Logo

Boer Soek ’n Vrou: Ry of bly

Nuus
18 November 2016
Boer Soek ’n Vrou-kykers kon hierdie week sien hoe die vroue hulself op die boere se plase tuis maak, maar hoe tuis voel hulle werklik?

Boer Soek ’n Vrou-kykers kon hierdie week sien hoe die vroue hulself op die boere se plase tuis maak, maar hoe tuis voel hulle werklik?

Tanya se ouers boer self, so dis vir haar lekker om op Leon-Fritz se plaas te wees, het sy vir ons agter die skerms gesê. “Dit voel tuis – soos huis!

“Hy is ’n netjiese man,” het sy verder gesê, veral wanneer ’n mens na die boer se heinings kyk. Marna het eerste die boer se bulle raakgesien, terwyl Chanté dink dis “heel gemaklik en rustig” om saam met Leon-Fritz op die plaas te wees.

Danielle, wat by Johannes kuier, is ’n stadsmeisie. Sy het gesê sy voel “neutraal” oor die plaas, maar sien nogtans uit om te sien wat hulle tydjie daar gaan oplewer. “Alles is so mooi hier,” het sy gesê.

Marga het vertel hoe die boer vir hulle koffie en tuisgemaakte beskuit aangedra het.

Wat sê ons boere oor die dames? Lees hier om uit te vind!

Rob se dames meen al drie hulle sal vir goed op dié boer se plaas kan bly. Elizna het gesê dit was heerlik om op die plaas aan te kom. Maureen dink die plaas is beeldskoon en Estelle meen Rob se huis laat ’n mens werklik tuis voel.

Op Hennie se plaas is die vroue ewe opgewonde vir wat voorlê. Chantelle het gesê enige iemand sal met só ’n uitsig wil wakker word.

Elizbé is mal oor die huis en Marléne het dadelik opgemerk hoe mooi en netjies die tuin en werf is. Boonop is almal op die plaas gasvry. “Dis vir ons baie lekker om hier te wees,” het Marléne gesê.

Vir Jacobu, wat by Arno kuier, is plaaslewe reeds lekker, omdat sy self op ’n plaas grootgeword het. “Die stilte is vir my lekker,” het sy gesê.

Jenny en Mareli het oor die mooi uitsig en Arno se pragtige perde gesels. “Dis baie, baie lekker hier, en Arno is baie gasvry,” het Mareli bygevoeg.



Volg saam met ons die boere in hul soeke na liefde op die kassie, ons webblad en sosiale media!

Boer Soek ’n Vrou is Donderdae om 20:30 op die kassie.


Herhalings word Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30, Woensdae om 11:00 en Donderdae om 09:30 uitgesaai.