Logo
web uni tv guide

Safari Roetes

144ReisprogramPG13

"Hier gaan ons al weer" se Petri terug op kykNET met 4x4-reeks – Safari Roetes

Nuus
28 Junie 2023
In "Safari Roetes" vat Petri die pad saam met sy mede-aanbieder, Vivian Torlage, wat ’n kampspesialis is.
Safari Roetes Article Image

Buitelewe-entoesiaste kan uitsien na kykNET se nuwe reisprogram Safari Roetes met Petri de Wet en sy span wat jou op ’n toer na Suid-Afrika se weggesteekte stofpaaie en ander asemrowende roetes gaan neem.

Petri reeds ’n ou bekende vir kykNET-kykers as aanbieder van die gewilde hengelprogram Hier gaan ons al weer.

In Safari Roetes vat Petri die pad saam met sy mede-aanbieder, Vivian Torlage, wat ’n kampspesialis is. Petri en Vivian se vroue, onderskeidelik Tanya en Mariaan, toer ook saam, terwyl Jannie Rykaart, ’n 4x4-gids, die span in sommige van die episodes leiding gee.

Petri, wat een van Suid-Afrika se voorste hengelaars is en met Protea-kleure vir dié sport spog, toer omtrent sy hele lewe lank reeds deur Afrika, en die afgelope 22 jaar doen hy dit op ’n professionele grondslag.

Hy sê dat hy Safari Roetes aangepak het om vir kykers die kans te gee om van hul alledaagse lewe en die kantoor te ontsnap terwyl hulle dalk ook geïnspireer word om sélf op ’n verkenningstog te gaan.

“Die plekke waarheen ons ry en die plekke wat ons ontdek, slaan jou asem keer op keer weg,” sê Petri.

“Daar is soveel hoogtepunte: van die Wes-Kaap se pragtige natuur tot Lesotho se berge met hul sneeukomberse.”

Volgens hom was veral die Bastervoetpadpas in die Oos-Kaap, wat een van die land se uitdagendste bergpasse is, onvergeetlik en ’n móét-sien.

“Dié pas is eintlik as onrybaar vir karavane verklaar, maar ons het daarin geslaag om dit in baie moeilike omstandighede met mis en reën oor te steek. Dis definitief iets om te sien.”

Deur die loop van die reeks kruis die Safari Roetes-span se paaie ook met ’n handvol bekendes, soos die sangers Ilan van Staden en Fatman.

·      Safari Roetes begin Maandag 10 Julie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).