Logo
Diepe waters
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Liam groet "Diepe waters" met groot planne – Diepe waters

Nuus
26 Februarie 2024
Liam Bosman bieg ook wat sy grootste uitdaging in die telenovelle was.
Liam Bosman

Hy het nog altyd ’n groot verbeelding gehad en drome om alles van ’n veearts tot ’n konsertinaspeler te word. Maar die kollig het geroep, en Liam Bosman se eerste rol in ’n professionele produksie was dié van Sampie in die 2016-fliek Vir die voëls.

Die afgelope paar jaar het ons hom beter leer ken as Johan Swarts in die telenovelle Diepe waters. Liam het ook in die kykNET-dramareeks Mooiweer en warm gespeel.

Maandagaand 26 Februarie is egter die laaste keer wat kykers vir Johan Swarts in Diepe waters sien. Liam het besluit om uit die swembad te klim en sy vlerke te sprei.

Hy sê die grootste uitdaging om Johan te speel, was om swemfiks te word. “Ons het twee maande voor ons begin het met verfilming dag in en dag uit geswem. Ek het agt kg verloor en was later so fiks dat ek twee lengtes kon swem, uit die swembad klim en dan reg wees vir my dialoog op kamera sonder om uitasem te wees.”

As hy drie mense op Diepe waters moet uitsonder wat vir hom mentors geword het, is dit akteurs Justin Strydom en Nadia Valvekens, asook Gert van Niekerk, een van die regisseurs van die reeks. “Hulle het my so baie oor storie en karakter geleer en die dieper betekenis agter alles. Die lesse wat ek by hulle geleer het, gaan ek vir die res van my lewe saam met my dra. Dis iets wat geld nie kan koop nie, en dit het hoe ek werk aanpak geheel en al verander.”

Droom groot, want jy het net een lewe. Dit is sy leuse. “Elke mens word met verskillende kaarte die lewe ingestuur. Dit is wat jy daarvan maak, wat saak maak. Niemand kry ’n tweede kans nie, en jy kan net alles in jou vermoë doen om jou beste te probeer.” 

Liam wil nie net as akteur werk nie, maar ook draaiboeke skryf en agter die kamera sy slag as regisseur wys. Hy was op 15 reeds vir ’n tyd lank in Amerika en beplan om weer te gaan. “As jy mik, moet jy hoog mik,” sê hy. “Ek droom om eendag saam met die regisseurs Christopher Nolan, Quentin Tarantino en Guy Ritchie te werk, en as ek die kans kry om voor die kameras saam met Jonah Hill, Shia LaBeouf of Jason Bateman te wees, sal ek beslis nie nee sê nie.”

Liam se aanhangers kan egter gerus wees. Hy is in die nabye toekoms weer in ’n kykNET-reeks te sien. Meer as dit kan egter nie nou verklap word nie.

Diepe Waters is elke Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Stream.