Logo

Beeld-lesers se gunsteling-TV-kanaal is...

Nuus
20 Mei 2016
Die resultate van Beeld se Leserskeuse-kompetisie word vandag in ’n spesiale bylaag gepubliseer, en kykNET het ’n plekkie op die wennerslys!
Beeld Lesers kykNET

Jip, dis kykNET!

Die lesers van Beeld het weer gestem in die jaarlikse Leserskeuse-kompetisie waarin dié koerant sy lesers vra om hul gunsteling-ondernemings en -handelsmerke oor ’n wye spektrum aan te wys – van motorhandelaars en eiendomsagente tot private skole en eetplekke. Dié kompetisie het groot publisiteit in die koerant gekry en is ook deur ’n radio-reklameveldtog ondersteun. Die resultate sal in ’n spesiale bylaag op 20 Mei 2016 gepubliseer word.

kykNET is vir die tweede agtereenvolgende jaar die wenner in die TV-kanaal-kategorie met M-Net en Discovery in die tweede en derde plek.

Volgens Liezel de Lange, Beeld se adjunkredakteur, gee die Leserskeuse-uitslae ’n betekenisvolle aanduiding van ondernemings wat volgens lesers goeie diens en waarde vir geld in druk ekonomiese tye bied. De Lange wys ook daarop dat Beeld se leserskap ’n kieskeurige uitsoekgehoor is met van die hoogste gemiddelde huishoudelike inkomste in die land.

kykNET is baie dankbaar vir hierdie kosbare mosie van vertroue en stempel van goedkeuring. Enige TV-kanaal se heel belangrikste kliënte is immers sy kykers.

Karen Meiring, M-Net se direkteur van Afrikaanse kanale, het só op die goeie nuus reageer: “Hierdie erkenning maak kykNET baie gelukkig. Ons kykers is die hart van kykNET en hierdie erkenning dien as ondersteunende motivering om deurgaans ’n uitstekende diens en inhoud vir hulle te kan bied.”