‘n kykie na die tulpe van Amsterdam.

Leef jou reis begin op 3 April om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

La’t wiel

Waldo van der Waal, een van die aanbieders van La’t Wiel, sê kykers kan ‘n heel paar veranderinge verwag, onder meer ‘n nuwe mede-aanbieder – Weza Matomane. “Ons beplan ook om die skoner geslag in die nuwe reeks in te sluit,” sê hy.

Een van die opwindende programme in die nuwe reeks, is waar die La’t wiel-span die nuwe Land Rover Defender op die langpad gaan uittoets het saam met die internasionaal bekende ontdekkingsreisiger Kingsley Holgate. “Ons was ook agter die stuur van Toyota se imposante GR Supra en het ook ’n string nuwe bakkies onder hande geneem,” sê Waldo. 

Die nuwe reeks is grotendeels in Suid-Afrika verfilm. “Ons was by Moolmanshoek in die Vrystaat en het al die pad langs die Lesotho-grens gery. Ons was ook in die Drakensberg met twee van Suid-Afrika se gewildste bakkies en na die Wildekus met Ford se nuutste bakkie. Een van die internasionale reise was toe ons die Dakar-veldtydren in Saudi-Arabië bygewoon het,” sê hy.

La’t wiel begin op 6 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Safari 4x4 Roetes

Safari 4x4 Roetes vier vanjaar hul 14de verjaarsdag met ‘n reeks waarin hulle ‘n lang safari binne die grense van Suid-Afrika gedoen het.

“Ons het ‘n ongelooflike mooi land en daarom kies ons koers na die Wes-Kaap en Oos-Kaap se Wildekus onderskeidelik,” sê die aanbieder, André de Villiers. “Die span ry hierdie jaar met die nuwe VW Amarok V6 190kW voertuie wat deur SEIKEL 4x4 tot die tande toe toegerus is.”

André het besluit om weer die hengelaar Petri de Wet saam te nooi om hom geselskap te hou. Benewens al die 4x4-wenke wat André gaan deel, gaan hy ook wys en vertel wat hy deur die jare as kamper geleer het. Petri gaan behoorlik getoets word om die moeilike en intimiderende hindernisse en terreine van die Wildekus met ‘n 4x4 aan te durf. Owen Richter, ‘n Wildekus-toergids, deel ook sy kennis van dié merkwaardige deel van ons land.

Safari 4x4 Roetes begin op 12 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Tyd met Aleit

Tyd met Aleit se sesde seisoen skop in April af met ‘n splinternuwe baadjie. Aleit gaan na klein dorpies in die Wes-Kaap reis om inspirasie te soek en bekendes en minder bekendes gaan hulle stories van hoop deel. Die vervaardiger en regisseur, Stefan Enslin, vertel meer.  

Wat kan kykers van die nuwe reeks verwag? 
Hulle kan verwag om die ware Aleit Swanepoel te ontmoet. Dit is Tyd met Aleit soos hulle hom nog nooit voorheen gesien het nie met ‘n gemakliker aanslag.

Wie is die bekendes in die nuwe reeks?
Leon van Nierop, Sandra Prinsloo, Neels van Jaarsveld, Frank Rautenbach, Pietie Beyers en Bertus Basson ‘n paar te noem.

Wat is anders aan hierdie reeks as die vorige reekse? 
Aleit dek minder tafels en besoek klein Wes-Kaapse dorpies vir ekstra inspirasie. Hierdie seisoen fokus baie op stories van hoop. Ons leer vir Aleit werklik ken. Kykers hoef egter nie bekommerd te wees dat daar nie mooimaak-segmente is nie, want dit is daar gewis. Hulle gaan aangenaam verras word met wat hy vermag.

Waar het julle oral opnames gemaak? 
Riebeek-Kasteel, Matjiesfontein, Kalkbaai, Franchhoek, Greyton, Paternoster, Noordhoek, Tulbagh en Wolseley is van die plekke wat ons besoek het.

Tyd met Aleit begin op 8 April om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)