Logo
Suidooster S9 Oct 2023 Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

145Drama13

Als wat jy moet weet oor Ramadan – Suidooster

Nuus
03 April 2024
Hoekom is Boeber-aand so belangrik en hoe kan jy jou Moslem-vriende en kollegas ondersteun? Lees hier verder om meer uit te vind oor Ramadan.
Jawaahier Petersen

Die maand van Ramadan word tans regoor die wêreld gevier. Kykers van die sepie, Suidooster sien ook hoe die Samsodiens-gesin hulle Moslem-kultuur se  tradisies rondom dié Islamitiese fees beoefen. 

Jawaahier Petersen, beter bekend as Kaashifa in Suidooster, het vir ons insig gegee oor wat die maand vir mense van die Moslem-geloof beteken, asook wat die moets en moenies is rondom hierdie maand.

Hoekom is Ramadan so belangrik vir die Moslem-gemeenskap en wat gebeur gedurende dié tyd?

Ramadan vind plaas in die neënde maand van die Islamitiese kalender. Dit is die maand waarin die Heilige Koran aan die Profeet Muhammad (Vrede op hom) onthul is. Dit is ook die maand waarin Moslems dwarsoor die wêreld van sonsopkoms tot sonsondergang vas.

Die maand vorm ook een van die vyf pilare van Islam.

Behalwe vir die weerhouding van kos en drank is die komponente van ’n verhoogde fokus ewe belangrik met betrekking tot liefdadigheid en die bystand aan minderbevoorregtes, die lees van die Koran en om die morele lesse daaruit in ons daaglikse lewe toe te pas. Dit is ook ’n tyd van self-refleksie en geestelike opheffing.

Hierdie komponente word gedryf deur gedrag te vermy wat verhoed dat daar optimaal moreel gegroei word. Dit sluit in rook, vloek, skinder, deelname aan immorele gesprekke of dade, onbeheerste woede en om onder meer leuens te vertel.

Gebaseer op die bogenoemde, word die maand spandeer op bykomende dade van aanbidding, liefdadigheid en om aan jou eie morele uitkyk te werk.

Daar word verskeie kere gedurende die dag gebid tydens Ramadan. Is daar sekere tye wanneer jy nie iemand van die Moslem-geloof moet pla nie omdat dit gebed-tyd is?

Daar word in die geheel van Moslems verwag om vyf keer ’n dag te bid: Fajr (sonsopkoms), Thur (middag), Asr (laatmiddag), Maghrib (sonsondergang) en Esha (saans).

Maar gedurende die maand van Ramadan word daar ekstra gebede gehou. Daar is ook bykomende dade van aanbidding wat individueel of as deel van ’n gemeente beoefen word.

Die gemeente-gebed vind elke aand na Esha (saans) plaas. Dit word Taraweeg genoem en die gebed, wat in groot getalle plaasvind, verhoog die verbintenis met die Almagtige en broers. Daar vind seremonies plaas en dele van die Koran word opgesê. Dit was ook die gebruik deur die Profeet Mohammed (Vrede op hom) – iemand wie se aksies ons streef om na te volg.

Gedurende die maand is dit beter om nie diegene wat vas voor sonsopkoms lastig te val nie. Dit neem ’n paar uur om die vas te breek. Ook dan nie saans nie want dit word met gebed deurgebring.

Hoekom is dit so ingrypend as jy Pwasa breek?

Kos vorm ’n groot deel van ons kultuur en erfenis, veral in Suid-Afrika waar ons soveel gemengde erfenis het. Tog is mededeelsaamheid en omgee vir ander so diep in ons geloof gesetel dat kos ’n groot deel uitmaak van daardie omgee vir ander.

Kos word tussen bure gedeel en families breek gewoonlik die vas-tyd saam. Dit maak van Ramadan ’n baie spesiale tydperk vir verbintenisse met families en gemeenskappe.

Hoe toon jy ’n gebrek aan respek aan iemand tydens Ramadan?

Om nie gerespekteer te voel nie, kan nogal subjektief wees. Omdat daar so baie Moslems in sekulêre dele van die wêreld woon, is ons gesosialiseer om ons geloof onder enige omstandighede binne enige verband uit te leef.

Maar soos wat ons na ’n meer inklusiewe gemeenskap beweeg en diversiteit omarm, kan dit van groot nut wees om iemand wat wel vas te vra vir meer inligting en ook om enige wanindrukke wat jy het, op te klaar.

Talle sien vas-tyd as verhongering, maar sonder die nodige inligting kan die geestelike en sosiale mooiheid van hierdie daad wat mense wêreldwyd oor generasies heen beoefen, verlore gaan.

Ja, ook nie eers ’n druppel water nie... [deur die loop van die dag].

Respekteer asseblief die wens van mense wat besig is om te vas wat nie aan iets of aan ’n gesprek wil deelneem tydens hulle vas-tydperk nie.

Talle sal in hierdie tyd uitnodigings na sosiale geleenthede van die hand wys of kies om meer privaat te wees gedurende die vastyd sodat hulle die vrugte kan pluk daarvan. Moet dit dus nie as persoonlik ervaar nie.

Daar is omstandighede wat iemand kan kwytskeld van die vastyd soos byvoorbeeld ’n chroniese siektetoestand, mediese behandeling, swangerskap en borsvoeding, asook wanneer ’n vrou haar maandstonde het.

As jy dus ’n Moslem-persoon iets sien eet deur die loop van die dag, kan jy aanneem dis vanweë een van die bostaande redes.

Hoe kan jy jou Moslem-gemeenskap ondersteun gedurende Ramadan? 

Moslem-mense is baie uitnodigend en opgewonde om inligting oor ons geloof en kulturele aktiwiteite met ander te deel.

Baie Moslems wat hulself in ’n gemengde werksomgewing bevind, vertel gereeld hoe kollegas ongemaklik voel om voor hulle te eet of drink. Sommige van hulle sal, wanneer hulle in dieselfde geselskap is, eerder hul kos of drank weg sit as ’n teken van respek.

Dit is baie gaaf, maar onnodig. Ons is geestelik voorbereid op die maand-lange reis en ons waardeer die gebaar.

Die tyd waarop die vas-tyd gebreek word, verander daagliks met ’n minuut of twee. Dit sal ondersteunend wees en respek toon indien werkende Moslems ’n paar minute tydens sonsondergang gegun kan word om hul vas te breek. Of om hulle iets halaal aan te bied om hul vas mee te breek as jy so-iets byderhand het.

Ek het onlangs gehoor van iets wat in die noordelike voorstede van Kaapstad plaasgevind het: ’n Christen-buurman het na sy Moslem-buurman se huis oorgestap met geblikte en bevrore kos as ’n teken van ondersteuning in geval hulle nie iets gehad het om hul vas mee te breek nie.

Hierdie storie het my hart diep geraak. Dit was ’n voorbeeld dat die gees van Ubuntu wel in ons pragtige land bestaan.

Wat is die belangrikheid van Boeber-aand?

Boeber-aand is die 15de dag (halfpad-merk) van Ramadan. Op hierdie aand word Boeber geëet, ’n Kaap-Maleise tradisie in Kaapstad wat oor baie geslagte terugdateer. 

Op dié aand beskou ons onsself as “oppie berg” omdat ons metafories-gesproke die kruin van die berg bereik het en die laaste 15 dae werk ons weer ons pad berg-af na die einde van die maand toe.

Boeber, ’n soet drankie bestaande uit suiker, kaneel, sago, vermicelli, kardemom en rooswater, maak van hierdie “oppie berg”-tradisie ’n baie spesiale aand in Kaapstad.

Omdat ons gemeenskappe so gemeng is, is daar baie kollegas van ander gelowe wat uitsien na die dag na Boeber-aand want dan kry hulle hul “boeber barakats”, losweg vertaal as boeber-braksakke.

Wat is belangrik wanneer jy genooi word vir Eid al-Fitr (Eid)?

Jou drag is die belangrikste. Vermy styfpassende, kort uitrustings of klere wat té veel wys. Dis nie nodig vir vroue om hul hare te bedek nie, maar sommige verkies om dit wel te doen.

Moet asseblief nie ’n bottel alkohol as ’n geskenk vir die gasheer saambring nie! Alkohol word ten sterkste verbied in Islam.

Geniet die ervaring, eet soveel as wat jy kan en maak seker jy bring genoeg hande saam om jou aan jou barakats te help dra wanneer jy huiswaarts keer.

Moet jy iets saambring (soos geskenke of kos) as jy genooi word vir Eid? Indien ja, wat sou jy aanbeveel moet gebring word?

Om ekstra kos na ’n Eid-tafel te bring, is ’n lieflike gebaar, maar dit kan heeltemal onnodig wees. Ons is geneig om altyd te veel kos te maak. Vra miskien vir jou gasheer of jy iets vir nagereg kan bring. Maak net seker dat wat jy bring, halaal is.

Is daar ’n respekvolle manier waarop jy vir iemand ’n “geseënde Eid” kan toewens?

Eid Mubarak (EED MU-BAA-RAK) is die maklikste manier en die meer algemene manier waarop jy iemand op Eid kan toewens. In Kaapstad mag jy dalk ook “Slamat vir Labarang” hoor. Dit is afkomstig van die sterk Kaaps-Maleise invloed.

Wanneer is dit gepas om die term “Maasha Allah” te gebruik en hoekom word dit gebruik?

Regstreeks vertaal beteken Maasha Allah “God het dit gewil”, maar dit word meer gereeld gebruik in die konteks waar die skoonheid van iets, of om iets of iemand te komplimenteer. Deur dit te sê beskerm jy iets teen die bose oog en erken dat alle seëninge afkomstig is van die Allerhoogste.

Suidooster word Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET & kie uitgesaai en is ook op DStv Stream beskikbaar.