Logo
Slim BB vjgt
web uni tv guide

Vat Jou Goed En Trek

144RealiteitPG

Die moets en moenies van ’n fokusmuur – Vat jou goed en trek

Nuus
16 September 2022
Die fokusmuur moet gebruik word om die vertrek te komplimenteer. Lees meer oor hoe jy dit kan doen.
fokusmuur vat jou goed en trek

Die leefarea van ’n huis is dikwels die hart van ’n huis. Daarom is dit belangrik dat dié vertrek altyd op sy beste lyk.

Zane en haar man, Pieter, woon in ’n pragtige gholflandgoed in Irene. Zane se ma het ’n jaar en ’n half gelede by die paartjie en hulle drie kinders ingetrek en met Pieter se ma wat onlangs 80 geword het, wil hulle ’n groter huis koop sodat sy ook by hulle kan kom woon.

Die probleemarea: Die leefarea

Pieter en Zane se huis raak knap met almal onder een dak. Hulle het dus hulle leefarea in ’n kamer vir Zane se ma omskep. Dit is nie ideaal vir die verkoop van die eiendom nie aangesien die spasie kopers afskrik.

Die plan is dus om die leefarea weer in ’n sitkamer te omskep sodat voornemende kopers die potensiaal van die spasie kan sien. Die huis, met sy groot vertrekke en natuurlike dekor, skep ’n aardse gevoel en die span wil nie te uitspattig gaan in die sitkamer wat hulle omskep nie.

Candice het besluit op ’n donkerbruin fokusmuur en skakerings van beige wat met die dekor deurgetrek word. Dit is gewoonlik waaghalsig om ’n muur donkerbruin te verf, maar die grootte van die vertrek laat die span toe om met donker kleure te speel om die spasie warmer te laat vertoon.

Wenke indien jy ’n fokusmuur beplan:

  • Vind die fokuspunt in die vertrek en kies die fokusmuur daarvolgens. Die fokusmuur moet gebruik word om die vertrek te komplimenteer soos byvoorbeeld die muur agter jou bed se kopstuk in jou slaapkamer.
  • Vermy liefs ’n fokusmuur in ’n klein spasie. Dit kan die vertrek kleiner laat vertoon.
  • Moenie dink dat slegs muurpapier of verf vir ’n fokusmuur gebruik kan word nie. Jy kan ook materiale soos teëls, steen en hou gebruik.
  • Moenie bang wees vir muurpapier nie. Daar is vele opsies wat maklik is om te verwyder sou jy dit later wou verander.

Foto bronne: Pexels en Vat jou goed en trek seisoen 8

Stroom die reeks Vat jou goed en trek op Vrydae om 17:30 op kykNET op die DStv-app. Jy kan ook jou mening gee oor die program aanlyn, gebruik die hutsmerk #VatJouGoed.