Logo
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

Plante, pannekoek en planne – Fraksie

Nuus
11 Oktober 2022
'My ma – wat ’n kleuterskool by die huis gehad het – is lief om te vertel ek altyd deel van die konsert was.' Lees meer oor die man agter die karakter JP.
Hendrik Nieuwoudt

Hendrik Nieuwoudt is te sien as JP in Fraksie (Dinsdae om 20:00 op kykNET en ook op Catch Up beskikbaar), die jong man wat glo hy gaan ’n sosiale media-ster word en saam met sy pa en dié se huismaat ’n huis deel.

Vertel meer van jouself. Waar kom jy vandaan, wat was jou kindertyddrome en beste herinneringe?

Ek is gebore in Citrusdal en het daar grootgeword. Klein en warm dorpie en plaasgemeenskap. Op hoërskool het ons Ceres toe getrek wat eintlik maar dieselfde is – net oor die berg en nie so warm nie. Beslis daardie small town-gevoel. Dis moeilik om herinneringe uit te sonder. Ek het sulke flitse van my en my niggies en nefies wat ure en ure in die rivier en by die see spandeer, koekies saam met my ma bak voor die Kersfeesvakansie.

My ma het ook altyd as dit net amper lyk na reën, pannekoek gebak. As daar nou net ’n druppel val, bak ek pannekoek of maak sop soos my ma. My pa – hy is ’n dominee – het ’n kwekery op my oupa-hulle se plaas gehad en ek het altyd saam met hom na ander kwekerye gegaan om plante af te laai of nuwes te koop. Ek het dit toe gehaat, maar toe ek ouer word het ek besef hoeveel van daardie kennis het ek by hom gekry. My hele woonstel is vol plante en daar is die hele tyd steggies besig om plante te word.

Dis moeilik om te sê wat my droom was, maar my ma – wat ’n kleuterskool by die huis gehad het – is lief om te vertel ek altyd deel van die konsert was. Ek was een jaar die koning en toe iemand my vra wat ek eendag wil word, het ek gesê ’n koning. Jy weet nie wie jy is wanneer jy so jonk is nie, maar ek het altyd ’n groot verbeelding gehad. Ek kom ook uit ’n familie wat daarvan hou om stories te vertel.

Wanneer het jy besluit om ’n akteur te word?

Dit was diep binne my vir lank, maar ek het dit nie altyd erken nie. Ek het soveel flieks en reekse gekyk en nou nog wanneer ek soms flieks kyk, besef ek weer dít is wat ek wil doen.

Ek het vir almal gesê ek gaan regte studeer, maar ek dink dit was van die begin af onafwendbaar dat ek drama sou kies.

Wat was jou loopbaan-hoogtepunte tot dusver?

Beslis om in Oliver Hermanus se fliek Moffie te wees. Dit was net ná ek klaar studeer het en dit was ’n lang oudisieproses, maar om die storie te vertel en te sien hoe hy sy films maak, het my so baie geleer en my lewe verander. En toe om na die filmfees in Venesië te gaan blew my mind. Ek kan steeds nie glo dit het gebeur nie.

Wat was jou reaksie toe jy gehoor het jy het die rol van JP gekry?

Ek was uit die veld geslaan en dit het goed gevoel om te weet Louis Pretorius en Albert Snyman het iets in my gesien. Elke keer wat ek saam met hulle en hulle span werk, besef ek weer hoe goed is hulle in wat hulle doen. Hulle werk met soveel omgee.

Wat het jy die meeste geniet om teenoor Melt Sieberhagen, wat die rol van jou pa speel, te speel? En Brendon Daniels?

Dit was amazing. Ek was nogal op my senuwees, maar daar was net nooit ’n dull moment met hulle twee en die regisseur Nina Swart nie. Die eerste dag toe ek sien hoe Brendon in die karakter geklim het en met Melt, wat ook ’n skrywer op die reeks is, te sien wat die ritme en gevoel is. Dit was so maklik om met hulle twee in te val.

Wat is die groot rol wat jy nog wil speel?

Ek wil graag in ’n film wil speel waar die karakter nie die perfekte mens is nie, iemand wat donkerte in hulle het en aan die buitekant van die lewe staan. Ek was nog altyd die saggeaarde, snaakse kind gewees. Ek sal ook baie graag nog teater wil doen.

Waarmee jou jy jouself besig tussen rolle?

Enigiets. Van oorklanking tot ’n produksie-assistent tot die kostuumafdeling. Ek skryf ook stukke vir tienertoneel wat ek baie geniet. Ek woon in Kaapstad en gaan stap by die see of in die strate, sorg vir my plante en kook te veel.

Wat geniet jy die meeste van JP?

Die pa en seun verhouding. Dit kan soms moeilik wees en dit is hoekom dit vir my so lekker was om te doen. Dit is lig, maar tog so real.

Wat is jou gunstelingfliek van alle tye?

Flieks is moeilik want dit is so tydspesifiek, maar as ek moet sê Happy Together (1997) van Wong Kar-Wai. Of Lady Bird (2017) van Greta Gerwig. Dis regtig ’n moeilike vraag want ek is amper obsessief oor fliek. Ek hoor soms van ’n regisseur dan kyk ek álles wat hulle al gemaak het. Maar ja, as ek vinnig moet antwoord, daardie twee wat ek genoem het.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek werk nog op die produksie waar ek in die kostuumafdelingwerk en dan gaan ek hard vakansie hou. Dit was ’n besige jaar. Ek wil see toe gaan, my familie sien en dalk by Knysna gaan stap.

Fraksie word Dinsdae om 20:00 vanaf 13 September op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.