Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

'n April vol skatte

Nuus
31 Maart 2021
Kom speel saam skattejag in April met jou gunsteling kykNET-sepies, want antwoorde en paaseiers is volop - maar 'n mens moet maar 'n bietjie harder werk om beide te kan geniet. 
BB

Getroud met rugby
Renate nader Lienkie met ’n aanbod en Lienkie se loopbaan bereik uiteindelik ’n kruispad. Ryno vat die Stryders aan omdat hulle sy kapteinskap ondermyn en dan word hy van alle oorde gekritiseer. Intussen is Fafa gefrustreerd met sy werk en Maryke raak bekommerd oor sy gesondheid. Hy neem uiteindelik ’n groot besluit oor sy toekoms.

Jana beraam ’n plan om haar geheue te herwin en Bibi maak gereed vir aanlyn-liefde. Gaan dit haar goed of sleg doen, en sal sy en Jordan mekaar weer vind? Liam is ongemaklik met Candice se publisiteitsfoefie én Markus raak ongemaklik oor die gerugte wat die rondte doen. Candice moet uiteindelik haar gevoelens in die gesig staar…

Reitz besluit om sy eie sosiale media te bestuur maar dan ruk dit handuit. Intussen herleef koekie en Festus die sewentigs! Buks ontdek sy familie se donker geheim én Nesie vind uiteindelik uit. Maryke ontvang skokkende nuus en die pompoms kry ’n mooimaaksessie.

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster
Rhafiek en Carmen probeer die stukkies optel ná hul seun se afsterwe. Carmen probeer haar energie in restourasies instoot terwyl Rhafiek op eierdoppe rondom haar loop, maar hulle besef gou niks gaan ooit meer dieselfde wees nie en 'n groot besluit word geneem. AB en Mymoena moet koes en keer of hulle gaan meer as net 'n kleinkind verloor.

Noudat Joy se verlede hier in Ruiterbosch kom kop uitsteek het, is dit moeiliker vir haar om daarvan af weg te kruip. Sy moet uiteindelik die verlede in die oë staar en 'n besluit neem oor haar pa Gino. Die kerk se geld word gesteel en Siya wil nie sy vermoedens opper nie, want Joy en Gino vind mekaar tog en dit sal al die vordering wat Gino en Joy gemaak het, ongedaan maak. Gino kom voor 'n kruispad te staan wat hom en sy dogter betref, maar dit raak gou duidelik dat 'n jakkals soos hy van haar verander maar nie van snaar nie. Gaan Joy hom nog 'n slag kan vergewe?

Kaashifa en Imraan kom terug van hulle wittebrood, maar kort voor lank begin almal 'n ander, donkerder kant van Imraan te sien. Hy probeer die beste man vir Kaashifa te wees, maar sy kort humeur pootjie hom. Kaashifa koop 'n nuwe kar maar hy is bang oor wat sy daarmee impliseer, veral as sy nie meer so aangewese op haar man is nie. En om hulle liefdesbootjie nog meer te skud, daag Junaid op met 'n groot guns om te vra…

Bridgette en Chris bestee al meer tyd saam en groei nader aanmekaar, wat maak dat Kate uit Chris se huis wil trek. Maar in 'n swak oomblik blaker sy uit hoe sy regtig oor hom voel en dit begin dinge tussen hom en Bridgette ernstig te kompliseer. Die groot stryd om Chris se hart is aan, maar Bridgette word van stryk gebring as Nicci October weer haar gesig in Ruiterbosch wys – die groot vraag is of sy en haar ma hulle probleme uitgestryk gaan kry en is sy hierdie keer terug om te bly? En wat het in Amerika gebeur dat sy noodgedwonge moes terugkom?

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders
Paasfees is 'n tyd vir familie, vriende en kennisse - en 'n lekker skattejag of twee vir die kinders. Maar in Binnelanders is daar 'n 'skattejag' van 'n ander aard aan die gebeur. 

Tracy se grootste droom word waar wanneer Kyla op 1 April by haar kom bly! Maar dit is geen grap om dié kind in 'n nuwe roetine te kry nie, veral nie wanneer sy konstant kontak maak met haar pleegouers nie. Tracy voel verskeur tussen haar nuwe ouerlike pligte en haar prioriteite, maar probeer so ver as moontlik om hierdie nuwe avontuur in haar lewe met mening aan te pak - as sy maar net 'n bietjie spanwerk kon verwag van haar eie kind. Die soeke na balans gaan Tracy deur 'n vuurdoop soos min plaas, en 'n mens kan maar net in die stilligheid wonder: wie anders gaan haar ondersteun in hierdie baie moeilike tydperk van aanpassing, toetse en tammeletjies?

Elana moet na 'n nuwe narkotiseur soek wanneer haar getroue spanmaat, Freddie Beyers, omkap  in die teater. Gelukkig het Binneland Kliniek en Southern Hope sopas saamgesmelt, en die antwoord op al haar vrae kom in die vorm van Xander Stassen, 'n sexy en bekwame narkotiseur van die voorheen vyand-hospitaal. Maar hoekom lyk dit asof nie alle vyandighede opgelos is nie? 

Maya en Sergio se soeke na antwoorde bring hulle by twee verskillende weergawes van die waarheid. Maar wie van die twee is eintlik reg? En wat gaan van hulle nuutgevonde verhouding word wanneer die antwoord op wie Sulette Viljoen dekades gelede vermoor het hul liefde bedreig? 

Annelize is opsoek na 'n antwoord van haar eie: wie of wat begeer haar hart? Want aan die een kant is daar 'n dokter wat nie skroom om sy gedagtes direk met haar te deel nie, maar aan die ander kant is daar 'n vriend van kaliber wat haar kop heeltemal deurmekaar maak... Arme Annelize gaan moet mooi dink voor sy 'n keuse maak - want as die ys eers gebreek is, sal dit moeilik wees om haar status as ysprinses te behou. 

Wanneer 'n pasiënt op die operasietafel die tydelike met die ewige verwissel, is Karen heel gespanne. Want hoe moet sy nou verduidelik wat sy in die teater gemaak het? En is sy bevoeg genoeg om die situasie aan Hugo te verduidelik, en sy soekende blik op die situasie tevrede te stel? Of is daar ander faktore, waaroor sy nie graag sal wil praat nie, wat die Dood dalk nader gehark het op die dag van die operasie?

Conrad hoef nie ver te soek om sy losloperstatus tot 'n einde te bring nie. Maar is die vrou hierdie keer Die Een vir hom? Of is hierdie 'n nuwe kat-en-muisspeletjie wat sy kop uitsteek? 

Gaby gaan 'n nuwe plek moet soek om te bly, want dit is duidelik sy maak net 'n oorlas van haarself in haar halfbroer se woonstel - en boetie se huismaat is ook nie heeltemal te vinde vir haar konstante teenwoordigheid nie. Gaby se ongemak om by Wendy en Koos te bly is baie duidelik, maar wanneer die meisie uiteindelik vir haar 'n nuwe blyplek - en woonstelmaat! - kry, gaan sy dalk liewer wens sy het aangebly by haar ouers...

Ilse is 'n vrou van vele talente, en wanneer haar boek uiteindelik die lig sien is sy super-opgewonde om dit met almal te deel - tot mense begin wonder oor die inspirasie vir haar karakters en storielyn. Het Ilse iets om te verduidelik, of is almal dalk net jaloers oor die sukses van die boek? Hulle sê die waarheid is dikwels vreemder as fiksie, maar dalk steek daar meer waarheid in!

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.