Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Dis heerlike lente in jou gunsteling kykNET-sepies

Nuus
02 September 2021
Loer hier wat spruit hierdie seisoen in jou gunsteling kykNET-sepies
GMR kykNET DStv Sep12

Getroud met rugby
Magda raak bekommerd oor Pottie wanneer JJ terugkeer en weer moeilikheid veroorsaak. Sy ontdek dan dat Pottie weer begin drink het. Die spanning tussen Kristien en Amanda loop hoog wanneer Kristien uitvind Amanda het die waarheid oor JJ se gekonkel met Pottie’s aan Pine uitgelap. Die spanning tussen hulle vererger wanneer Kristien vermoed daar is ’n vonk tussen Bart en Amanda…

Renate raak obsessief oor “kieme” en is op ’n missie om die huis vir Regardt te babyproof. Haar obsessiwiteit ruk handuit en veroorsaak spanning tussen haar en Simon – veral wanneer Simon begin hallusineer.

Ronnie begin met sy nuwe werk by die stadion en ontmoet die meisie van sy drome. Dinge raak later ongemaklik tussen hom en Liam wanneer hy iets skokkends by die stadion ontdek…

Bibi en Maryke het hulle hande vol met die salon nadat ’n kompeterende salon in dieselfde winkelsentrum hulle deure moes sluit. Hulle stel uiteindelik ’n nuwe haarstilis aan – Meyer Burger.

Festus en Koekie se skelmstreke word op die lappe gebring en hulle moet ander blyplek soek. ’n Groot ster tree in Pottie’s op en Ryno besef hy sal moet gereedmaak vir ’n lewe sonder Thinus.

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Suidooster
Dit is lente in Ruiterbosch, maar met die oorgang na ‘n nuwe seisoen spruit daar ook nuwe probleme!

’n Deurwinterde Chris mag dalk tot ‘n val kom danksy die bose wraakplan wat Werner van stapel gestuur het… Dié swaard wat oor Chris se kop hang hou verband met sy verlede as polisieman, en hy mag dalk nie gou weer sonlig sien nie.

Tyron se kitsouerskap veroorsaak verdere groot spanning in sy verhouding met Lee-Ann soos sy en Carlo mekaar net nie kan vind nie. Tyron kom dus voor ’n baie belangrike keuse te staan… Is een van Ruiterbosch se geliefdste paartjies se verlowing dalk ’n bloeisel wat nie gaan ryp word nie? 

Die JPD-span woeker ook verwoed om Bridgette se sakeryk te laat blom en ‘n nuwe aanstelling veroorsaak opwinding – en onmin.

Tog is dit wel ‘n heerlike lente in Ruiterbosch vir Bennie, want hy het dalk net iemand gevind om ‘n nessie mee te bou… Sy nuwe vriendin Linda is vir hom ’n pragtige blom en mag hom dalk net meer fassineer as om voëls te kyk.

Suidooster is weeksdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145).

Binnelanders
Lentedag begin op 'n so-so noot, wanneer Ilse vir mense moet begin inlig dat Okkie Vrystaat toe is om iets vir Boeta te gaan uitsorteer terwyl hy oorsee is. Dit laat natuurlik 'n wrang smaak in party se monde, want wat gebeur nou met die voorlegging wat Okkie en Louis aan Annelize en Conrad moet doen? En wie gaan Tonik bestuur met dieselfde rustige sjarme as Okkie?

Nog 'n paar vals note eggo in die volgende paar dae wanneer dit duidelik raak dat Rex van der Linde geen lente of lied in sy hart het vir die bure nie - en sy grootste teiken is die gewoonlik sagmoedige Louis Koster. Maar iets omtrent Rex se manier van dinge doen, en sy vriende, begin die res van die bure ontstig - en dan gaan die polisie ook betrokke raak wanneer iemand as vermis aangemeld word. 

Gaan ons ooit uitvind wie Delia se ongebore kind se pa is? Want dit is nou een geheim wat net nie deur Binneland Stereo opgelos kan word nie. Maar daar is drie mense wat weet - en nie een gaan uitpraat nie. 

Liam Vorster is nie 'n onbekende pasiënt by Binneland Kliniek nie, veral nie na sy bergklim-ongeluk 'n paar maande gelede nie - maar sy houding staan nie een van die verpleegsters aan nie, en hy maak beslis nie vriende met sy bedekte woede nie. Is daar niemand wat hierdie storm wil trotseer nie? Of is daar een spesifieke persoon wat vir baie meer kans sien as wat sy mag?

Karen Kriel en Uys Wagener sit in dieselfde bootjie. Hul gemeenskaplike vriendin, Gaby Toerien, vat nie maklik 'nee' vir 'n antwoord nie - en wanneer sy besluit dat die liefde net die regte doepa is vir elke probleem onder die son, is Karen en Uys se hel 'n gedeelde seisoen. Is daar 'n vinnige en maklike manier om hierdie nagmerrie te vermy? Natuurlik is daar, maar sien hulle kans om daad by die woord te voeg?

Brandon Samuels se aankoms in Pretoria is nou nie 'n verrassing nadat hy einde van Augutus besluit het om 'n praktyk in Binneland Kliniek oop te maak nie, maar die gesiene man kom nie sonder sy eie drama na die Jakarandastad toe nie. Hoe gaan Chanel reageer wanneer haar pa vir haar vertel hoe die wind nou eintlik waai in sy lewe?

'n Nuwe vars briesie kom in Steve se lewe ingewaai danksy Charlotte, Vicky se maatjie, wanneer Charlotte se mamma, Janneke Stuurman, begin aanklop om handjie by te sit in die nuut gevormde gesin se lewe. Maar Lexi is glad nie te vinde vir die vreemde vrou nie, en kort voor lank is daar ook natuurlik 'n hele paar stories wat soos nuwe bloeisels orals verskyn. Maar wat is die waarheid, en wat is fiksie?

Die twee mans wat Danny na Binneland Kliniek toe bring vir behandeling na 'n gruwelike onderonsie, gaan nog groot moeilikheid veroorsaak. Want Roelf en Max is beslis nie vriende nie, en een van hulle vertel beslis nie die waarheid nie. Maar wie moet 'n mens nou glo - en waar is die bewyse vir die verskriklikste aantygings?

Die lewe is beslis 'n lied dié lente, maar so nou en dan het 'n mens 'n paar vals note ook nodig om die simfonie te kan waardeer. 

Binnelanders is weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.