Logo
Die brug S1 Slim BB

Die Brug – ’n Plaaslike weergawe van die gewilde internasionale realiteitsreeks The Bridge kom kykNET toe

Nuus
29 Junie 2023
"Die Brug" is die 11de lisensiëring van vervaardigingsregte wat vir hierdie internasionaal gewilde realiteitsprogram toegestaan is.
Die Brug_logo 1

Op 29 Junie 2023 het Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale, tydens die jaarlikse verkoopsamekoms van die MultiChoice-groep aangekondig dat kykNET (DStv-kanaal 144) die plaaslike regte vir ’n nuwe verwerking van die visueel skouspelagtige en oorspronklike realiteitskompetisieformaat The Bridge verkry het. Pelser het verklap dat die verfilming van die reeks voltooi is by ’n plek in Suid-Afrika wat eers later onthul sal word.

Die deelnemers is gekies uit avontuurlustige inskrywers wat vroeër vanjaar gevra is of hulle aan ’n opwindende nuwe realiteits-TV-kompetisie wil deelneem. Die plaaslike Afrikaanse weergawe van dié reeks is deur Red Pepper Pictures (KwarantynWie Word ’n Miljoenêr) vervaardig. Dit is die elfde lisensiëring van vervaardigingsregte wat vir hierdie internasionaal gewilde realiteitsprogram toegestaan is.

The Bridge bring ’n groep vreemdelinge byeen in ’n afgeleë, onherbergsame gebied waar hulle ’n epiese uitdaging moet voltooi wat hul fisieke krag, uithouvermoë en vindingrykheid tot die uiterste toets. Deelnemers moet saamwerk om ’n enorme brug na ’n eiland te bou om die kontantprys van R1 miljoen te wen. Slegs een deelnemer wen egter die prys en moet dan besluit of hy/sy die prysgeld wil deel of alleen daarmee wil wegloop.

The Bridge is ’n oorspronklike Banijay-konsep en -formaat, geskep deur Zeppelin (Banijay Iberia). Dit was reeds in Australië, Brasilië en die VK op TV, waar dit in 2022 met ’n tweede seisoen teruggekeer het en nommer een in die tydgleuf vir jonger kykers was – met ’n aansienlike toename in kykersgetalle binne hierdie tydgleuf. Die nuwe Suid-Afrikaanse weergawe volg op die vier nuwe aanpassings van The Bridge wat verlede jaar op Prime Video in Denemarke, Swede, Noorweë en Finland uitgesaai is. HBO Max loods ook vanjaar ’n weergawe in Hongarye. 

The Bridge is nie net ’n program nie – dit is ’n wêreldwye sensasie. Ons is opgewonde om die plaaslike weergawe van hierdie gewilde franchise aan te bied deur die beste Suid-Afrikaanse talent in te span en ons pragtige landskappe ten toon te stel in ’n reeks wat kykers op die punte van hul stoele sal hou,” sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale by die MultiChoice-groep.

Vroeër vanjaar het kykNET die publiek genooi om in te skryf vir dié reeks onder die skuilnaam “Die Groot Avontuur”. Voormenende deelnemers het glad nie geweet waarin hulle hulle begewe nie. “Ons het die meeste inskrywings vir enige realiteitsprogram op kykNET tot dusver ontvang, wat ’n duidelike aanduiding gee van die groot aptyt wat ons kykers vir so ’n werklikheids-TV-avontuurreeks het,” voeg Waldimar by.

Die inheemse weergawe van die reeks sal uit 11 episodes bestaan en vanaf 26 Oktober 2023 op kykNET uitgesaai word.

Die ooreenkoms is bemiddel deur Robin Pollok, Banijay Rights se vise-president van verkope in Afrika, die Midde-Ooste, Griekeland en Israel. “The Bridge bied,” volgens Pollok, “ ’n realiteitskompetisie vol ongelooflike uitdagings waar baie op die spel is in ’n asemrowende ligging. Dit is ’n konsep wat by gehore dwarsoor die wêreld gewild is. Ons is opgewonde om hierdie ongelooflike program na nuwe horisonne te sien reis en vir die eerste keer vervaardigingsregte aan kykNET toe te staan. Ons is seker Suid-Afrikaanse kykers sal die plaaslike weergawe fassinerend en baie opwindend vind.”

Die Brug word deur Red Pepper Pictures vervaardig. Die reeks word uitgesaai op DStv Premium op kykNET (DStv-kanaal 144) vanaf Donderdag 26 Oktober 2023 om 20:00. Dit sal ook via die DStv App gestroom kan word en sal beskikbaar wees op DStv Catch Up ná elke uitsending. Besoek die kykNET-webwerf vir eksklusiewe programinhoud en sluit aan by die gesprek op Twitter, Instagram, TikTok en Facebook deur #DieBrug te gebruik.

-einde