Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Illse Roos keer terug na ‘Suidooster’ - Suidooster

Nuus
17 Mei 2023
Sepie-kykers het waarskynlik gedink dinge gaan dalk vir ’n tydjie windstil raak in Suidooster, maar dit lyk of daar ’n stormagtige winter aan die broei is vir die inwoners van Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die reeks afspeel.
Suidooster

Vroeër vandeesmaand het dié SATFA-bekroonde kykNET-sepie in ’n skokkende kinkel afskeid geneem van die veteraanakteur Cedwyn Joel. Suidooster-kykers was geheel en al onkant betrap met die afsterwe van sy karakter, AB Samsodien, ná ’n skerpskutter hom per ongeluk in plaas van Dirk (Evan Hengst) geskiet het.

Intussen moes Suidooster-aanhangers toekyk hoe AB se weduwee Mymoena (Jill Levenberg) rou oor haar man terwyl sy tweelingseuns Rhafiek (Irshaad Ally) en Rhiyaaz (Anton Jeftha) in ’n oorlog met mekaar gewoed is oor sy testament.

Maar dit hou nie hier op nie. Nou word daar vir die komende weke nóg meer stormsterk-drama voorspel.

Die grootste verrassing is die terugkeer van Rita du Plooy (Illse Roos) wat Tim (Marco Spaumer) se ma is. Kykers het in 2016 vir Rita ontmoet, en sy keer nou weer terug na Ruiterbosch nadat sy jarelange behandeling vir skisofrenie ontvang het.

Illse sê dit is vir Rita moeilik om weer terug in Ruiterbosch te wees. Dit het ook vir Tim onkant gevang want hy het nie besef die sanatorium het sy ma ontslaan nie.

“Dit is vir Rita ’n konstante herinnering van hoeveel sy van haar lewe, en hoe baie sy van Tim se lewe gemis het,” sê Illse.

“Tim is haar hart se punt, en sy was nie daar vir soveel van Tim se groot oomblikke in sy lewe soos vir sy troue nie. Dit knaag aan haar.”

Volgens Illse is Ruiterbosch ’n baie ander plek as sewe jaar gelede met talle nuwe gesigte.

“Só het Rita se eksman, Chris (Marcel van Heerden), weggetrek en talle ander bekendes, soos AB wat dood is, is ook nie meer in Ruiterbosch nie. ”

“Sy maak tog ’n paar nuwe vriende en Elana (Esther van Waltsleben) word vir haar ’n hartsvriendin. Maar dan is daar ook ongure karakters wat Rita as ’n pion vir eie gewin wil gebruik.”

Oor haar karakter sê Illse dat sy ’n “sagte plekkie” vir Rita het. 

“Rita is ’n interessante pakkie, maar ek geniet haar vreeslik. Sy’s uitputtend, maar ’n heerlike uitdaging en ek is dankbaar om weer in haar skoene te kan klim.”

Suidooster, wat in 2022 met ’n SAFTA-toekenning as beste sepie bekroon is, saai Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en 18:30 op kykNET & kie uit.