Logo

Gesoek: Vars talent én ervare hande vir die 2025 kykNET Silwerskermfees

Nuus
15 Maart 2024
Die 12de kykNET Silwerskermfees, wat tussen 28 en 31 Augustus 2024 in Kampsbaai plaasvind, bou voort op sy visie om ’n wegspringblok en platform aan aspirant-filmmakers in die TV- en rolprentbedryf te bied.
Silwerskermfees 2025

Onder vanjaar se Silwerskermfeesdebuutwerke tel agt kortfilms (deur opkomende filmmakers), ses shotgun-kortfilms (deur gevestigde filmmakers) en vyf kort dokumentêre films.

Intussen kan Suid-Afrika se eie toekomstige Christopher Nolans, Greta Gerwigs Martin Scorseses en Cord Jeffersons ook reeds inskryf vir 2025 se Silwerskermfees-kompetisie vir kort- en dokumentêre films.

Vanjaar word die kompetisie in twee kategorieë verdeel met opkomende filmmakers wat vir beide kortfilms en kort dokkies kan inskryf, en gevestigde filmmakers (draaiboekskrywers, regisseurs en vervaardigers wat voorheen aan die Silwerskermfees-kortfilmkompetisie deelgeneem het), wat nou ook hul idees en konsepte vir sowel kortfilms as kort dokkies kan voorlê.

Met beide kategorieë is die fees op soek na diverse en verbeeldingryke storievertellers wat die pas in die snelgroeiende film- en televisiebedryf van vandag en môre kan aangee.

Die keuringsproses vir die kompetisie strek oor verskeie fases.

Indien ‘n kort dokumentêr in jou visier is, sal jy aanvanklik die titel, genre, ’n beskrywing van die storie en temas wat aangeraak word, verwysings en die beoogde tydsduur moet verskaf. Die dokkie mag nie langer as 30 minute wees nie en ’n verdere vereiste is dat 60% van die inhoud Afrikaans moet wees. Enige variant van Afrikaans is welkom.

Die finaliste vir die volgende ronde, wat in Mei 2024 gekies sal word, moet ’n voorleggingsvideo instuur. Daarna volg ’n derde siftingsronde wat, onder meer, ’n formele voorlegging met ’n begrotingsplan en regisseursvisie behels. Dié ronde sal bepaal wie die suksesvolle kandidate is wat finansiering en mentorskap om hul dokkiedroom ’n werklikheid te maak sal ontvang.

Die 2025 Silwerskermfees-kortfilmkandidate sal deur ’n soortgelyke keuringsproses aangewys word. As jou voorstel uiteindelik die groen lig vir finansiering en mentorskap kry, kan jy in die voetspore van ’n rits veelbekroonde Suid-Afrikaanse rolprent- en televisiemakers volg wat hul eerste buiging in die bedryf met ’n Silwerskermfeeskortfilm gemaak het. Daaronder tel Christiaan Olwagen, wat later talle pryse verower het vir rolprente soos Johnny is nie dood nie, Kanarie en Poppie Nongena; die baanbrekers Ephraim Gordon en Amy Jephta van Barakat-faam en die filmmakerpaar Corné en René van Rooyen wat Vaselinetjie, Toorbos en Hans steek die Rubicon oor op hul kerfstok het.

Verskeie Silwerskermfeeskortfilms, soos Vuil wasgoed en Beurtkrag, is ook al in vollengterolprente omskep.

Die 2025-kortfilms kan tussen 7 en 30 minute lank wees, in enige genre en enige Afrikaanse variant. Dit kan ook ander landstale insluit, maar 80% van die dialoog moet Afrikaans wees.

Jou inskrywing vir die eerste ronde van beoordeling moet ’n konsepvoorstel van 250 tot 300 woorde bevat. Die draaiboek, regisseursvoorlegging en begroting sal later volg.

Die inskrywingsvorms vir die twee kompetisies is op die Silwerskermfeeswebwerf beskikbaar. Die sperdatum is Maandag 15 April 2024 en die inskrywingsfooi beloop R350.

Skryf hier in!

Vir enige navrae kontak [email protected]