Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Die herfswind bring drama in jou gunsteling sepies dié April!

Nuus
01 April 2020
Lees dié artikel as jy net nie meer kan wag om te sien wat volgende in jou gunsteling sepie in April gaan gebeur nie!
April Sepiehoogtepunte

Getroud met Rugby

Mia en Bart se verhouding neem ’n nuwe wending wanneer hulle amptelik ’n paartjie word. Sinbin vind uit van hulle affair, en dit veroorsaak geweldige konflik in Stryders geledere. Mia besluit om by die pom-poms te bedank, sodat sy ten volle kan fokus op haar en Bart se verhouding. 

Die vrou wat saam met Maryke in die Brasiliaanse tronk was, Rita, manipuleer vir Maryke om vir haar geld te leen, maar Maryke is salig onbewus van Rita en haar kêrel, Barry se agenda. Na die verdwyning van ’n geliefde ornament, is Koekie vas oortuig dat Rita die dief is. Sy beraam ’n plan om Rita uit te vang en op die ou end steek sy ’n stokkie voor Rita en haar kêrel se planne. Koekie en Festus se ondersoek het nie positiewe gevolge vir Rita en Barry nie.  

Dinge by die Stryders word ’n bietjie omgekrap wanneer die afrigters besluit om ’n nuwe kaptein aan te stel. Die Stryders se nuwe flank, Wynand Steyn, sluit by die span aan.  

Blitz is baie bekommerd wanneer Johan ’n foto van homself op die internet plaas, vir ’n “maatjie” DragonSlayer. Dan kom Blitz en Lienkie agter dié persoon is ’n internet-predator, met duistere motiewe. Blitz ontmoet DragonSlayer in die publiek en keer hom vas. 

Reitz is baie verras wanneer Chrissie terugkom van oorsee om vir ’n rukkie te kom kuier. Die liefde tussen Liam en Candice blom behoorlik wanneer Liam amptelik vir Candice vra om te trou! Ryno reël vir Thinus ’n sexy verrassing! 

Simon en Renate gaan voort met die egskeiding en moet albei hulle nuwe lewens aanpak.

 

Suidooster

In die komende weke gaan die Suidooster stormsterk in Ruiterbosch woed. Die vete tussen Bridgette Jacobs en Nazeem Samsodien word tot ’n spits gedryf soos hy die waarheid oor wie sy pa eintlik is probeer ontbloot –  en Bridgette gaan sukkel om haar familie se goeie naam te beskerm. Michelle en Stefan Gerber word ook deur ’n lewens veranderende krisis in die gesig gestaar en hul wêreld spat in skerwe soos die noodlot hulle en hul aangenome seun, Quinton, tref. Michelle en Quinton se lewens is in gevaar en dit is onseker of hulle dié gebeurtenis gaan oorleef. Dan lyk dit ook of die liefde ook uiteindelik vir Kaashifa blom soos Junaid by haar vlerksleep, maar is sy liefde vir sy troeteldier, dalk die slang in die gras vir hul verhouding?

Binnelanders

Meer as een skim uit die verlede kom om die hede so bietjie meer ingewikkeld te maak as wat nodig is.

Die eerste kan net nie die hartseer van die verlede laat gaan nie, en is terug met ’n plan om te verseker dat die pyn deur al die betrokke partye gedra sal word. Dit beteken ook dat daar afskeid geneem sal moet word van ’n staatmaker karakter, waarsonder die lewe maar effe vervelig sou kon raak. Maar dit is nie die enigste witwarm kykgenot wat op kykers wag nie.

Die tweede is terug om ’n hoofpyn uit te sorteer – maar of dit nou ’n fisiese een of ’n metaforiese een is, sal ons nie nou al kan sê nie. Dié karakter word ook nie met ope arms verwelkom nie, want toe hulle weg is uit Pretoria het hulle heelwat wonde agter gelaat wat deur die res self gedokter moes word. Om ou wonde oop te krap is seker nie die doel van die terugkeer nie – maar dit gebeur wel.

Maar dit is nie net alles pyn en lyding nie, want daar is ook heel moontlik ’n nuwe paartjie of twee wat hulle gevoelens nie langer vir mekaar kan wegsteek nie. Of dit alles gaan uitwerk soos dit moet, is net iets waaroor Kupido sal kan koning kraai – en die res sal moet verlief neem met die nuwe intriges wat die weë van die liefde bring.

Intussen gaan Louis sy stem moet dik maak indien hy vir At wil beïndruk, want daardie aandele in NAGSKOF gaan nie net in sy skoot val nie. Louis se bemarking veldtog maak wel ’n indruk op die gewilde kuierplek se kliënte, maar gaan dit genoeg wees om At so ver te kry om sy halfbroer in ’n nuwe lig te sien? Want dit sit nie in almal se broek om ’n onverskrokke besigheidsman soos At Koster te wees nie. En dan is daar natuurlik ook die besigheid wat blindelings uit NAGSKOF bestuur word wat aandag gaan trek – veral wanneer daar ’n meisie verdwyn…

Skop jou skoene uit, gaan maak ’n koppie tee en maak jouself tuis op die rusbank vir al dié opwinding wat in April in jou gunsteling sepies gaan gebeur – en onthou ook om saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram.