Logo

Boer Soek ’n Vrou: Wanneer die oemf kort

Nuus
02 Desember 2016
Dié week op Boer Soek ’n Vrou moes die boere bekend maak wie hulle eerste huis toe stuur – ’n keuse wat die vroue wat agter bly onkant gevang het.
BSV 9 Hennie Oemf

“Ek wens ek kon verlief raak op haar,” het Hennie in hierdie week se episode oor Marléne gesê.


Na net twee dae saam met die dames op die plase, het die tyd aangebreek vir die boere om ’n besluit te maak: Wie gaan bly, en wie moet haar tasse pak? Gaan die boere met kop of hart besluit – en gaan verliefdheid ’n rol speel?

Op Rob se plaas word daar oor die boer se heerlike slaai en -sous geklets – seker maar om weg te skram van wat die middag voorlê. “Dis eintlik Maureen se dressing, maar hy het ’n paar goed gekort…” spot die boer.

Hulle is dalk in ’n ligte luim, maar daar hang ’n donker wolk oor die plaas, sê Maureen. “Winter is coming!”

Vir Estelle is dit moeilik om te voorspel wat Rob gaan doen. “Ek het geen idee wat in daai man se kop aangaan nie.”

Rob is ’n klein bietjie “vol nonsens”, sê Maureen vir Minki, en het ’n vrou nodig wat net so sterk is soos hy.

Elizna sê sy is ’n sagte mens, maar nogtans sterk – en dis belangrik vir haar om eers die kat goed uit die boom te kyk. “As ek eers gee en oopmaak, gee ek 100%”.

Sy is “hard en taai” sê Estelle, “maar baie mense like daai toffie!”.

Is die regte persoon by hom op die plaas? wil Minki by Rob weet. “Ja, dalk,” sê die boer. Hy sê hy sou al drie vroue beslis beter wou leer ken as hy hulle iewers elders ontmoet het.

Dan word dit tyd vir Rob om sy keuse aan die vroue bekend te maak, en hy vra vir Maureen en Elizna om langer op die plaas te bly.

Estelle sê sy het dit half-en-half verwag. “Die ander twee girls is gorgeous. Solank hy geluk vind is dit al wat tel.”

Sy is bly om hier te wees, maar ook verras, sê Elizna. Maureen dink Rob se keuse verklap baie oor wie hy is. “Ek het iets oor hom geleer vanaand.”



Selfies, beeldskone uitkykpunte en braai – die boere deel hul foto’s met ons!

By Leon-Fritz is dit ’n heel ander storie. Híér is die boere en vroue pynlik bewus van die feit dat iemand vandag die plaas moet verlaat. “Ek is maar stil in so ’n situasie,” sê Chanté.

Leon-Fritz sê: “Hulle is volwasse genoeg om te verstaan hoe moeilik dit is om die besluit te neem en hoe min onderskeid daar is. Ek dink hulle is reg daarvoor.”

Dié boer weet wat hy in die lewe wil hê, sê Tanya vir Minki. “Dis ook maar hoe ék is.”

Chanté meen daar is min soos hy wanneer dit kom by goeie beginsels, terwyl Marna nie dink die boer is na ’n “boervrou” op soek nie – eerder ’n “boer se vrou”.

Leon-Fritz sê: “’n Mens kan ’n fout maak.”

Hy meen hy is 100% gereed vir ’n verhouding. Hy kan egter nie deur sy hart gelei word nie. “Op hierdie stadium besluit ek met my kop.”

Wanneer dit tyd word vir die boer om die vroue te laat weet wat in sy kop aangaan, sê hy vir Tanya: “Ek weet jy is volwasse genoeg om te verstaan.”

Marna meen sy “het dit glad nie sien kom nie.”



By Arno word daar vir ‘oulaas’ ’n vleisie oor die kole gegooi. “Ek dink nie een van ons is reg nie,” sê Jacobu. “Ek is definitief nie reg nie!”

“Daar’s niks tyd om te vry of niks nie,” spot die boer.

Wie gaan die boer egter kies? Daar is Jacobu, die ekstrovert (net haar ma kan haar ernstig kry), Mareli, die introvert, en dan Jenny – dalk meer ’n kombinasie van die twee.

Mareli dink nie sy het genoeg van haarself vir Arno gewys nie. “Ek dink amper hy gaan my nie kies nie.”

Sy sê vir Minki dat sy graag ’n man soos haar pa in haar lewe wil hê. Wanneer sy praat oor haar pa en die voorbeeld wat hy vir ander stel raak Minki tranerig. “Moenie huil nie!” sê Mareli. “Ek is ook ’n daddy’s girl,” sê Minki. “Ek is mal oor my pa.”

Arno laat Jacobu nogal aan haar pa dink. “Hy lyk ’n bietjie soos my pa,” sê sy. “Dis weird.”

Volgens Jenny trek Arno nie een van die drie vroue voor nie.

Arno voel hy het vroeër “connect” met Jenny en Jacobu, en daarom word Mareli vandag huis toe gestuur. “Jy is rêrig ’n awesome mens,” sê die boer.

Mareli meen sy is rustig. “Mens beskerm jou hart nog steeds.”



By Johannes is die vure nog nie heeltemal geblus nie. Hulle sit verlede week se gesprek voort, en volgens Danielle kan die vroue sien die boer raak effens geïrriteerd. Marga dink Johannes is nie ’n groot ekstrovert nie; die boer sê ja, hy is soms ook ’n introvert.

“Ek het net tyd nodig om te dink op my eie,” sê die boer, en neem ’n vinnige blaaskans.

Danielle sê vir Minki dat sy eerlik is wanneer sy sê sy vind nie die boer werklik interessant nie. Sy grappies is ook nie baie snaaks nie, sê sy.

Marga sê: “Daar is nog steeds ’n belangstelling.”

Johannes sê hy dink die debat tussen hom en Marga is “glad nie” ’n negatiewe ding nie, omdat dit haar sterk persoonlikheid ontbloot het.

Hy hoop nie die dames sien hul “gestryery” in ’n slegte lig nie, sê Johannes. “Ek wil graag hê altwee van julle moet nog ’n bietjie langer bly.”

Die dames stem in, en Johannes sê hy is net bly “almal is nog in een stuk.”



Op Hennie se plaas is daar nog tyd vir ’n paar grappies. Elizbé sê die senuwees knaag wel, en dis hoekom die klomp maar grapperig is.

Rondom die etenstafel klink dit asof die boer sommer klaar begin groet. “Ek wil net sterkte toewens ook vir elkeen van julle.”

Sy is “in die moeilikheid”, sê Chantelle vir Minki, want sy dink Hennie is baie soos sy. “Ek dink my emosies raak nou betrokke.”

Marléne dink Hennie gaan op sy hart staatmaak, maar “hard met sy kop dink.”

Elizbé dink daar kan beslis iets tussen haar en die boer ontwikkel.

Hy en die drie vroue het al almal voorheen seergekry, sê Hennie vir Minki. “Dis ’n kans wat jy moet waag.”

“Ek moes my instink volg,” sê Hennie vir die dames. Hy sê vir Marléne: “Dit help nie ek gaan soek gevoelens wat nie daar is nie.

“Jy is so ’n besonderse mooi mens, en dis vir my baie moeilik om vir jou te sê dat jy ongelukkig jou tasse moet pak.”

Marléne sê: “Dis rêrig okay.”

Elizbé sê sy is verbaas oor Hennie se keuse, omdat hulle twee so goed oor die weg gekom het.

Wanneer Hennie haar groet, sê hy vir Marléne: “Die man wat jou kry gaan baie gelukkig wees.”



Volg saam met ons die boere in hul soeke na liefde op die kassie, ons webblad en sosiale media!

Boer Soek ’n Vrou is Donderdae om 20:30 op die kassie.


Herhalings word Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30, Woensdae om 11:00 en Donderdae om 09:30 uitgesaai.