Logo
kykNET_Klein_paradys_1600x160_S1_CTE

kykNET stel bekend: ’n Splinternuwe plaaslike realiteitsreeks, "Klein paradys"

Nuus
01 Februarie 2024
Inskrywings open 1 Februarie en sluit op 29 Februarie.
Klein Paradys SP BB

kykNET (DStv-kanaal 144) kondig met trots ’n nuwe, oorspronklike realiteitsreeks aan – Klein paradys, wat laat in 2024 uitgesaai sal word. Die reeks sal ses mededingende spanne met ’n bestaande verhouding volg wat elk ’n mikro-woonstel opknap en stileer in ’n poging om R1 miljoen te wen.

Elke span bestaan uit twee lede wat mekaar ken en vertrou. Dit kan broers en susters, 'n ouer en kind, vriende, kollegas, ’n liefdespaar, twee eks-verliefdes of kamermaats wees – enige duo met ’n bestaande verhouding kan inskryf.

Die mikro-wonings wat vir die reeks omskep word, moet vyfster-status aan voornemende gaste bied. 

Soos die gesegde lui: Klein maar getrein. Ontwerpers van mikro-wonings het die afgelope tyd gewys dat ’n huis nie gerief of styl hoef in te boet net omdat dit klein is nie. 

In Klein paradys gaan die span wen wat die indrukwekkendste, mooiste en mees praktiese mikro-woning kan inrig. 

So, as jy prakties en stylvol is en ’n klein ruimte kan omskep in ’n pragtige huis met elke moontlike gerief, gooi jou naam in die hoed. Klein paradys is ’n wonderlike geleentheid vir jou en jou spanmaat om die wêreld te wys wat in julle steek.

Die reeks sal in die Wes-Kaap verfilm word. Inskrywings open 1 Februarie en sluit op 29 Februarie. 

Om jou span in te skryf, klik hier