Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Alzheimers– simptome, stadiums en voorkoming

Nuus
28 Januarie 2019
Lees meer.
Alzheimers

Foto: Getty Images

kykNET-kykers het die afgelope tyd in twee gewilde programme met Alzheimer se siekte te doen gekry. In Suidooster is Pastoor Ronald (Ivan Abrahams) vinnig besig om agteruit te gaan en in Dwaalster het Mev. Abrahams (Denise Newman) hierdie week gewys hoe genadeloos die siekte kan wees.

Wat is Alzheimer-siekte?
Alzheimer se siekte is ’n onomkeerbare siekte wat die brein aantas en wat tussen vier en vyf persent van die totale bevolking raak. Sowat 10 persent van mense bo die ouerdom van 65 loop die gevaar om dit te ontwikkel. Die siekte, wat met geheueverlies gepaardgaan, kan oor dekades strek.

Simptome:
Geheueverlies is die eerste teken, daarna begin die persoon dryfkrag verloor, en later kan selfs gewone take nie uitgevoer word nie. Probleme met taal kan inskop en eenvoudige woorde kan vergeet of omgeruil word. Persone kan hul adres vergeet en maklik verdwaal, besittings verlê of dit op plekke wegsteek en dan vergeet waar hulle dit weggesteek het. Hulle kan buierig raak en hulle persoonlikheid kan drasties verander. Hulle verloor inisiatief, sal meer as gewoonlik slaap en nie meer sosiaal wil verkeer nie.

Stadiums van Alzheimer-siekte
Stadium 1: Gering – geringe geheueverlies, ontoepaslike gesprekke, vaagheid, angs en prikkelbaarheid.

Stadium 2: Matig – geheueverlies vererger, verstand gaan vinnig agteruit, prikkelbaarheid en rusteloosheid neem toe.

Stadium 3: Erge graad – geheue baie erg aangetas en intellektuele agteruitgang prominent. Fisieke abnormaliteite nou sigbaar, wat postuur beïnvloed sowel as rigiditeit van die ledemate.

Wenke vir die hantering van Alzheimer-pasiënte

  • Volg ’n gereelde roetine.
  • Hanteer die persoon sagkens, kalm en liefdevol.
  • Moenie die pasiënt is sy teenwoordigheid bespreek nie.
  • Vermaak hom met aktiwiteite waartoe hy in staat is.
  • Gun die pasiënt genoeg tyd om ‘n bevel of versoek uit te voer.
  • Moenie die persoon wys jy is kwaad of gefrustreerd nie.
  • Moenie hom weerspreek of met hom stry nie.

Wenke van die Amerikaanse Alzheimer-vereniging om die siekte te keer

  1. Beheer gesondheidsrisiko’s soos deur jou bloeddruk binne perke te hou en jou gewig dop te hou.
  2. Oefen jou liggaam met fisieke oefening en oefen jou brein deur te lees, blokkiesraaisels te doen en ander interessante stokperdjies te beoefen.
  3. Voeg vit. E en C en folienstuur by jou dieet en eet vis wat natuurlike olie wat hoog in Omega 3 is, soos haring en makriel, bevat.

Vir meer inligting, kontak die Suid-Afrikaanse Alzheimer-vereniging by 086 0102681 of 011 478 2234/5/6. Besoek hulle webblad by www.alzheimers.org.za of stuur ‘n e-pos aan [email protected].

Bronne: Dokter in die Huis deur Dr. Jan van Elfen en Dr. Don du Toit (Tafelberg Uitgewers); www.health24.com; www.vrouekeur.co.za/nuus-vermaak/die-10-tekens-van-alzheimersiekte