Logo
Plaasjapie

Goeie nuus! kykNET soek weer deelnemers vir "Plaasjapie"

Nuus
26 Julie 2023
Inskrywings open op 26 Julie 2023 en sluit weer op 25 Augustus 2023.
Plaasjapie S2 CTE Social Sharing Image

’n Tweede seisoen van Plaasjapie is op pad! En as jy die verskil van ’n stoep-en-tee-boer en ’n murg-en-been-boer ken, is dié gewilde kykNET-werklikheidsreeks jou kans. Dan is daar natuurlik ook die aanloklike R1 miljoen-prysgeld op die spel.

Soos met die eerste seisoen, gaan 16 deelnemers mekaar die stryd aansê om hul staal en boervernuf te toon. Dis net daar waar die kinkel is. Plaasjapie is nie op soek na gevestigde boere nie, maar na stad- en dorpsjapies wat smag na die plaaslewe en die uitdagings wat dit bied.

Is jy iemand wat soos ’n boer ’n plan kan maak, ongeag die omstandighede? Het jy al in ’n basiese skuur sonder veel geriewe met 15 vreemdelinge gebly? 

Wees verseker, daar gaan gekonkel en dalk by tye ook gekul word. Planne gaan gesmee word met alliansies en ander gaan jou weer onder die spreekwoordelike bus, of eerder trekker, probeer gooi – alles ter wille van oorlewing vir tot R1-m in prysgeld.

Terwyl jy deurentyd bewus moet bly van die onderstrominge in die groep, moet jy ook fokus op take wat voltooi moet word. Dit gaan harde werk wees en soms mag jy dalk wonder of jy die regte ding gedoen het. Maar dis waaroor dit gaan om ’n boer te wees – om uit te hou, aan te hou en altyd met ’n doenbare plan vorendag te kom.

Dian Louw van Pretoria was die wenner van die eerste seisoen. Hy het soos ’n veteraan draad gespan en skape aangejaag, iets wat myle buite sy gemaksone as kunstenaar was. 

“Ek het flippen hard gewerk en ek het alles gedoen om my plek op die plaas te verdien sodat niemand die vinger kon wys dat ek lyf wegsteek nie,” het hy verlede jaar gesê nadat hy as wenner aangewys is.

Hoe voel Dian oor die tweede seisoen van Plaasjapie

Dian moedig ook mense baie entoesiasties aan om in te skryf vir vanjaar se seisoen want hy sê dis ’n ervaring wat jou hart verander. 

“Dit is die avontuur van ’n leeftyd. Jy leer nie net meer van jouself ken nie, maar ook van ander mense, die plaas en hoe boere dit doen. Ek lê party aande en kan steeds nie glo ek het dit gedoen nie. Dit voel soos ’n droom.

“Skryf in; toets jouself. Dis maklik om op die bank te sit en te dink jy kan dit maklik doen... tot jy daar is en jy met verlange en snaakse persoonlikhede moet deal."

“Jy leer om stil te wees en in daai stiltes groei jy ook. Of dit die eerste of laaste dag is wat jy daar wegstap, jy leer iets oor jouself, van ander mense en die lewe. Dan is daar die verbintenis met die natuur..."

“Ek sit deesdae ook maklik my foon weg. Ek kan dit doen, ek het 21 dae sonder dit deurgebring. Dis net lekker om te weet dis back to basics. Dis een ongelooflike avontuur. Staan van die bank af of en staan op vir jouself.”

Die programaanbieder, Ewan Strydom, het Dian se sukses in Plaasjapie onder meer daaraan toegeskryf dat hy alles sistematies en kalm aangepak het.

Hoe om in te skryf

Inskrywings open op 26 Julie 2023 en sluit weer op 25 Augustus 2023. Geen laat aansoeke sal aanvaar word nie.

Gaan na kyknet.tv om jou aanlyn-aansoekvorm te voltooi en terselfdertyd ook jou video (nie langer nie as 3 minute) en ’n onlangse foto van jouself op te laai.

Jou inskrywings-video moet die volgende bevat: 

  • Stel jouself bekend; 
  • Vertel meer oor jouself; 
  • Vertel waar jy nou bly; 
  • Verduidelik hoekom jy ’n Plaasjapie wil wees.

Hoe oud moet iemand wees om deel te neem? Ten minste 18 jaar oud op die dag wanneer jy die inskrywingsvorm voltooi.
Kan enigiemand inskryf? Enige Suid-Afrikaanse burger wat ’n geldige identiteitsdokument het. 

Hoe lank gaan die verfilming duur? Dit behoort nie langer as 25 dae te neem nie.

Wanneer gebeur verfilming? Deelnemers moet in Oktober 2023 beskikbaar wees.