Logo
Hartklop slim bb
web uni tv guide

Hartklop

144Drama16 L

“Die Groot Ontbyt” se Pierre Breytenbach wys sy ander kant in kykNET se “Hartklop”

Nuus
26 September 2023
Ons ken hom as die innemende aanbieder van "Die GROOT Ontbyt", maar in "Hartklop" (Dinsdae 20:00 op kykNET) is daar ’n heel ander kant wat die veelsydige Pierre Breytenbach wys – dié van die nare Marius ...
Pierre Breytenbach artikel hartklop

Marius, Jolene (Leandie du Randt) se kêrel, is ‘n ongure karakter. Was hy ‘n uitdaging om te speel? 
Dis nooit maklik om ‘n onaangename karakter te speel nie. Mens moet krap in lelike plekke in jou psige om dit so werklik as moontlik te maak. Dis nie my styl nie, maar as akteur is dit jou werk om enigiets te vertolk. Daar was ’n oomblik waarin ek en Leandie gevra het of ons die verfilming vir vyf minute kan staak. Ons het eenkant gesit en so bietjie saam gehuil, en toe kom ons terug en maak die toneel klaar. 

Hoe lank het julle geoefen aan die toneel waar Jolene se vriende haar kom haal? 
Dit was daar op die dag gedoen. Toe ons dit oefen, het ek besef dat die geweld nie gaan realisties lyk tensy ons dit meer werklik benader nie. Dis toe dat ek vir Francois Jacobs vra om my regtig te slaan. Hy wou nie, want hy’s ’n nice ou, maar hy het uiteindelik ingestem en my met daai hengse groot voorarms vir so agt verskillende opnames ordentlik gemoker. Ek hoop dit lyk goed op skerm, want ek het vir ’n week later nog kneusplekke gehad.



Met jou veelsydigheid kan jy van komedie tot boewe doen. Het jy ’n voorkeur? 
Ek hou nogal daarvan om boewe te speel. Dis altyd ’n uitdaging en soms ook ’n insiggewende ontdekking om ’n skelm se motifering en werklikheid te probeer verstaan. Die komiese goed kom natuurlik. Dis seker maar nader aan myself. 

Behalwe Die GROOT Ontbyt, waarmee is jy nog besig? 
Ek speel maar so hier en daar nog toneel, wanneer Die GROOT Ontbyt se skedule dit toelaat, en ek vervaardig my eie avontuurmotorfietsprogram vir YouTube genaamd FOOTPEG DIARIES. 

Planne vir die res van die jaar? 
Avontuurmotorfiets ry in die woestyn (ek is juis nou besig om te pak), nog pret en geselsies op Die GROOT Ontbyt en ’n paar rolle hier en daar in TV-produksies of kortfilms. 

As daar drie buitengewone talente is wat jy kan hê, wat sal dit wees? 
1. Is daar iets soos ’n “min-slaap-talent”? Daar is te min tyd in ‘n dag. As ek met net drie ure slaap ‘n nag oor die weg kon kom, sou ek by alles kon uitkom wat ek wou doen. 
2. Om fiks te bly sonder om al daai aaklige oefeninge te doen. 
3. Die talent om mense te oortuig om empatie met mekaar te hê. 

Watter posisie sal jy graag in die Springbokspan wil speel? 
Kan mens nie ’n nuwe posisie uitdink tussen die twee slotte nie? Ek sou dit geniet om Eben Etzebeth en RG Snyman die heeltyd weerskante van my te hê.

·      Hartklop word Dinsdae 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream beskikbaar.