Logo
kykNET_Klein_paradys_1600x160_S1_CTE

Robbie is jou gids in "Klein Paradys"

Nuus
22 Februarie 2024
Die gewilde radio en TV-aanbieder Robbie Kruse is aangekondig as die aanbieder van "Klein Paradys"!
Klein Paradys Robbie Kruse

Die gewilde radio en TV-aanbieder Robbie Kruse is aangekondig as die aanbieder van Klein Paradys – die nuwe, oorspronklike realiteitsreeks wat laat in 2024 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai sal word.

In Klein Paradys gaan ses mededingende spanne wat uit twee persone bestaan wat mekaar reeds ken, elk ’n mikro-woning opknap en stileer in ’n poging om R1 miljoen te wen. Die mikro-wonings wat vir die reeks omskep word, moet vyfster-akkommodasie aan voornemende gaste bied.

Robbie, wat sy radioloopbaan by Tuks FM aan die Universiteit van Pretoria begin het, het al ’n draai agter die mikrofoon by radiostasies soos 5FM, Jacaranda FM en RSG gemaak. Op TV was hy lank een van die aanbieders van Bravo! op kykNET. Die veelsydige Robbie is egter ook ’n restaurant- en kroegeienaar, doen eiendomsontwikkeling en werk steeds as seremoniemeester.

As aanbieder van Klein Paradys gaan Robbie daarvoor verantwoordelik wees om die kykers op hoogte te hou. Hy sal ook aan deelnemers leiding gee en help om die beoordelaars se kritiek te fasiliteer.

“Toe ek gevra is om die aanbieder te wees en gehoor het waaroor dit gaan, was die besluit om ja te sê baie maklik. Ek hou van die konsep, en dis ’n voorreg om saam met die span van AfrOkaans, wat die reeks vervaardig, te werk,” sê Robbie. “Ek hou daarvan om veral klein ruimtes optimaal te gebruik, soos my en my vrou se dakkroeg in die middel van Pretoria – ’n spasie wat voorheen onbenut was maar ’n wêreldklas-uitsig het. Hierdie reeks gaan ’n heerlike uitdaging vir die deelnemers wees.”

In Klein Paradys gaan die span wen wat die indrukwekkendste, mooiste en mees praktiese mikro-woning kan inrig.

So, as jy prakties en stylvol is en ’n klein ruimte in ’n pragtige huis met elke moontlike gerief kan omskep, gooi jou naam in die hoed. Klein Paradys is ’n wonderlike geleentheid vir jou en jou spanmaat om die wêreld te wys wat in julle steek.

Die reeks sal in die Wes-Kaap verfilm word. Inskrywings sluit op 29 Februarie.  Om jou span in te skryf, klik hier

Klein Paradys word vervaardig deur AfrOkaans. Die reeks sal op kykNET (DStv-kanaal 144) laat 2024 uitsaai. Dit sal ook op DStv Stream beskikbaar wees. Besoek die kykNET-webwerf vir eksklusiewe programinhoud en gebruik #KleinParadys om aan die gesprek deel te neem op X, Instagram, TikTok en Facebook.