Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Jou gusteling-sepies sorg vir 'n dramatiese feestyd hierdie Desember

Nuus
03 Desember 2021
Wat is in jou gunsteling kykNET-sepies se kerskous hierdie feestyd?
Sepiehoogtepunte – Desember 2021

Getroud met rugby
Renate kry nog ’n woedeuitbarsting wat uiteindelik daartoe lei dat sy ’n afspraak met Simon maak. Simon moet dan Virginia se hulp met Regardt inroep. SinBin publiseer ’n artikel oor Ivy se verkragting en Jana se ondersoek om die verkragter vas te trek, tel spoed op. Sy vind uiteindelik uit wie die verkragter is, en dat hy in werklikheid ’n reeksverkragter is. Die hele Stryder-gemeenskap is in skok wanneer hulle uitvind wie dit is. 

André kry masels en steek vir Fafa aan. Schalk probeer vasstel wie die persoon is wat vertroulike inligting oor die Stryders lek. Intussen is Kristien agterdogtig oor sy geheime vergaderings met Amanda. Dinge raak ernstig tussen Meyer en Ryno. Kersfees word gevier met ’n vrolike Kerspartytjie by Pottie's. Nytjie en Nonnie kom kuier en Nesie is bekommerd oor haar ouers se huwelik. Die Stryders vier Nuwejaar met ’n klassieke Griekse partytjie.

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster
Terwyl Ruiterbosch se mens terugkyk op ’n jaar van hoogtepunte en laagtepunte is Desember alles behalwe rustig in Ruiterbosch.

Elana se lewe is besig om anders uit te werk as wat sy beplan het en dinge tussen haar, Susan en Justin vat draaie wat nie een van die drie verwag het nie. Wade is verbaas oor die kontak wat hy maak met mense wat hy lanklaas gesien het en Bridgette se huishouding sorg vir genoeg drama met Donovan en kie…

Die kerkkoor se voorbereiding vir die Kerssangdiens verloop goed todat ’n verskil in smaak amper die appelkar omgooi. Suidooster gaan vir seker sorg dat Desember genoeg het om oor te gesels  terwyl Suid-Afrika ’n welverdiende breek vat na ’n uitdagende 2021. 

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders
Delia onthul uiteindelik aan Rian wie die pa van haar ongebore kind is - op dieselfde dag waarop Conrad 'n vaderskaptoets doen (agter Delia se rug). 

Janneke Stuurman begin by Binneland Kliniek as die splinternuwe locum in Ongevalle, en vroeg-vroeg begin dit duidelik raak dat 'n mens senuwees van staal nodig het om hier jou man te staan. Is dit iets wat in Janneke se geaardheid sit, of kort sy net 'n bietjie selfvertroue om die beste van elke dag te maak? Vicky ontmoet vir Kersvader - maar is Oom Kris die ware Jakob, of vertel hy net vir haar storietjies om haar weer te laat glo soos 'n kind? 

Elise voel dat Binneland Kliniek 'n bietjie meer kersgees moet vang, en Annelize dink Elise is die perfekte kandidaat om die voortou te neem - maar Elise het nie 'n idee wat sy moet doen nie! Dit is nou tot Vicky bietjie in haar oor fluister, en die twee onmiddellik wegspring met 'n baie ambisieuse idee. Gaan hulle genoeg hande - en lywe! - kan kry om hul plan uit te voer? 

Arme Ilse kry net nie rus vir haar siel nie, want terwyl sy en Okkie probeer om 'n nuwe lewe in die Vrystaat te begin, is dit Tonik wat hulle geanker hou in Pretoria. Sonder haar kaptein aan haar sy, gaan sy iemand betroubaar benodig om die skip op die regte koers te hou - maar wie vertrou 'n mens deesdae met jou brood-en-botter?

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.