Logo
Arendsvlei S6
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

‘n Koue Junie lê voor met vuurwarm-vermaak in jou gunsteling- programme

Nuus
01 Junie 2023
Raak gemaklik voor die televisie met ‘n beker warm sjokolade en ‘n snoesige kombers.
Junie Sepiehoogtepunte Article Image

Arendsvlei:

Hierdie maand in die Vlei is dit skokke, trane, desperaatheid en toewyding wat wag op die kykers. Vir maande het Rachel die kykers warm onder die kraag gehad, maar is dit die maand wat sy eindelik uitgevang word? Anthony is geskeur tussen sy vrou en die Cupido’s en hy kan dit nie meer hanteer nie, so hy probeer iets ondenkbaar aan homself doen. Maar sy poging faal en hy moet weer almal in die oë kyk. En dié keer kom die hele waarheid uit – en Beatrice is woedend vir Anthony. Sal Anthony se nuwe familie hom ooit kan vergewe?

Terwyl Rachel se man in die hospitaal lê, gaan sy voort asof niks aangaan nie. Dinge is nie lekker tussen haar en Desmond nie, so sy besluit om die plan bietjie te verander sodat dit vir haar werk. Rachel kry dit reg om Bompie uit die tronk te kry – en sy weet Desmond sal rooi sien as Bompie uit is! Intussen vind Rachel skokkende nuus uit wat haar hele wêreld omvergooi. Maar Desmond weet hoe om dié speletjie te speel, so Rachel se poging om ’n stappie voor Desmond te wees, het in ’n ramp geëindig.

Nóg ’n Arendsvleier word uit die tronk vrygelaat dié maand. Langes is nou weer buite en die eerste ding wat hy wil doen is dinge met Ayesha regmaak. Ayesha vind dit moeilik om terug te gaan na normaal, maar Langes gee nie op nie en kry eindelik ’n kans om Ayesha uit te neem. Langes sien dié keer dinge anders en wil dinge op die regte manier doen – volgens die Islam-geloof. Ayesha en Langes is albei skrikkerig oor haar ouers se reaksie, maar ons sal maar moet wag en sien of dié paartjie eindelik hulle sprokiesverhaal kan begin.

Binnelanders:

Terwyl Steve en Andrea alles in hulle vermoë doen om vir Danny op te spoor, raak Delia onrustig. Twee verhoudings word beëindig, en Binneland neem afskeid van ’n verpleegsuster. Nicolette floreer in die teater, en Annelize, Liam en Karen begin wonder oor ’n moontlike verhouding. 

Tracy ontvang ’n huweliksaanbod, en Conrad smeek Nicolette om ’n geheim te bewaar – maar kort voor lank moet hy oop kaarte met sy kollegas speel. Karen se nuwe voorkoms slaan Liam se voete onder hom uit, en ’n liefdesverklaring vind uiteindelik plaas! Liam se ma, Birdy, kom kuier, en Jazzy word inderhaas by Binneland opgeneem – sonder haar pasgebore baba…

Diepe Waters:

Junie in Diepe waters gaan vertroue na die oppervlak bring, want die diep donker waters waarin ons geliefde karakters vaar is definitief nie vir sissies nie!

Pam moet besluit waar sy inpas, want Mamma Zelda en Pappa Gys se oorlog vat opnuut vlam om die liefde van hulle gesamentlike kind te wen. Maar Pam gaan beslis eers moet besluit hoe sy in die nuwe familie-dinamika inpas, anders gaan sy soos 'n vis op die dorre aarde beland. Boeties Jacques en Rossouw het uiteenlopende gevoelens oor die nuwe toevoeging tot die familie, terwyl Mamma Zelda soos 'n tierwyfie baklei om kosbare Pammy aan die regte kant van die geskiedenis te hou. En Pappa Gys? Gysie werk met 'n plan, maar nie almal is so seker of sy plan gaan vrugte afwerp nie. Is Pam net nog 'n pion in die koue oorlog tussen eertydse verliefdes? Of is sy 'n meisie wat weet wat sy wil hê – en dit kry?

Nog 'n ysteraster wat moet besluit waar sy in die lewe inpas, is Meghan. Sy onthou baie meer as wat sy eers toegegee het oor haar ma se dood, en wanneer die waarheid haar soos yswater in die gesig tref,  is daar geen keer aan haar nie. Want wat reg is, is reg - maar wat sleg is, moet weg! Hoe gaan haar trippie van gister se onthou haar huidige plekkie in die son beïnvloed – en hoe gaan dit Jacques affekteer?

Karla se hart klop tjoklits wanneer sy naby aan een man is, maar dit klop ook 'n bietjie 'custard' wanneer sy naby aan 'n ander is. Karla gaan vinnig moet besluit of sy 'n tjoklits- of 'custard'-meisie is, want om 'n aptyt op te wek vir beide kan net moeilikheid veroorsaak. Dit raak nog moeiliker wanneer sy saam met beide teikens van haar hart moet saamwerk om 'n sukses te maak van 'n talentaand – dieselfde talentaand waarop Mamma Sanet haar stempel wil afdruk.

Ja, Sanet is terug,  maar of dit die oue of die nuwe een is, sal net die tyd leer. Sanet is gereed om oor die egskeiding te praat, maar of dit 'n vredevolle gesprek of 'n volskaalse oorlog gaan wees, is net iets wat Sanet sal kan besluit. Wanneer sussie Anja wel op haar knoppie druk om te help met 'n baie moeilike en pynlike ding, is dit net Sanet wat ook sal weet of sy daardie oproep gaan beantwoord. 

Iemand wat duidelik al die antwoorde het is Gys – en hy hou nie daarvan om in die donker gelaat te word oor enige iets nie. Wanneer dit dus tyd raak vir beide Jacques en Meghan om hul waarhede te spreek, is dit dalk net een te veel vir Gys (wat al deur diep waters gegaan het die laaste paar maande). Wat gaan Gys doen? En neem hy die regte besluite? Of veroorsaak hy net nog groter moeilikheid met die manier waarop hy reageer op waarhede? Dis altyd maklik om ander se waarhede te oordeel, selfs al het 'n mens net soveel om te verloor as te wen...

Suidooster:

Siya se gebede word verhoor om die kerk se finansies ’n hupstoot te gee, wanneer ’n ander charismatiese prediker, Orpa, die kerksaal wil gebruik vir haar klein en intieme bediening. Maar is dit regtig soos manna uit die hemel vir die kerk? Die Samsodiens sukkel steeds om aan te beweeg na AB se skokdood, maar dit begin darem blyk dat Rhafiek en Bianca besef dat familie al is wat regtig saak maak. Die Oos Wes apteek word ook aan Aiden verkoop, maar wie is sy geheimsinnige “silent partner”? Rita begin ook weer haar voete in Ruiterbosch vind en ontmoet vir Ezra, ’n saggeaarde man wat ’n galery besit en haar die geleentheid bied om weer te begin skilder.

Bly ingeskakel op kykNET, kanaal 144 en kykNET&kie, kanaal 145 dié Junie vir die nuutste verwikkelinge in Diepe waters, Suidooster, Binnelanders en Arendsvlei. Gesels ook saam op Facebook, Twitter en Instagram.