Logo
Arendsvlei S6
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

Arendsvlei-kykers bedroef ná geliefde karakter sterf

Nuus
13 Februarie 2024
Vir Megan Saayman, wat die rol van Ayesha vertolk, sal die tye tussen verfilming die grootste gemis word.
Ayesha in Arendsvlei

Die gesegde “alles kan ’n oogwink verander” het vir die Arendsvlei-gemeenskap ’n bitter werklikheid geword in die afgelope paar dae toe Langes per ongeluk sy geliefde vrou, Ayesha, doodgeskiet het.

Langes (Bobby Stuurman) het al lank sy mes in vir Bompie (Jarrid Geduld), en alhoewel hy ’n ruk gelede besluit het om vir Bompie te ignoreer, het nuwe inligting hom laat rooi sien. Eva (Devonecia Swartz) het tydens Langes se tronkbesoek laat val dat Bompie haar gemanipuleer het om haarself aan die polisie oor te gee. 

Dit was vir Langes die laaste strooi. Bompie se talle dreigemente, Janice se ongeluk en nou sy eie suster wat in die tronk sit, het Langes laat besluit tot hiertoe en nie verder nie.

Langes se familie en vriende het hom probeer keer, maar hy het hulle soos ’n stopstraat geïgnoreer en Arendsvlei platgery op soek na Bompie. Maar toe hy uiteindelik vir Bompie by die Mortlocks kry, het hy nooit gedink sy lewe sal so drasties verander nie. ’n Skietgeveg het tussen dié twee uitgebreek. Ayesha (Megan Saayman) het op die verkeerde tyd ingestap en is deur Langes doodgeskiet.

Ayesha se janazah (begrafnis) is op dieselfde dag gehou in die teenwoordigheid van haar familie en vriende.

“Dit was vir my ’n groot eer om deel te kon wees van die Foster-familie. Ek het so baie van Jody Abrahams en Crystal Donna Roberts geleer. Ek oordink baie dinge, maar met Jody in die omtes het jy nie tyd om te veel dink nie – jy laat gaan net en leef in die oomblik,” sê Megan oor haar tyd by Arendsvlei.

Vir Megan sal die tye tussen verfilming die grootste gemis wees. “Tussendeur tonele skiet, was die lekkerste tye van Arendsvlei. Almal sit bymekaar en vertel stories net om tyd verby te laat gaan. Mens sal die snaaksste stories hoor, maar ek is nie iemand wat baie praat nie. So, ek het geluister en baie geleer,” vertel sy.

Nie net moet die verpletterde Langes nou rou nie, maar hy moet ook versigtig wees dat niemand uitvind wie vir Ayesha geskiet het nie. Sal Bompie sy geheim bewaar?

Skakel elke Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) in om te sien wat die pad vorentoe vir Langes inhou. Arendsvlei is op DStv Stream beskikbaar.