Logo
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

“Nina het aan my gevat” – Fraksie

Nuus
01 November 2022
Die tonele tussen Nina en Schalk het op ’n kol aan haar begin vat, vertel Roeline. Lees meer oor die vrou agter die karakter, Nina.
Roeline Daneel

Roeline Daneel, wat die rol van Nina in Fraksie speel, vertel hoe haar karakter haar uitgedaag het, maar ook hoe sy dit geniet het om te sien hoe sy groei.

Wat was jou kindertyddrome en beste herinneringe? 

Ek is in die middel 1980’s in Johannesburg gebore en het net wonderlike herinneringe van my kindertyd. Ek is die oudste van drie kinders – ek het twee jonger broers – en ons is baie uiteenlopend. Ek het onthou ’n geborge kindertyd met my ma, Elsabé, wat ons teater toe gevat het en my pa, John, wat vir ons aandele gekoop het om ons van besigheid te leer. Ons het baie ondersteunende ouers gehad en gehelp om te word wat ons wou word. Ek het op universiteit met ’n algemene BA-graad begin, maar na ’n week na die dramadepartement toe gestap en myself gaan inskryf. My ma het saam met my gegaan en my pa het altyd gesê hy het breë skouers waar daar altyd plek vir my is.

Wanneer het jy besluit om ’n aktrise te word? 

Dit was altyd in my agterkop om dit te doen. Ek het op laerskool aan Eisteddfods deelgeneem en dramaklas geneem en toe ons aan die einde van my laerskoolloopbaan Stellenbosch toe getrek het, het ek weer dramaklas geneem en dit ook as vak op skool gehad. So dit was nog altyd deel van my DNS. Ek het ’n joernalistiekgraad ook en was redakteur van die skoolkoerant en het vir Die Matie geskryf. Beide my ouma en oupa aan my pa se kant was joernaliste. My oupa Piet Daneel was lank die redakteur van Landbouweekblad en oumatjie Daneel was Die Burger se skeepsverslaggewer. Maar om eerlik te wees, was om aktrise wees nog altyd my groot droom.

Jou wortels lê in Stellenbosch. Dink jy Fraksie is ’n goeie weerspieëling daarvan?

Ja, dit is, maar dit is ook ’n weerspieëling van verskeie gemeenskappe. Jy het jou flashy mense aan die een kant en die mense wat plat op die aarde is aan die ander kant. Maar ja, ek hoor dit van mense wat die reeks kyk.

Wat was jou reaksie toe jy gehoor het jy het die rol van Nina gekry? 

Toe my agent my laat weet het ek het die rol gekry, het ek nie besef watter groot karakter dit is nie. Jy doen jou oudisie en lees ’n paar tonele, maar ek het so geweldig baie respek vir Louis Pretorius en Albert Snyman wat die reeks geskep en vervaardig het en was baie opgewonde toe ek gehoor het ek het die rol gekry. Maar dit was eers toe ons begin skiet het en die tekse gekry het, wat ek besef dat ons besig is met iets baie spesiaal.

Wat het jy die meeste van Nina geniet? 

Ek hou geweldig baie van Nina. Daarmee sê ek nie sy is "likeable" nie. Sy is eintlik aan die begin "unlikeable". Maar soos sy gegroei en ontwikkel het en die reis wat Nina ondergaan, was vir my baie interessant. Sy is ’n veelvlakkige mens. Dit is jou werk as akteur om jou karakter te verstaan en simpatie met hulle te hê en te verstaan hoekom hulle soms "unlikeable" is. Ek skaar my by Nina, ek simpatiseer met haar omdat sy ’n komplekse karakter is en dit is heerlik om so iemand te speel. Dis ’n lang reeks en om te sien hoe sy deur die episodes verander en groei, was interessant. Dis amper of sy ’n nuwe Nina word net soos dit amper ’n nuwe Schalk en Jack word. 

Wat is die groot rol wat jy nog wil speel? 

Daar is nie ’n spesifieke rol nie, maar komplekse karakters en ouer karakters. Dit is die een ding wat lekker is van ouer word. Dalk is dit die tyd waarin ons lewe en dat vrouekarakters interessanter geskryf word. Soos die karakters in die TV-reeks Big Little Lies. Hulle is gekompliseerd en jy hou nie altyd van hulle nie. Wanneer jy jonk is, is jy die romantiese heldin of die gawe meisie van langsaan, maar soos jy ouer word, word dit meer gekompliseerd. Huwelike is morsig, ouerskop is morsig, om ’n besigheid te hê is morsig. En dit is soms wonderlik en soms aaklig en dit is die lewe. 

Waarmee hou jy jouself besig tussen rolle? 

Ek het ’n baie besige tyd agter die rug en op die oomblik is ek daar vir my ma en dogtertjie. Sy het nie genoeg van my gesien nie en ek wil nou fokus om die liefdevolle ma vir my driejarige Alexa te wees. Maar tussen rolle, doen ek stemwerk en oorklanking. Dit is ook nou seisoen vir internasionale maatskappye wat Kaap toe kom om advertensies te skiet en ek doen oudisies vir dit. Ek is ook in ’n fliek te sien wat teen Kerstyd op kykNET is. 

Fraksie het ’n groot, talentvolle rolverdeling. Watter tonele staan vir jou uit? Was dit maklik om so op Schalk (Edwin van der Walt) te gil? 

Dis ’n droom-rolverdeling. Ek was baie opgewonde om saam met Edwin te werk en om hom in aksie te sien – sy voorbereiding, sy energie, sy fokus – is fantasties. En van kamera af is hy so ’n omgee-mens. Hy stel so opreg in almal belang. Dit was ’n absolute voorreg om saam met hom te werk.

Die tonele tussen Nina en Schalk het op ’n kol aan my begin vat. Ons het in Franschhoek geskiet en ek was weg van my gesin. Hoewel ek tussen vriende was en geborge gevoel het, het dit sy tol geëis om dag na dag op geskreeu te word en om terug te skreeu. Ek is nie iemand wat deur werk geaffekteer word nie, maar om die hele tyd by jou kinders en jou man in die reeks toe hoor watter flop jy is, het aan my geraak. My vlammetjie was met tye laag. Dit was uitdagend. Die teks is ook so goed geskryf dat jy elke woord moet leer en ken. 

Ek het ook baie geniet om saam met Daneel van der Walt te werk wat my suster, Bianca, speel. En natuurlik Crystal-Donna Roberts en Jana Malan en Alex van Dyk wat my kinders speel. Dit was heerlik.

Wat is jou gunsteling-boek van alle tye en watter karakter is die naaste aan jou eie persoonlikheid? 

Ek lees baie en het nie noodwendig gunsteling-boeke nie, maar ek het wel gunsteling-skrywers soos Jonathan Franzen, Margaret Atwood en Jeffrey Eugenides. Ek kan nie aan een karakter dink nie. Daar is te veel. 

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek sien uit om Kerskoekies te bak en saam met my gesin met vakansie te gaan en in die getypoel te swem en met woema terug te kom vir 2023.

Fraksie word Dinsdae om 20:00 vanaf 13 September op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.