Logo
web uni tv guide

Sê Jou Sê

145Geselsprogram13 L

’n Gelaaide "Sê jou sê" keer terug na kassie

Nuus
18 Maart 2024
Aden Thomas, die aanbieder, beloof dat kykers is "in vir ’n ding" in hierdie seisoen.
Aden Thomas

Wanneer jy aan die begin van ’n program gewaarsku word dat die menings die deelnemers se eie is, kan jy maar weet hier kom iets wat jou onkant gaan vang. Dit is hoe kykNET & Kie se gewilde Sê jou sê se derde seisoen weer met die Kaapse omroeper, Aden Thomas, in die ateljee afskop.

Aden belowe: “Hierdie seisoen is julle in vir ’n ding,” want getroue kykers weet op hierdie program daar word nie doekies omgedraai nie.

En hy ken sy gehoor goed.

Sê jou sê is waar ons alledaagse probleme bespreek. Die deelname van die gehoor is uiters belangrik. Dis amper soos gesprekke wat op die trein of in ’n taxi sou plaasvind. Álmal wil betrokke raak, selfs al ruk dit soms ’n bietjie handuit met emosies wat hoog loop,” sê hy. 

Dis juis in daardie deelname van alle kante af waar die sukses van Sê jou sê vir Aden gesetel is. 

“Almal kry ’n geleentheid om saam te praat, al is dit net om vir die TV-skerm te skree!”

Soos tevore gaan Sê jou sê-veldaanbieder en joernalis Chrislynn Sias ook weer pad vat om met Jan Alleman te gesels, om hul menings oor sekere kwessies te kry. Spiertier Nathan Castle maak ook weer sy verskyning as die balju (bailiff) in swart.

Wat gaan in die eerste episode van hierdie reeks kykers vasgenael voor die kassie hou en tot “woelagheid” in die ateljee lei?

In een van dié episode se gesprekspunte gaan kykers meer te wete kom oor ’n spysenier vir ’n troue, wat soos mis voor die son verdwyn het. Die huweliksgaste moes toe met wegneem-etes tevrede wees, al is die spysenier reeds betaal...

Gaan Aden iemand in sy gehoor vind wat vergewensgesind sal wees indien hul gaste hoog en droog – en honger – gelaat word op hul troudag?

En kan jy nou meer? Een van die ateljee-gaste is twee keer in dieselfde week deur ’n huweliksbeplanner, ene Vicky, bedrieg. Sy weergawe van hoe dit ontvou het, gaan beslis die gemoedere hoog laat loop.

Vicky is wel genooi om aan die ateljee-gesprek te kom deelneem om haar kant van die saak te stel, maar sy het die geleentheid van die hand gewys. 

Teen die tyd weet kykers Chrislynn laat haar nie maklik deur enigeen van stryk bring nie. Kykers gaan dus hoor wat Vicky te sê het toe Chrislynn haar telefonies in die hande gekry het.

Vir Aden is dit belangrik dat die kykers en deelnemers moet weet hulle is nie die enigste mense wat met probleme sit nie.

“Ek dink boonop kry hulle ook raad en advies van diegene wat deur presies dieselfde situasies in die gesig gestaar is,” vertel Aden. 

Dis ook waarom hy mense soos Trudie Broekmann, ’n verbruikersregte-prokureur, inspan. Sy gaan in die eerste episode advies gee oor wat mense te doen staan wanneer hulle bedrieg is en nie die dienste of produkte ontvang waarvoor hulle betaal het nie.

  • Sê jou sê, is ook vanjaar by die Suidoosterfees, waar Aden en Chrislynn, op Saterdag 27 April om 10:00 ’n gesprek gaan lei met vorige gaste van die reeks om te hoor hoe dit vandag met hulle gaan. Hulle gaan ook staaltjies deel van wat soms agter die skerms gebeur.

Stuur ’n e-pos aan [email protected] as jy deel wil wees van die gehoor.

‘Sê jou sê’ begin op Sondag  14 April om 19:00 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145). Episodes sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.