Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

‘Lottoland help ’n dorp’: Herwonne hoop vir die dorpie waar almal mekaar ken

Nuus
25 Oktober 2023
Altesame R200 000 is beskikbaar gestel vir die verbetering van die opleiding- en herwinningsentrums in Willowmore.
lottoland help 'n dorp tv show

In die derde episode van kykNET se inspirerende werklikheidsreeks waar gemeenskappe gehelp word om hul dorp weer op te kikker, het die trane vryelik gevloei.

Willowmore, waar jy volgens El-Anne Smith, ’n boorling van dié bekoorlike dorpie, “niks anders as gasvryheid ervaar van al die mense nie,” was vandeesweek aanbieder en sangeres Leah se bestemming.

Raadslid Conan Mart het El-Anne se siening baie beslis beaam. “Ons het tóg groot omgee vir mekaar binne die dorp,” het hy gesê.

Die afgelope paar jaar was nie maklik vir die inwoners van Willowmore, ’n gewilde toeriste-aantreklikheid, nie. Die pandemie en droogte het die vooruitgang van die dorpie gekniehalter. Want, vertel El-Anne, as dit goed gaan met die boere, gaan dit goed met die dorp en sy inwoners.

Deur hul projek, Revive Willowmore, wil hulle die inwoners meer bemagtig. Veral die herwinningsprojek is een van haar hartsprojekte. Deur die omgewing skoon te hou, lei dit vir haar ook tot werkskeppingsgeleenthede.

Leon Abrahams van die herwinningsentrum het aan Leah verduidelik dat die omheining van die sentrum deur vandale afgebreek is. Ook kan daar nie in die gebou op die perseel gewerk word wanneer dit wel die dag reën nie.

Hy het ook vertel dat drie omliggende dorpies baat vind by die sentrum: Rietbron, Steytlerville en Aberdeen.

Raadslid Ewald Loock het gesê Willowmore het ’n onder-aanbod aan werksgeleenthede. Daarom is die opleidingsentrum vir hom ’n belangrike aspek vir die opheffing van die gemeenskap. 

In die verlede was daar opleiding verskaf oor trekkerbestuur en -instandhouding, sweiswerk, bouwerk, noodhulp en ook Sakhisizwe se mense wat op die dorp werk, het daarby baatgevind. 

Soos met die vorige twee episodes het Leah weer die spreekwoordelike haas uit die hoed getrek met daardie belowende groen koevertjie. Dié keer was daar R200 000 beskikbaar gestel vir die verbetering van die opleiding- en herwinningsentrums.

El-Anne kon nie die trane keer nie, en selfs Leah moes ’n paar wegpink. Die oomblik was so emosioneel dat sy byna vergeet het om te vertel van die vier weke wat El-Anne en die gemeenskap het om die projekte te voltooi...

Vier weke later

Wind, reën, storms, beurtkrag, administratiewe rompslomp en voorraad wat in George gehaal moes word, het die projek met byna ’n week teruggesit. Maar die span van Willowmore het deurgebyt en soos Leah se profetiese woorde tydens haar vorige besoek, bewys dat dit ’n geval is van “Willo-more and nothing less.

Leah het ook gewys sy is ewe vaardig met ’n elektriese boor as ’n verfkwas en plantwerk.

Die opleidingsentrum is geverf en water is met behulp van die plaaslike munisipaliteit aangelê. Volgens El-Anne was die groot uitdaging daar om ’n kluis te bou vir die sentrum se rekenaartoerusting. Die omheining en ’n nuwe veiligheidshek is ook aangebring.

Raadslid Mart kon nie Lottoland help ’n dorp genoeg bedank nie. Volgens hom sou hulle nooit die opleidingsentrum met munisipale fondse kon bring waar dit vandag is nie. “Daarvoor is ons Lottoland ewig dankbaar.”

Die harde werk wat oor vier weke soveel uitstekende resultate gelewer het, het hom ook weer opnuut hoop vir hierdie juweel van ’n dorpie en sy mense gegee.

Daar het net soveel verandering plaasgevind by die herwinningsentrum. Die masjinerie is nou beveilig, byle is geslyp en die gebou is pragtig geverf. Lemmetjiesdraad is om die gebou opgesit en die sentrum lyk nou soos ’n splinternuwe sikspens.

Hulle bakkie loop weer, die baalmasjien is reggemaak en daar is elektrisiteit aangelê. 

Jane Zaayman, voorsitter van Toerisme en die Sakekamer, het vertel hoe deurmekaar alles voorheen daar was.

“Goeters was stukkend, papiere het weggewaai en daar was nie badkamers nie. Sy kon nie uitgepraat raak oor die ongelooflike transformasie wat plaasgevind het nie en het gesê dit lyk nou soos ’n herwinningsentrum wat nie net kan werk nie, maar ook vorentoe kan gaan.

Twee van die jong werkers by die sentrum se glimlagte kon nie breër nie. Hulle was baie opgewonde omdat hulle nou badkamers het en ’n warm plek met stapelbeddens om te slaap – anders as die koue vloer en stukkende vensters van voorheen.

En El-Anne? Vir haar het die vier weke gewys hoeveel bereik kan word. “Dit was ’n amazing experience. Ons wíl ’n verskil maak. Ons wil nie net verdwyn nie. No guts, no glory. Jy moet êrens begin om êrens te eindig. Hierdie is die begin van baie goeters.”

Leah, wat beslis ’n stukkie van haar hart daar verloor het, was reg: “Willo-more and nothing less.

Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom dit op DStv Stream.