Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Truuk of lekkernye hierdie Oktober?

Nuus
06 Oktober 2021
Oktober hou 'n paar verrassings in vir jou gunsteling kykNET-sepie.
Getroud met rugby – Oktober hoogtepunte

Getroud met rugby
Liam vind uit Ronnie is die een wat dwelms in sy sluitkassie geplant het en sy huwelik probeer vernietig het deur vir Markus te kontak.

Die Stryder-vroue se voorbereiding vir die orgaanskenkingskonsert tref ’n spoedhobbel wanneer Renate aandring om te sing. Nesie onthul Pottie’s se nuwe foefie.

Amanda en Kristien stamp koppe wanneer Bart die bemarkingskantoor herstruktureer en speursersant Breytenbach maak ’n draai by die stadion…

Schalk word as die nuwe hoof-uitvoerende beampte van die Stryders aangestel, en Fafa weer as hoofafrigter.

Simon dink Renate is oorbeskermend oor Regardt wanneer sy ’n kiemfobie ontwikkel en obsessief-kompulsief raak. Sy dryf hom uiteindelik tot breekpunt…

Lulu se eks-kêrel, Nico, daag by Pottie’s op en verklaar sy liefde aan haar.

Nesie en Lienkie kompeteer kliphard namens Buks en Blitz vir die Seksieste Man-kompetisie.

Dinge raak ongemaklik tussen Ryno en Meyer wanneer hulle soen en Schalk ontmoet Bart se informant.

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster
Oktober mag dalk die jaar se mooiste maand wees, maar daar is ‘n “October surprise” of twee (of drie) vir die inwoners van Ruiterbosch…

Groot hartseer klop aan die Samsodiens se deur, wat hul grootste toets tot op hede in die gesig staar as gevolg van AB se gesondheidsprobleme wat baie beroerd lyk… Sy geliefdes gaan ook nie net staan en toekyk hoe sy toestand verswak nie, terwyl Nazeem bereid gaan wees om enige iets te doen om AB se lewe te red – maak nie saak ten koste van wie of wat nie.

Met die hulp van Suster Graaff beraam Nazeem ‘n plan wat AB se lewe kan red, maar beteken dit hy moet sy eie en van die ander Samsodiens se siele aan die duiwel verkoop? Suster Graaff is immers nie noodwendig so gaaf as wat sy lyk nie; eintlik is sy genadeloos en vreesloos.

Donovan lyk ook asof hy Ruiterbosch se nuwe Casanova is en boonop raak hy gou ’n staatmaker by JPD, wat beteken party van sy kollega’s begin hom as ‘n bedreiging sien.

Wade en Justin het ’n innoverende geldmaakplan wat belowend begin, maar weer eens het hulle dit nie goed deurdink nie en moet hulle die gevolge van hul dade dra.

Dit begin ook lyk asof alles nie verlore is vir Tyron en Lee-Ann nie... Die twee mag dalk net vir mekaar beskore wees en die mooiste maand nuwe betekenis gee.

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders
Roelf Pieterse (Ashley Taylor) en Max Allen (José Domingos) word tegelykertyd in Binneland Kliniek opgeneem. Aanvanklik lei dit tot meer vrae as antwoorde, maar die waarheid het nog nooit in die pad gestaan van ‘n goeie storie nie.

Vra maar vir bv. vir paramedikus Danny Jantjes (Bradley Olivier) en Louis Koster (Germandt Geldenhuys) wanneer hulle ‘n reeksmoordenaar probeer ontmasker. Of dalk het verpleegsuster Chanel Samuels (Lindsey Abrahams) die antwoord… 

Maltrap Elise Kruger (Lindie Stander) besluit dat haar “bestie” dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel) se mylpaal-verjaarsdag smeek vir ‘n verrassingspartytjie. Maar dis nie al nie - Annelize het ook ‘n man in haar lewe nodig, aldus Elise. Sy laat nie op haar wag nie en ‘Dokter-soek-‘n-Man’ spring in alle erns weg.

Jenna (Monique Rockman) se paaie kruis met dié van Danny wanneer die spoke van gister opnuut aan sy deur kom klop. Die verdagte Jantjes-familiebesigheid brei uit onder die wakende – en manipulerende! – oog van Nadine (Margit Meyer-Rödenbeck van Dowwe Dolla-faam). Ondanks Danny se pogings om uit die spervuur te bly, kom hy voor ‘n ongekende dilemma te staan.

Dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) is allesbehalwe beïndruk wanneer hy dr. Stefan de Vries (Izak Davel) in Ongevalle raakloop. Om verstaanbare redes het hy vir dié man geen ooghare nie en wanneer hy uitvind waarom Stefan sy gesig weer in Binneland Kliniek kom wys, sien hy rooi!

Dr. Xander Stassen (Ivan Botha) het nie net raakvat-hande nie, hy het ook ‘n oog vir die skoner geslag. Wanneer die dame op wie hy ‘n ogie het uiteindelik instem om saam met hom ‘n drankie te gaan drink, wil dit lyk asof die kronkelpaadjie van die liefde ‘n hoofweg na geluk kan word…

Renate Ferreira (Sandra Vaughn) is glad nie gelukkig met die lewe nie. Haar dogter Trudie (Daniah de Villiers) word immers verbied om matriekeksamen te skryf na ‘n erg onsmaaklike voorval by die skool. Oor wat presies gebeur het en waarom, swyg Trudie soos die graf – al beteken dit haar hele toekoms hang in die weegskaal, ook tot Naomi Koster (Je-ani Swiegelaar) en Louis se ontsteltenis.

Dr. Uys Wagener (Gerald Steyn) het die skoot hoog deur. Maar die kanse is sterk dat sy verlede sy toekoms in die hede gaan kelder, want om elke hoek en draai verskyn ‘n skim van gister met allerlei geskuldigings. Hy moet fyntrap om heelhuids anderkant te probeer uitkom.

Talentvolle dr. Martin Prins (Keenan Arrison) locum by Binneland Kliniek en beland vinnig op Brandon Samuels (Zane Meas) se radar. Brandon het ‘n plan met sy jong protégé en werp alles in die stryd om dit tot uitvoer te bring. Gaan Martin deur Brandon se planne sien, of betree hy toe-oog hierdie wildernis?

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.