Logo

Kokkedoor keer terug – neem só deel!

Nuus
17 September 2018
Lees meer.
Kokkedoor Feature Image 1600 x 640

kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks Kokkedoor keer volgende jaar terug en is nou opsoek na deelnemers!

Die eerste twee Kokkedoor-seisoene is onderskeidelik in 2013 en 2014 uitgesaai, wat toe opgevolg is deur twee seisoene van KoekedoorKokkedoortjie en Koekedoortjie.

Wie sal ooit vir Tannie Poppie vergeet? Of Tiaan en Mynhardt se ongelooflike skeppings? Tannie Skuinskoek en Magda se sêgoed? Johnny en Elsa se innoverende spyskaarte? 

Vir Kokkedoor 3, wat in Julie 2019 uitgesaai sal word, soek kykNET weer na die perfekte kombinasie van onthoukok en kinkelkok.  

Die eerste twee seisoene van Kokkedoor het in Prins Albert in die Karoo afgespeel. Maar vir die derde seisoen gaan 20 deelnemers, 10 onthoukokke en 10 kinkelkokke, hulle in Kaapstad moet aanmeld. Groot pryse, wat binnekort bekendgemaak sal word, is ook op die spel.

Hetta van Deventer-Teblanche en Nic van Wyk sal ook weer terug wees as beoordelaars, maar gaan ook dié keer deur die bekende kosskrywer en -blogger, Sam Woulidge, bygestaan word.

Wat is ’n onthoukok?
Hulle is die fakkeldraers vir onthoukos, en al het hulle nie formele sjefs-opleiding en professionele ondervinding nie, klop hulle harte warm vir tradisionele kos. Vir inspirasie span hulle herinneringe en beproefde metodes van ma’s, oumas en tannies uit die huiskombuis in. Onthoukokke word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis en passie vir onthoukos.

Wat is ’n kinkelkok?
’n Kinkelkok se uitdaging is om hul sjefskwalifikasies, professionele kombuis-ervaring en uitstekende tegniese vaardighede vir vernuwing in te span. Kinkelkokke word gekies vir hul kwalifikasies en/of hulle ondervinding in ’n erkende restaurant en professionele kombuis (nie 'n braai-restaurant of koffiekroeg nie.)  Slegs ’n Huishoudkundegraad aan ’n universiteit is ook nie voldoende kwalifikasie vir dié kategorie nie. 

Ander belangrike inligting:

  • Alle navrae moet aan [email protected] gerig word.
  • Deelnemers moet ouer as 18 wees.
  • Inskrywings is oop vanaf 17 September tot 16 November 2018.
  • Oudisies sal in Kaapstad, Bloemfontein en in Johannesburg in die week van 26 November plaasvind.
  • Die skietdatums waarvoor finaliste beskikbaar moet wees, is 4 Februarie tot 7 Maart 2019.

Kliek hier om in te skryf.