Logo
Hartklop slim bb
web uni tv guide

Hartklop

144Drama16 L

"Hartklop" laat kykers se harte warm klop

Nuus
04 September 2023
Die hospitaaldramareeks, "Hartklop" is oor die halfpadmerk, met episode 7 wat Dinsdagaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai is.
Hartklop artikel image

Kykers se entoesiastiese kommentaar oor Hartklop op kykNET se Facebook-blad maak dit duidelik: Dié reeks is ’n móét.

“Sien uit na elke Dinsdagaand. Puik hospitaaltonele.”

“Hierdie akteurs en aktrises moet toekennings kry vir hulle rolle in Hartklop. Puik, puik, puik!”

Hartklop is ’n fantastiese reeks! Die toneelspel is uit die boeke. Sal elkeen ’n Oscar gee.”

Hier is ’n nuttige, vinnige opsomming as jy nog nie begin kyk het nie, maar nuuskierig is oor die gegons rondom die reeks:

Drie dokters meld in die eerste episode vir hulle eerstejaar-internskap aan. Simoné Pretorius (Binnelanders, Hotel) is dr. Elani Breytenbach. Haar kliniese assistent en direkte hoof is dr. Veronica Pietersen (Renate Stuurman). Die konsultant, oftewel die hoof van die afdeling, is dr. Suzanne de Jongh (Marlee van der Merwe).

Carla Classen (Stroomop, Lioness) is dr. Karima Salie en werk in ongevalle onder die kliniese assistent dr. Louw van Onselen (David Louw). Die hoof van hulle afdeling is dr. Daniel Strydom (Jacques Bessenger).

Dr. Fezile Nodada, vertolk deur Oros Mampofu (Skeem saam, Savage Beauty), se kliniese assistent is dr. Jolene Joubert (Leandie du Randt). Die konsultant van chirurgie is prof. Gustav Coetzee (Dawid Minnaar). Christel van den Bergh is te sien as Anke Dempsey, ’n hoogs bekwame verpleegster in die noodafdeling.

In die eerste episodes is dit duidelik dat elkeen van die dokters hulle eie stories en geheime het. Elani kom uit ’n welgestelde huis en haar kop mik oorsee. Karima se streng Moslem-agtergrond en Fezile se tradisionele Suid-Afrikaanse kinderjare het alles ’n invloed in hoe hulle na die wêreld kyk.

Veronica se huwelik beland op die rotse, Jolene se rowwe jeug haal haar in, en Louw sukkel om ’n balans tussen sy sin vir verantwoordelikheid en sy liefde vir vroue te vind. Daniel, aan die ander kant, het ’n ma wat steeds sy lewe dikteer. Suzanne se liefdeslewe wil net nie vlot nie, en Gustav regeer met ’n ysterhand.

“Ons het almal van die teks gehou en het gehoop die kykers sal daarby aanklank vind, maar dit is haas onmoontlik om te weet hoe ’n drama ontvang gaan word,” sê JP Potgieter van Quizzical Pictures, die vervaardigers van Hartklop. “Die feit dat die reeks so goed ontvang is, is ’n baie groot kompliment en maak al die harde werk die moeite werd.”

Wat kan kykers van die oorblywende episodes verwag?

Jolene moet haar duiwels konfronteer wanneer sy na ’n rehabilitasiesentrum toe gestuur word. Elani word in ’n skietvoorval beseer. Daniel se ma maak dit duidelik dat nie enige vrou goed genoeg vir haar seun sal wees nie, en drie van die vrouedokters trek saam in ’n huis in.

“Die reeks hou die wipplank van emosies en persoonlike drama van die karakters vol, en dit raak baie intens wanneer sake einde se kant toe staan,” sê JP. “Bykans elke hoofkarakter kom voor ’n groot keuse te staan. Ek kan nie wag om uit te vind hoe die kykers gaan voel oor die keuses wat hulle gaan maak nie.”

Die eerste sewe episodes is beskikbaar op DStv Stream, en elke nuwe episode sal ná Dinsdae se uitsending gelaai word. Jy het dus ’n keuse. Haal nou in en kyk die res van die reeks op kykNET of wees geduldig tot die reeks klaarmaak en kyk alles op jou eie tyd. Die dertiende en laaste episode word op 10 Oktober op kykNET (DStv-kanaal 144) om 20:00 uitgesaai. Wees net gewaarsku: Hartklop is verslawend.