Logo
Diepe waters cast
web uni tv guide

Diepe Waters

144Drama13 VL

Diepe waters-akteurs praat uit oor die skok-storielyn

Nuus
24 Julie 2023
"As jy gaan kyk na die familiefoto’s, het net ek (Werner Coetser) en Liam (Bosman) donker oë." Lees meer.
Gys Swarts en Johan Swarts in Diepe waters

Daar was al baie trane, uitbarstings, argumente en skokke in Diepe waters, maar nog niks het kykers so oopmond regop laat sit soos die onthulling oor Johan Swarts (Liam Bosman) se biologiese ouers nie. Dié storielyn het die land aan die gons en ons het by die akteurs gaan hoor hoe hulle reageer het toe hulle die eerste keer van hierdie nuwe wending uitgevind het.

Verlede week het dit geblyk dat Johan nie Rossouw (Altus Theart) en Sanet (Nadia Valvekens) se biologiese seun is nie, maar dat hulle hom aangeneem het nadat Rossouw se broer, Jacques (Werner Coetser), destyds ’n 16-jarige meisie swanger gemaak het. Dit was Gys (Justin Strydom), die patriarg van die Swarts-familie, se idee. Want soos almal weet, is Gys se reputasie vir hom baie belangriker as sy kinders en kleinkinders.

Liam, wat die rol van Johan vertolk, lag te lekker terwyl hy sy reaksie met ons deel. “Ek, Altus, Nadia, en Danielle (Karla) was eenkeer in ’n toneel en ek het randomly opgelet dat ek die enigste een in die gesin is met donker oë. Justin het blou oë. Net daarna het ek vir Werner raakgeloop en besef dat hy óók donkerkleurige oë het. Van daardie dag af was dit altyd ’n grappie tussen ons op stel dat Johan dalk Jacques se seun kan wees,” vertel hy. Liam sê nie een van hulle het egter gedink dat dit werklik die geval kan wees nie.

Werner beaam dit: “As jy gaan kyk na die familiefoto’s, het net ek en Liam donker oë. Toe ons hierdie storielyn kry, kon ons nie glo dat dit daar swart op wit staan nie. My eerste gedagte was: Hoe is dit moontlik? Maar as jy kyk na die storielyn, is dit eintlik beautiful gedoen. Weereens het Gys net beheer geneem en die hele ding oor die Swarts-familie gemaak.”

Werner sê as jy met hierdie nuwe wete gaan terugkyk na die episodes, kan jy sien Jacques wou nooit te naby aan Johan gewees het nie. “As Johan iets verkeerd gedoen het, het hy altyd eerste na sy oupa gekyk en nadat Gys hom uitgeskel het, was Jacques die een wat vir hom op ’n baie subtiele manier aangemoedig het. So, daar was altyd ’n band tussen hulle twee, maar jy kon nooit rêrig sin maak daarvan nie. Dit was ’n groot skok vir ons. Welgedaan aan die skrywers,” sê Werner.

Nadia was ook stomgeslaan toe dit aan die lig kom en het baie vrae gehad. “My eerste reaksie was: Hoe!? Toe ons uitvind, was daar nog nie ’n verdere storielyn gewees nie. Ek het gewonder of Sanet dalk ’n verhouding met Jacques gehad het en of Rossouw dalk nie kan kinders kry nie. Ek het ook gedink dit kan dalk ’n aanneming wees, maar nou weet ons wat dit was,” vertel Nadia laggend.

Altus sê dinge gaan nie goed met Rossouw nie. “Waar hy eers vier kinders gehad – Johan, Karla en die twee miskrame – het hy nou net een biologiese kind. Dit is ’n great storielyn en ek dink die mense gaan dit geniet,” sê Altus.

Die enigste vraag is nou: Wanneer gaan Johan hiervan uitvind?

Diepe Waters is elke Maandag tot Donderdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144), asook op DStv Streaming.