Logo
Binnelanders S13 Slim BB Updated November 2023
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Donker wolke pak saam in jou gunsteling kykNET-sepies dié April

Nuus
04 April 2023
‘n Boekklub, misdaadbende en ‘n nuwe apteker is maar net ‘n paar gebeurtenisse wat plaasvind in jou gunsteling kykNET-sepies in April.
Binnelanders 1

Diepe Waters:

...en daar tuimel Sanet se kaartehuise inmekaar, en dit alles te danke aan Karla. Aan die einde van Maart het Karla besluit genoeg is genoeg, en het sy die sneller getrek en vir almal vertel dat Anja en Rossouw die kat in die donker (of is dit nou die swembad?) knyp - en dat niks is soos wat dit lyk nie. Maar hoe gaan hierdie skok-aankondiging die waters vertroebel waarin die Swarts-familie hulself reeds bevind? Want dit is nie die enigste geheim wat uitkom nie: Gys en Anja gaan mekaar ook vasvat, en lig op die donkerte van die verlede gooi. 

Anja en Rossouw se geheim mag dalk nou op die lappe wees, maar hoe gaan die res van die gemeenskap reageer op die waarheid wat soos 'n paal bo water uitsteek? Sanet is nie 'n vrou met voete van klei (of naels en 'n tong wat nie vlymskerp die septer kan swaai nie!) en sy gaan beslis nie so maklik afstand doen van dit wat sy dink aan haar behoort nie. Verdien Anja en Rossouw dan nie die roos-blink toekoms waarop hulle nog altyd gedroom het nie? 

Ongelukkig is dit nie waar die tranedal begin en eindig nie, want elke geheim vra 'n prys - en dit is duidelik dat Sanet en Karla die swaarste dra aan die juk van die verlede. Beide ma en dogter gaan tot die uiterste om hul emosies te verwerk, en 'n mens kan net hoop dat dit nie meer permanente skade aan 'n reeds broos familie-eenheid gaan besorg nie. 

Terwyl almal aan hulle sewe sondes nadink en hul wonde lek, moet die lewe wel voortgaan - en Gys se visier is gerig op die groot kompetisie wat in Mei in 'n swembad gaan plaasvind. Ongelukkig gaan Tshepo en Nina gebuk onder die druk van 'n Gys wat net goud sien, hoor, proe en dink - tot een verskriklike nag wat ALMAL onder verdenking plaas. Hoeveel keer kan 'n mens die dood nou juis vryspring? En presies hoeveel geheime is daar nog aan die bodem van 'n swembad? 

Binnelanders:

Die idee van ’n nuwe boekklub vat vlam, en een van Binneland se dokters groet Pretoria. Tracy maak ’n vreemde ontdekking en raak onwillekeurig betrokke by ’n situasie wat haar lewe in gevaar kan stel. At en Laetitia besluit op ’n troudatum, en Gaby wil hê Tertius moet in ’n nuwe besigheid belê. ’n Gesogte spesialis steek voelers uit om by Binneland aan te sluit, en Thalia se modelwerk maak Louis ongemaklik.

Louis kry sy kans om sy ware gevoelens teenoor At te verwoord, en Danny het groot planne om te reis. Nicolette kry ’n opwindende werksaanbod, en inligting oor ’n misdaadbende lek uit.

Arendsvlei:

Hier moet ’n paar gesprekke in April van aangesig tot aangesig gevoer word in die Vlei. As dit nie Saartjie is wat vir haar ma lieg oor haar dwelmprobleem nie, dan is dit Rachel wat die Cupido’s se lewens net nog verder verwoes, terwyl Anthony tjoepstil sit en met sy gevoelens worstel. 

Alhoewel Daniel al vir ’n geruime tyd weet Saartjie het ’n dwelmprobleem en dit boonop van haar ma behou, val Daniel self in Saartjie se strik van probleme. Sy verlei hom een aand en net daar val Daniel in die donker gat en begin self met dwelms eksperimenteer. Tot Saartjie in groot gevaar is en Daniel vinnig moet besluit – vertel hy haar ma of probeer hy self haar lewe red?

Anthony sit nou al vir weke met die skuldgevoel oor sy vrou, Rachel se dade. Vir eens voel hy het sy regte familie gevind en hy sien watter goeie mense hulle is. Anthony wil nie hê die Cupido’s moet alles verloor nie, maar elke liewer keer kry Rachel dit reg om hom te oorreed om met die plan voort te gaan. Tot daar later in April ’n omwenteling kom en Anthony onverwags Beatrice se steunpilaar word. Gaan hy eindelik vir Beatrice alles vertel?

Lennie en sy broer, Tanner, sit nou al elke dag vas vandat Tanner onverwags opgedaag het. Maar wat Lennie nie weet nie, is dat Eva romantiese gevoelens vir Tanner ontwikkel het. Sy vertel nie vir Tanner nie, maar raak verskriklik jaloers as Tanner en Ruby nader aan mekaar beweeg. Maar wanneer Tanner eindelik teen die einde van die maand daarvan uitvind, maak hy ’n drastiese besluit oor sy toekoms en dit gooi Lennie se hele lewe omver. In wie se arms beland Eva teen die einde van die maand?

Suidooster:

Daar is ’n nuwe intrekker in Ruiterbosch en almal hou dadelik van Aiden Booysen, die sjarmante nuwe apteker by die Aalwyn Apteek. Wade en Justin is sommer gou in hul noppies om Aiden as ’n vriend te hê, maar dit lei tot spanning in hul eie vriendskap. Donker wolke pak ook oor die Samsodien-gesin saam, soos onmin dreig oor Bianca en Dirk se verhouding, wat bitter vinnig spoed optel. Dit steek veral vir AB dwars in die krop, veral as dit begin lyk dat Dirk hier is om te bly en dat hy en Bianca glo hulle is waarlik vir mekaar bedoel. Gaan Bianca moet kies tussen die liefde van haar lewe en die Samsodiens? Die Samsodiens werp alles in die stryd om Bianca te oorreed om die regte besluit te neem… Daar is is ook onheil in die agtergrond aan die broei, want iemand uit Ruiterbosch se donker verlede, wil kom wraak neem… Angie se lewe is weer ’n lied, want sy is nou ’n sakevrou met haar eie nael salon. Siya en Danni stem in om tyd en wyl na Brendan te kyk omdat Zenobia vir ‘n week moet weggaan. Maar dan verdwyn Zenobia van die aardbol en almal vrees die ergste...

Bly ingeskakel op kykNET, kanaal 144 en kykNET&kie, kanaal 145 vir die nuutste nuus in Suidooster, Diepe Waters, Binnelanders en Arendsvlei. Onthou ook om saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram.