Logo

kykNET gee terug dié Vrouemaand

Nuus
09 Augustus 2019
Só kan jy ook betrokke raak.
Vrouedag_billboard

Op 9 Augustus het kykNET ’n veldtog geloods om geld in te samel vir verkragtingslagoffers.

Verkragting is ’n realiteit in Suid-Afrika – volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) word meer vroue in Suid-Afrika as enige ander land ter wêreld verkrag, met ’n beraming dat ongeveer 25% van alle vroue in Suid-Afrika in hul lewe verkrag sal word.

Verkragting vorm ook deel van storielyne van twee programme op kykNET en kykNET&kie in Augustus – in die sepie, Getroud met Rugby, en kykNET&kie se telenovela, Arendsvlei.

#kykNETGeeTerug en iDUC

Ter viering van kykNET se 20ste verjaarsdag in November het die kanaal vanjaar die inisiatief, #kykNETGeeTerug, geloods, met die doel om terug te gee aan kykers en die gemeenskap. Vroeër vanjaar, tydens Paasfees, het van die sepie-akteurs kykNET-kykers by ‘n paar ouetehuise gaan verras. En in Julie was dit die diere van die Roodepoort SPCA se beurt om bederf te word deur ’n paar akteurs.

As deel van Vrouemaand in Augustus fokus #kykNETGeeTerug op verkragtingslagoffers en het die geregistreerde nie-winsgewende organisasie, iDUC, as begunstigde gekies. iDUC (Initiative for Dedicated Upliftment and Care) is met die hulp van Santi Britz tien jaar gelede begin, nadat sy self ’n slagoffer was. Vind hier meer uit oor haar verhaal. 

iDUC werk nouliks saam met Rape Crisis Centres en bied ondersteuning aan die beraders. Hulle help ook slagoffers van verkragting deur hulle by te staan in die proses om die verkragting aan te meld en tydens beradingsessies.

Die organisasie gee ook ’n klein plastiese eendjie en japon aan elke slagoffer. Die eendjie is ’n simbool van ondersteuning en die japon is sodat ’n slagoffer haarself kan bedek, omdat die polisie slagoffers se klere neem as deel van hul ondersoek.  

Só kan jy betrokke raak

kykNET nooi kykers om deel van die #kykNETGeeTerug inisiatief te wees dié Vrouemaand deur ’n geldelike skenking te maak. Alle skenkings sal gebruik word om japonne en eendjies aan te koop, wat aan slagoffers uitgedeel sal word.

kykNET skop dié inisiatief af deur R5 000 aan iDUC te skenk.

Skenkings kan in die volgende bankrekening inbetaal word:

FNB - Tjek rekening
62572565649

Gebruik kykNET as verwysing met die betaling. Alle navrae kan aan [email protected] gestuur word. Lees hier meer oor iDUC.