Logo
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

“Alles gaan OK wees” – Fraksie

Nuus
04 Oktober 2022
Trix Vivier vertel dat sy elke projek anders benader. Lees meer oor wat sy sê oor haar nuwe rol.
Trix Vivier

Trix Vivier se talent is reeds kleintyd raakgesien en die afgelope paar jaar het sy stadig maar seker haar pad oopgespeel en haarself as een van die talentvolle aktrises van haar generasie gevestig. Sy vertel meer oor haar rol as Jana, die ambisieuse prokureur in Fraksie, wat Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

Jana is ’n komplekse karakter. Hoe het jy haar geskep?

Ek het haar van die grond af op gebou. Sy het ’n ryk geskiedenis, van ouderdom vyf, wat ek uit die teks gekry het, maar die res moes ek inkleur om ’n soliede karakter te kry. Haar kinderdae was vir my die interessantste want dit is wat haar gevorm het en dit is hoekom sy so sukkel met verlies. Dit beïnvloed alles in haar lewe – van haar huwelik tot haar loopbaan.

Ek benader elke projek anders en dit is vir my elke keer soos om ’n legkaart te bou, soos ek ook vir Jana gebou het. Ek voel besitlik oor haar want daar is ’n weergawe van haar wat net in my kop bestaan. Alles in haar lewe – van haar ma, haar afwesige pa, haar verhouding met Tim en Schalk, haar dryfkrag – moes in plek val.

Hoe verskil jy en Jana as ma’s?

Sy het baie meer ervaring as ek. (Lag.) My kuiken is nog klein. Maar ek trek nie regtig vergelykings tussen my en karakters nie. Ek het wel eerstehandse insig oor hoe onvoorwaardelike liefde jy teenoor jou kind voel. En behalwe ma-wees, moet Jana ook haar huwelik probeer red, plek vind vir haar ambisie en dan haarself ook vind. Sy het nie goeie voorbeelde gehad toe sy ’n kind was nie en weet nie hoe om die verskillende aspekte van vrouwees te integreer nie.

Dit is ’n gedugte rolverdeling. Het julle die beste in mekaar uitgebring?

Absoluut. Sonder twyfel. Ek kan nie genoeg lof vir Marlo (Minnaar) en Edwin (van der Walt) gee nie. Dit is die eerste keer wat ek teenoor Edwin speel en hy is een van die mees toegewyde akteurs wat ek al ontmoet het. Om ’n dramareeks te maak, is harde werk met lang dae en baie woorde. As jy teenoor iemand gaan speel wat onvoorbereid op stel opdaag, gaan jy sukkel. Maar dit was glad nie die geval nie. Selfde met Marlo saam met wie ek nog altyd wou gewerk het. Hulle het altwee soveel na die tafel toe gebring. Hulle het elkeen hulle karakter gebou, hulle ken hulle woorde, hulle is toegewyd, hulle is speel-fiks. Om ’n akteur te wees, is soos om ’n atleet te wees. Jy moet stamina hê. En natuurlik was die res van die spelers net so ’n plesier.

Wat was jou werkshoogtepunte die afgelope paar jaar?

Dis moeilik om te antwoord want dit gaan soos ’n cliché klink, maar dat ek vermag het wat ek wou gedoen het – en dit is om soos ’n verkleurmannetjie van een rol na ’n ander gaan – is ’n hoogtepunt. Ek is 34 jaar oud en die aktrises in my ouderdomsgroep, is dié wat nog staan, dié wat regtig goed is in wat hulle doen. Dis werklik ’n baie talentvolle groep. Om deel van daardie groep te wees en in twee tale en verskeie aksente te speel, is ’n voorreg.

Ek wil nie werklik een hoogtepunt uitsonder nie, maar ek kan nie anders as om Trackers, waar ek die rol van Flea van Jaarsveld gespeel het, te noem nie. Dit is die eerste reeks wat ek op gewerk het wat wêreldwyd vrygestel is en mense uit so ver as Pakistan het met my kontak gemaak. Ek het ook baie aanklank by die regisseur Jyri Kähönen – hy woon in Helsinki - gevind. Dit is ook asof ek werklik my stempel met daardie reeks gevind het en daardie stempel het ek met selfvertroue na my volgende werk geneem.

Wat is die drie grootste vreugdes in jou lewe?

Dis meer as drie. My familie en vriende. ’n Goeie boek of fliek. My gesondheid. Die feit dat ek kan reis. Dit gee my baie vreugde. Ook dat ek kan werk. Ek is so lief vir wat ek doen.

Wat is jou beste herinnering van jou jeug in Melkbosstrand?

Swem in die see. Die dorpie waar kinders fiets skooltoe kon ry. Melkbos lewe binne my. Die reuk van die see en die klank van die branders. Daar is werklik ’n stukkie van Melkbos in my wat ek nooit sal wegjaag nie.

Wat is die een groot projek wat jy nog wil aanpak?

Die gedagte dat ek my artistieke grense kan verbreed, maak my opgewonde. Ek het internasionale agente gekry en wil graag wyer werk. Ek wil ook graag skryf en regie doen; die hele tyd my grense verbreed.

Wat is jou raad aan Jana?

Alles gaan OK wees. (Lag.) Ek sal ook vir haar sê om ’n sielkundige te gaan sien, maar ek is baie trots op haar.

Wat dink jy gaan kykers die meeste van Fraksie verras?

Die dinamika in verhoudings. Jy dink dalk jy weet waar die mag in ’n verhouding lê, maar dan gebeur daar iets en iemand anders sit skielik op die ystertroon. Ek hoop kykers geniet dit. Dit is ’n fantastiese drama. Ek is so dankbaar daar is mense wat nog honger is vir werk in Afrikaans. Ek is mal daaroor om in my taal te werk en dit sou nie gebeur het as daar nie ’n aanvraag is nie.

*Fraksie is Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op Catch Up beskikbaar.