Logo
web uni tv guide

Stralend

144LewensstylPG13

Wil jy spog met ’n heel nuwe voorkoms? Skryf nou in vir "Stralend"

Nuus
30 Januarie 2024
"Transformasie in die kop, hart en siel."
Stralend CTE Image

As jy die nuwe jaar met groter selfvertroue en ’n vars voorkoms wil aanpak; is kykNET se nuwe leefstylprogram Stralend die oplossing. 

Die gewilde TV-persoonlikheid, Angelique Gerber en haar span is op soek na 12 vroue om hierdie lewensveranderde reis saam met hulle aan te pak.

Al die deelnemers kry die geleentheid om ‘n nuwe, en beter, weergawe van hulself te word en selfs hul voorkoms radikaal te verander. Hierdie vroue word uitgedaag om hul grense te verskuif en ’n dieper begrip van hulle eie potensiaal te ontwikkel.

Deur die loop van die reeks sal hierdie dapper dames ’n ongelooflike transformasie ondergaan en die strydvaardige, selfversekerde en pragtige vroue word wat hulle nog altyd binne was. 

"Stralend is nie ’n program wat fokus op gewigsverlies nie, want dit dra die boodskap oor dat jou geluk afhang van ’n spesifieke gewig. Stralend beklemtoon daardie innerlike skoonheid wat jou uniek maak. Ons bied wel wenke vir grimering en styl, maar die uiteindelike doel is selfaanvaarding, selfliefde en respek vir jou eie uniekheid,” sê ’n entoesiastiese Angelique.  

Francois de Klerk, beter bekend as Fafa, sal aan Angelique se sy staan as die stilis van die reeks. Fafa is ’n talentvolle en bekende grimeerkunstenaar en stilis in die Suid-Afrikaanse mode- en skoonheidsbedryf. Hy het die vermoë om ’n visie te omskep in ‘n werklikheid en mense te help om hul selfbeeld te verbeter deur middel van grimering en stilering.

JC Snooke, mede-regisseur van die reeks, sê dis nou die tyd vir vroue om lief te wees vir wie hulle werklik is. “Stralend is daar om vroue die selfvertroue te gee om hul ware self te wees. Ons fokus op die kop, hart en siel omdat dit die plekke is waar die transformasie plaasvind.” 

Stuur ’n e-pos na [email protected] om in te skryf. Verfilming sal in Gauteng plaasvind en inskrywings sluit op 15 Februarie 2024.