Logo

kykNET Silwerskermwebinaar: drie dokumentêre by die program gevoeg

Nuus
28 Augustus 2020
Lees meer.
Kingdoms TITLE on footage

Drie dokumentêre rolprente, Beyond Moving, Kingdoms of Fire, Ice & Fairytales en Lumo, is by die reeds indrukwekkende kykNET Silwerskermwebinaar-program gevoeg. Dit is al drie rolprente se Suid-Afrikaanse première.

Beyond Moving was reeds by verskeie internasionale filmfeeste op die program en het uitstekende terugvoer gehad. Die Toronto Star in Kanada het onder meer geskryf: “Dis ‘n Billy Elliot-storie met ‘n Suid-Afrikaanse kinkel”.

Beyond Moving vertel die verhaal van die jong Siphe November wat van ‘n klein township, Zolani, buite Ashton in die Wes-Kaap kom en sy pad na die National Ballet School in Kanada oop dans. Dit is egter meer as net ‘n dokumentêre film oor dans – dit vertel van sy stryd om sukses te behaal, sy verhouding met sy ma en broer, die mense wat sy talent raakgesien het en dit help ontgin het en sy Kanadese familie wat hom tuis tussen twee vastelande wil laat voel. Beyond Moving word op 2 September om 13:00 op die Silwerskermwebinaar gewys.

Bent-Jorgen Perlmutt, die regisseur en vervaardiger van Lumo, die dokumentêre rolprent wat in 2007 die Oscar vir beste studente-dokumentêr gewen het, is op 3 September om 14:00 die spreker op die webinaar. Van sy ander dokumentêre is die Emmy-benoemde Massacre at the Stadium, Havana Motor Club en Diana Vreeland: The Eye Has to Travel. Na afloop van die gesprek sal Lumo, oor die herstelproses van ‘n jong verkragtingslagoffer in die ooste van die Kongo, gewys word. 

Kingdoms of Fire, Ice & Fairytales kom uit dieselfde stal as Stroop, die dokumentêre film oor renosterstroping wat wêreldwyd aandag getrek het. Die aanbieder Bonné de Bod en die regisseur Susan Scott het vir Kingdoms of Fire, Ice & Fairytales die uithoeke van die aarde besoek om daardie plekke te kry wat jou in verwondering laat – van ysige temperature in die Arktiese Sirkel tot die hitte van Yellowstonepark se vulkaan. In die maak van Kingdoms of Fire, Ice & Fairytales het hulle legendariese verhale gaan soek oor hoe vrees oorkom word, hoe siele weer verkwik kan word en hoe ons almal verbind is. Kingdoms of Fire, Ice & Fairytales se première is op 4 September om 12:45.

“Ons is weer eens so opgewonde om die eerste fees te wees wat Kingdoms of Fire, Ice & Fairytales waar die vervaardigers, Bonné en Susan, oor kontinente gereis het om vir ons hierdie merkwaardige kyk na die natuur en wildernis te gee,” sê Ricky Human, programbestuurder van die Silwerskermwebinaar. “Dis soos Bonné gesê het: Dit is sielskos vir omgewingbewustes.”

Kaartjies vir die Silwerskermwebinaar, wat van 2 tot 4 September in die dag plaasvind, is R150 en sluit toegang tot al drie dae in. Die program is propvol gesprekke oor onderwerpe soos befondsing, werk in die tyd van Covid-19 en internasionale verspreinding. Dorothee Wenner (Berlinale), Kisha Imani Cameron (voorheen van New Line Cinema) en Nashen Moodley (Sydney-filmfees) is net ‘n paar van die plaaslike en internasionale kenners wat hulle kennis gaan deel.

Vir meer inligting oor vanjaar se Silwerskermwebinaar, insluitend die program vir die drie dae, gaan na https://silwerskermfees.co.za/tuis/.