Hartklop het afgeskop en vir die volgende weke gaan daar weekliks ’n artikel verskyn wat uit ’n kort onderhoud met een van die spelers, die mediese geval wat deel van die episode was asook ’n interessante feit oor die reeks verskyn.
Simoné Pretorius is Dr. Elani Breytenbach
Jy het al erken dat jy grillerig is vir bloed. Is dit beter ná die verfilming van Hartklop?
Die fobie is beslis al beter. Maar my vrees vir naalde bly onaangeraak.
Wat dink jy is Elani se sterkste eienskappe?
Elani het in die mediese rigting beweeg omdat sy ’n hart vir mense het. Sy besef dis nie net medisyne wat genees nie, maar liefde en omgee.
En haar swak punte?
Bogenoemde lei egter ook tot baie pyn vir haar. As sy haar hart aan elke pasiënt gee, gaan sy dit nie maak nie. ’n Dokter moet ’n dik vel hê.
Wat het jy geleer van jou mede-spelers?
Ek het eerstehands gesien dat hulle werklik die room van die industrie is. Ek het geleer dat Jacques Bessenger ook ’n introvert is en soveel beter oor myself gevoel dat ek ook wegkruip wanneer die kameras ophou rol om my energie te spaar. Marlee van der Merwe, Leandie du Randt en Christel van den Bergh ontferm hulle so maklik oor hulle medespelers. Dawid Louw het net so ’n klein hart. Oros Mampofu is een bol energie en vol besigheidsplanne. Renate Stuurman is ’n vrou van staal. En ek en Carla Classen kon vir ure filosofeer.
As jy vir Elani een stukkie raad kan gee, wat sal dit wees?
Dit was nie jou skuld nie. Kykers sal maar moet wag om te leer hoekom.
Die mediese geval: Die kriewelrige gogga
Die geval van die gogga het werklik gebeur, vertel Zoë Laband, skrywer van Hartklop. “Die geval in episode 1 is moontlik die vreemdste in die reeks, maar dit is waar. Een van die dokters met wie ek ’n onderhoud gedoen het, was ’n intern by ’n groot staatshospitaal. ’n Vrou, wat swanger gelyk het, het by ongevalle opgedaag en gekla van krampe. Hulle het ’n sonar gedoen, maar kon nie ’n fetus sien nie. Daar is ’n inwendige ondersoek gedoen en die intern het iets gevoel wat oor haar vingers hardloop, amper soos ’n insek. Sy kon dit raakvat, het dit uitgetrek en dit het soos ’n garnaal gelyk. Sy het nog nooit voorheen so iets gesien nie en het dit na die laboratorium gestuur vir toetse, maar dit het verlore geraak en daar is nooit gevind wat dit was nie. Die pasiënt is vir parasiete behandel en dit het gehelp.”
Interessante feit: Rompslomp
Die produksiespan wou op ’n manier wys hoe burokratiese rompslomp die oorsaak is dat dit soms maande kan neem vir enigiets om in staatshospitale reggemaak te word. “Terwyl die reeks geskryf is, was daar ’n brand by die Charlotte Maxeke-akademiese hospitaal in Johannesburg en die psigiatriese-afdeling moes na die Helen Joseph-hospitaal geskuif word, maar daar was nie plek vir hulle nie. Tydelike fasiliteite is opgerig, maar daar byvoorbeeld nie badkamers om te gebruik nie,” sê Zoë. “Ek het aanvanklik in Hartklop geskryf dat die water afgesny is, maar die vervaardigers het gesê ons kan nie verstopte toilette vir ’n hele reeks hê nie. Ons het toe op ’n elektriese probleem besluit met ligte wat nie werk nie. Die kameraspan het ons gehaat daarvoor!”
Skakel elke Dinsdag om 20:00 in vir 'n splinternuwe episode van Hartklop. Dié reeks kan ook gestroom word op DStv. Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk, #Hartklop te gebruik.
