Logo

Die Flooze deel goeie nuus

Nuus
09 Oktober 2015
Die sanger en aktrise Sorina Erasmus, bekend vir haar rol as die Flooze verwag haar tweede kleinding. Ons het met haar gesels oor die goeie nuus.

Foto deur Willem Botha.


Die sanger en aktrise Sorina Erasmus, bekend vir haar rol as die Flooze, verwag haar tweede kleinding. Ons het met haar gesels oor die goeie nuus.

Op 8 Oktober 2015 het Sorina aanhangers uitgenooi om haar nuwe musiekvideo te kyk en te raai wat die groot nuus is. Sy het getwiet: “Kan jy die versteekte verrassing in my nuwe 'Hoofletter'-video sien? Gaan kyk mooi…"

Tydens April 2015 is Sorina se eersteling gebore en volgens haar was die hele swangerskap ’n seëning. “Selfs die laagtepunte, soos sooibrand en die moegheid…,” sê sy.

“Mens hoor van soveel mense wat sukkel om swanger te raak en wie wat sou wou gee om ’n gesinnetjie te kan begin. Ons was so gelukkig dat dit dadelik gebeur het en daarom is mens net dankbaar as daardie voorreg in jou skoot val, met of sonder al die swangerskap-simptome!”

Volgens haar was sy oorweldig met vreugde toe sy uitvind. “Dit is ’n onuitputlike bron van vreugde en dankbaarheid wat spontaan vanuit jou binneste borrel.

“My man, Braam Riekert, ons seuntjie, Braam (Braambossie), en ek was in die bad toe ons die tuis toets se uitslae lees, so ons gesinnetjie was almal bymekaar toe ons die nuus van die nuweling kry,” sê sy.

“Ons het heel eerste ons ouers, my broer-hul en Braam se sussie laat weet van die toevoeging tot ons binnekring.

“Ek sien uit om die beste Mamma te wees wat ek vir ons babatjie en Braambossie kan wees, vir die twee klein mensies wat spesiaal vir ons gesin ge-handpick is.”

Vir haar is die geslag van dié nuwe kleinding irrelevant. “Wysheid met die grysheid het my laat besef dat gesondheid dié belangrikste ding is wat mens vir jou kinders kan hoop, wens en bid,”  sê sy verder.

“Solank daardie babatjie net in God se genade gesond en normaal is, gee ons nie om watter persentjie vir ons toegdraai word nie.”

Sorina se nuwe album, Hoofletters, is einde Oktober beskikbaar in winkels. Volgens haar is die liedjie wat sy tydens haar eerste swangerskap vir haar eersteling geskryf het, getiteld “Welkom in ons wêreld”, ook op die album.