Logo
web uni tv guide

Lottoland Help 'n Dorp

144RealiteitPG

‘Lottoland help ’n dorp’: Die volstruisvere het gewaai met ’n nuwe begin vir een van Afrika se wonders

Nuus
18 Oktober 2023
In episode twee van hierdie werklikheidsreeks op kykNET, help Lottoland SA vir Oudtshoorn.
Cango Caves

In die tweede episode van kykNET se nuwe werklikheidsreeks, het die sangeres en aanbieder Leah ’n draai in die lieflike Klein Karoo gegooi.

Lottoland help ’n dorp is hier om ons te inspireer – en om ’n verskil te maak in ons eie dorpe,” het Maryke Hayward, Lottoland SA-bemarkingshoof, oor dié unieke program gesê.

Vandeesweek was Oudtshoorn aan die beurt.

“Oudtshoorn is so uniek. Dit het sy eie plantegroei en die klimaat is baie interessant – dit voel soos sewe seisoene in een dag!” het Leah die eiesoortigheid van die volstruishoofstad opgesom.

Abri van der Merwe, die voorsitter van Oudtshoorn Sakekamer, het meer uitgebrei oor dié interessante dorp wat in die Klein Karoo geleë is net voor die Groot Karoo begin.

“Almal in Oudtshoorn ken mekaar. Dís platteland,” het hy trots verklaar.

Aan die begin was dit nie vir Leah duidelik waarvoor die volstruishoofstad Lottoland help ’n dorp se hulp nodig het nie. Tot waar Abri meer verduidelik het oor die Kango-grotte wat ’n toeriste-aantrekking was lank voor die Klein Karoo Nasionale Kunstefees hier kom nes skrop het.

“Ons is baie trots op die grotte want dis een van die groot wonders van Afrika en van die wêreld. Dit is ook een van die top-10 toeriste-bestemmings in Suid-Afrika,” het hy bygevoeg.

Leah het onthou dat sy die grotte as ’n klein dogtertjie besoek het en hoe dit haar reeds op daardie jong ouderdom beïndruk het. Abri het sy spyt uitgespreek dat dit haar so lank geneem het om weer by die grotte uit te kom. Maar eind goed, als goed. 

“Ons grootste taak hier by die Kango-grotte is om die grotte te bewaar. Aan die ander kant is dit ook ’n besigheid. So, dis belangrik om konstante voete hier te kry. En ons dorp trek dan natuurlik ook voordeel daaruit,” het Abri uitgebrei.

Alison Moos, die bestuurder van die Kango-grotte, het vertel dat daar jaarliks ’n gemiddelde kwartmiljoen besoekers daar opgedaag het. Maar toe slaan die pandemie toe...

“Dis heilige grond as jy besef dat dit oor ’n periode van eeue heen ontstaan het,” het Hikkie Marais, ’n plaaslike inwoner en besigheidsmens, laat hoor. Hy het verduidelik dat alhoewel die grotte ’n toeriste-aantreklikheid is, dit ook baie uitdagings bied waaronder onderhoud aan die binnekant van die grotte. Benewens die hoë kragverbruik moet die geboue ook in stand gehou word.

“Die rede hoekom hierdie grot vir my daagliks so magical is, is omdat ek elke dag iets anders in die grotte raaksien,” het Leigh-Ann Coetzee-Nomdoe, een van die grotte se gidse, oor die bekoring van die Kango-grotte kwytgeraak.

Sy het ook vertel dat dit die grootste kommersiële grotte in Afrika is en dat die hele grotsisteem in geheel sowat 5,3 km lank is. Daarvan is net 1,2 km oop vir toeriste.

“Ek sien die grotte as die hoofstad van ons dorp. Dit gee Oudtshoorn ’n finansiële inspuiting en is ook een van die oudste toeriste-aantreklikhede. Jy was nog nie by Oudtshoorn as jy nog nie by die Kango-grotte was nie,” het sy gesê.

Leah het gevoel “oorweldigend” is die regte woorde om die grotte te beskryf.

“Ek is kwaad vir myself omdat ek eintlik vergeet het hoe ongelooflik dit daar binne [in die grotte] is. Dit slaan letterlik jou asem weg. Ek weet tegnologie is ongelooflik, maar die natuur daar buite is net so ongelooflik,” het sy gesê en genoem dat die Kango-grotte haar gemotiveer het om haar selfoon neer te sit en net te gaan kyk wat daar is...

Abri het op sy beurt die Kango-grotte as die kroonjuweel van besienswaardighede in die Klein Karoo bestempel. Dit was die rede hoekom hulle Lottoland help ’n dorp genader het om hulp – sodat hulle mense kan uitnooi om daar te gaan inloer.

Op finansiële vlak het die grotte nie altyd surplus-fondse nie, en in hierdie geval was daar nie fondse beskikbaar om die ingang in iets onvergeetlik te omskep nie. Abri het ook verduidelik dat hulle die groot koepelmuur wil laat uitstaan sodat mense dit reeds van ver af kan sien.

Hy het ook genoem dat dit ook baie vir die dorp sal beteken want Oudtshoorn is nie bloot net ’n oornag-bestemming nie. Daar moet jy ’n paar dae deurbring om alles te sien – van volstruisplase tot die volstruispaleise in die dorp en natuurlik ook hul besondere museum.

Dit was vir Leah moeilik om haar opgewondenheid in toom te hou, want Abri het nie geweet dat fondse vir hulle projek reeds deur Lottoland help ’n dorp goedgekeur is nie.

Hy was effe verbaas toe Leah die groen koevertjie propvol goeie nuus aan hom oorhandig het. Maar nadat hy die inhoud daarvan gelees het, kon hy basies net “Goeie genade!” uitkry.

Lottoland gaan vir Oudtshoorn help,” het hy verder gelees. Toe tref die werklikheid hom want daardie hulp was in die vorm van R200 000 om die grotte te help opknap. Hy het erken dit was allesbehalwe wat hy verwag het en dat hy skoon hoendervleis is na hy die omvang van die koevertjie besef het.

“Ons gaan 24/7 werk om alles reg te kry,” het ’n verheugde Abri belowe nadat Leah hom herinner het dat hulle net vier weke het om alles af te handel. “Maar ons gaan eers vanaand feesvier...”

Later het Abri erken hy kon sy oë nie glo toe hy die koevert se inhoud gelees het nie. “Jy’s die Jack Russel wat die bus jaag en hier vang jy hom nou. En, o genade, die pressure is on.”

Vier weke later

Leah het gebieg dat haar vorige besoek aan die Kango-grotte haar in ’n mate teleurgestel het.

“Die verwelkoming wat jy voel en sien wanneer jy daar aankom, is nie noodwendig dit wat die grotte self weerspieël nie. Dis ’n bietjie vervalle. Dis die groot ronde muur wat jou groet...”

Abri moes erken dat hulle nooit besef het hoeveel werk ingesit moes word nie. Daarmee saam ook die druk op almal om seker te maak alles word betyds afgehandel.

Leah was verstom toe sy die koepelmuur in sy nuwe gedaante aanskou het. Sy het vir Abri vertel dat sy letterlik haar hande voor haar oë gehou het toe sy en die Lottoland-span na die grotte gery het. Sy wou nie die verrassing vir haarself bederf nie.

En verras was sy beslis. Op die aangenaamste moontlike manier.

“Dit het my verwagtinge oortref. Dit is presies ... presies perfek vir wat jy daar moet sien. Die prentjie is perfek,” het ’n verheugde Leah laat hoor.

Volgens Abri was die munisipaliteit, Toerisme, lede van die publiek, stamleiers, besigheidsmense en kunstenaars aan boord om te help.

Een van hulle was Anton Roets, ’n plaaslike beeldhouer. Hy het vertel hoe die taxi-stakings byna-byna sy bydrae tot die projek gepootjie het. Dit het 10 dae geneem vir die staal om vanaf Johannesburg tot by George te kom en vandaar moes dit weer per trok na Oudtshoorn gebring word.

Ander probleme het ook kop uitgesteek. Bert Verlinde van die Sakekamer het vertel daar moes baie waterdigting gedoen word vanweë baie waterskade, iets wat eie is aan grotte.

“Ons moes die vooraansig heeltemal weer oorverf. En dan was die groot uitdaging om ’n mooi kunswerk vir ons nageslag na te laat.”

Anton het verduidelik dat sy kunswerk uit kwarts en staal geskep is, ’n unieke kombinasie wat op die omgewing reageer. Volgens hom kan dit tot ’n jaar neem voordat die kunswerk sy finale kleur wys.

“Dit word deel van die natuur,” het hy vertel.

Praat van gewigtig. Volgens Bert het die kunswerk in totaal 6 ton geweeg en dit moes tot op ’n hoogte van 11 m gelig word. Daarna moet dit op presies die regte plekke in die koepelmuur vasgebout word.

Dit was nie die einde van hul uitdagings nie. Die instansie wat die installasie sou doen, het op die nippertjie gekanselleer. Anton moes toe maar self inspring, al was hy bekommerd want hy trek nou by die 70’s en hy wou nie op die hoë muur werk nie.

Tog het hy twee dae lank sy eie staal getoon en op die kersieplukker geklim om sy kunswerk te monteer. Sy vrou was baie ongelukkig daaroor, het hy laggend vertel. Maar dis afgehandel sonder enige skade aan mens, muur of kunswerk.

Abri het reeds met Leah se aankoms op dié dag gewaarsku dat sy ook sal moet inspring om te help sodat alles betyds klaar kan kom.

“Die kersieplukker staan hier en jy gaan vir ons moet help daar bo. Daar is nog ’n paar kolle wat geverf moet word waar die sweisersmetaal sit,” het hy ’n benoude Leah ingelig. Sy was benoud oor die hoogte, maar kort voor lank was sy ingegordel en het sy kwas in die hand begin verf. Daarna moes sy ook hand aan die hark slaan in die uitgebreide tuin, bankies afskuur en verder verf.

Corleen Barnard, Oudtshoorn se Toerisme-bestuurder, het verduidelik dat daardie koepelmuur besoekers se eerste indruk sal wees wanneer hulle die Kango-grotte besoek. 

“Jy kan daai projek wat ons gedoen het, van ver af sien,” het sy gesê. Sy het ook vertel dat talle mense reeds vroeër in die dag daar kom stop het om foto’s te neem en sy glo dit sal vinnig in die sosiale media gedeel word. “Ons is dankbaar daarvoor.” 

Erfeniskenner Hazel Jonker woon al van tweejarige ouderdom in Oudtshoorn. Die nuwe ingang het ’n groot impak op haar gelaat “juis oor dit daai natuurlike elemente na vore bring. Imposant, verwelkomend, vars, fris, modern – maar tog daardie eie gevoel van die grotte. Dit maak ’n mens sommer opgewonde!”

“Toe ek die ingang sien, toe weet ek dis my vriend Anton Roets se werk. En toe ek die werk sien, toe sê ek saggies vir myself ‘Anton, jy het dit. Jy’s gebore met dit.’ Verstaan jy?” was die skrywer en digter Poem Mooney se eerste reaksie. Hy is ’n gebore Oudtshoorniet wat sy hy sal nooit sy dorp verlaat nie, al gebeur wat. “Ek is hier gegrond.”

“Ek is sprakeloos om vir julle te verduidelik hoe die nuwe ingang van die grotte lyk. Wanneer jy sien dat daar ’n verandering is aan jou werksplek, bring dit daai oemf! weer terug in jou lewe. Jy raak so opgewonde dat jy vir die wêreld wil wys watter veranderinge aangebring is,” het ’n borrelende Leigh-Ann laat hoor.

Die gaste vir die dag het later die grotte binnegegaan en soos Leah dit gestel het, “die mooiste, mooiste verrassing” ervaar. Dit was niemand anders nie as Leigh-Ann wat hulle in haar suiwer stem, sonder enige begeleiding, die Ave Maria toegesing het.

Die akoestiek in die grotte is gelykstaande, indien nie stukke beter nie, as dié van die grootste operahuise ter wêreld.

Vir Leah was dit duidelik: “Oudtshoorn het hoop vir die toekoms gekry.”

En Abri? Hy kon nie uitgepraat raak oor die wyse waarop mense vier weke lank hande gevat het om die projek af te handel nie.

Terwyl Leah die Lottoland-vlag gehys het, was haar versugting dat elke dorp deur Lottoland help ’n dorp geïnspireer sal word.

“Dit maak my hart so warm om te sien wat gedoen kan word in so ’n kort tydjie. Ons werk hier is gedoen en ek weet dat die toekoms mooi lyk vir Oudtshoorn.”

 Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream.