Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

Die GROOT Ontbyt se “Prinses Elsa” beweeg in ‘n nuwe seisoen in

Nuus
01 Maart 2022
Dis hoe Elsa Esterhuizen aan haar kollegas bekend was. Sy het ook die naam as ‘Bollywood’-fanatikus, kat-‘whisperer’ en formidabele aanbieder en – nuusleser gehad.
Elsa Esterhuizen DGO Artikel Image

Elsa is vanaf 2012 betrokke in die uitsaaiwese en begin haar loopbaan by Bosveld Stereo 107.5. Van hier af, beklee sy die rol as omroeper by GROOTfm 90.5 in 2013, en, sluit sy in 2014 by etv se “Sunrise”-oggendprogram aan. Dié keer, nie net op radio nie, maar ook op die kassie. 

In 2015 word geskiedenis gemaak met baanbrekerswerk toe twee mediums – radio en televisie – in ‘n hibried-konsep op kykNET kanaal 144 en op frekwensie 90.5 te sien én te hoor is. Hier was Elsa, CEO van die Bloudruk Groep, Hardus Zevenster, se eerste keuse as nuusleser en mede-aanbieder, langs Johrné van Huyssteen en Hendri Myburgh. Nie net is Elsa die nuusleser en aktualiteitsaanbieder van Die GROOT Ontbyt nie, maar word ook in 2016 die anker van GROOT PLAAS – ‘n landbouprogram wat voor Die GROOT Ontbyt op kykNET kanaal 144 uitgesaai word.  

Oor haar passie vir die kassie en die uitsaaiwese, het Elsa die volgende te sê: “Ek dink beide televisie en radio bied die geleentheid en voorreg om mense ingelig te hou. Daarom beskou ek dit as ’n ongelooflike verantwoordelikheid en van kardinale belang om mense te alle tye op ’n professionele wyse bewus te maak van wêreldgebeure in samewerking met die gaste en die merkwaardige insig wat hulle na die tafel toe bring. Die adrenalien van so ’n verantwoordelikheid en voorreg is een van die dryfvere wat ek die meeste geniet.”

As Elsa haar hoofstuk by GROOTfm 90.5 en Die GROOT Ontbyt kon saamvat in een sin, is dit, “Dit was ’n goeie leerskool wat my nie net geleer het om op my voete te dink nie, maar my mensekennis ook aansienlik verbeter het.” 

Elsa het in die afgelope sewe-jaar verskeie hoogtepunte ervaar op, oftewel langs die geelbank, en is dit ‘n uitdaging om enkeles uit te sonder. “Daar is so baie, maar as ek nou ’n paar moet uitsonder sou ek sê, elke aktuele gesprek met ’n politieke ontleder, onderhoude met nuuspersoonlikhede soos Riaan Cruywagen, Waldimar Pelser, Suzaan Steyn en Freek Robinson, en Elandré wat my al regstreeks in die ateljee kom verras het –  ek kan nie onthou wanneer laas ek so “starstruck” was nie”, sê Elsa. 

Elsa gaan die interessante gaste baie mis. Veral diegene wat haar anders kon laat dink oor ’n kwessie en haar opnuut laat besef het dat ’n saak met meer as net een invalshoek benader moet word.

Elsa wil vir elke kyker dankie sê dat hulle vir haar daagliks ’n plek by en aan hulle ontbyttafel gedek het. Vir elke boodskap en al die terugvoer toon sy haar opregte waardering, en ja, daar was werklik koffie in die beker wat in die oggende langs my op die tafel en agter die potplantjie gestaan het”, sê Elsa glimlaggend. 

Izaan Steenkamp, inhoudsbestuurder van Die GROOT Ontbyt sê dat Elsa geweldig doelgerig, gefokus en ‘n regte staatmaker was oor die afgelope sewe-jaar. “Ek was altyd gerus dat enige onderhoud of insetsel vir GROOT PLAAS en Die GROOT Ontbyt met meer-as-genoeg navorsing en deeglikheid gepaard sou gaan. Omdat Elsa ‘n baie privaat persoon is, was dit altyd lekker as sy klein gunstelinge as deel van ‘n grappie gedeel het. Ons wens vir haar talle groeigeleenthede, en net wat goed en mooi is, toe.”

Johrné van Huyssteen, mede-aanbieder tot en met Februarie 2022, eer haar professionaliteit, hoë vlak van voorbereiding en “hoe sy gegroei het in die afgelope sewe-jaar”.  

Haar nuwe mede-aanbieder, Pierre Breytenbach gaan haar standvastige, bestendige benadering en gepaardgaande menslikheid mis. 

In hierdie stadium is daar ’n paar vryskut-take wat Elsa besig hou tot die volgende deur oopgaan en sy verder kan groei. Elsa is tot einde Maart nog te sien op Die GROOT Ontbyt. 

Liewe Elsa, ons is opgewonde oor jou toekoms en die volgende spasie en span wat die voorreg het om te verwelkom. Ons wag vir jou foto saam met “Bollywood”-akteur, Shah Rukh Khan, en CNN-nuusleser, Christiane Amanpour. Ons weet, jy gaan soos met die GROOT-span, ‘n ewige indruk op hulle laat. 

Jou spasie by ons bly leeg, terwyl ons die weergalmende eggo's van jou aansteeklike lag koester in elke hoeksteen van die GROOT-ateljees.