Ná twee jaar in die rol neem die akteur Mario Haupt swaar afskeid van die karakter wat soveel kykers se harte gewen het.
“Ek het daarvan gehou dat Ronnie nie net ’n eendimensionele man was nie,” sê Mario. “Hy was vol teenstrydighede – sterk maar broos, kwaad maar vol liefde. Hy wou altyd die regte ding doen, maar het soms op die moeilikste manier daar uitgekom.
Ek dink baie mense kon met hom identifiseer. As akteur was dit heerlik om hom te speel, want ek kon elke dag iets nuuts van hom ontdek.”
Toe hy hoor wat met Ronnie sou gebeur, was hy net so geskok soos die kykers Maandagaand: “Ek het letterlik ’n paar sekondes net daar gesit en gesê: ‘Wat? Nee man, nie Ronnie nie!’ Dis vreemd hoe jy aan ’n fiktiewe karakter geheg raak – dis amper soos om ’n goeie vriend te verloor. Maar ek het ook geweet dis ’n sterk storielyn en dat dit mense gaan tref, en uiteindelik is dit waarvoor ons daar is: om gehore te laat voel.”
Mario sê Ronnie se lojaliteit was die eienskap wat hy die meeste bewonder het: “As jy syne was, het hy jou beskerm met alles wat hy het. Hy het diep liefgehad, selfs al het hy dit partykeer so lomp gewys dat jy hom wou skud. Hy het sy gesin bo alles gestel, en daardie gevoel van verantwoordelikheid, selfs wanneer dit moeilik was, het ek baie gerespekteer.”
Oor wat hy by Ronnie geleer het, sê hy: “Om nie alles vir jouself te hou nie. Ronnie het probeer om alles te dra – die pyn, die skuld en die bekommernis – en dis eenvoudig te veel vir een mens. Ek het by hom geleer dat kwesbaarheid nie ’n swakheid is nie – dis eintlik ’n vorm van vryheid. En dalk ook om te leer luister voor jy ontplof.”
Wanneer hy terugkyk op sy tyd by Skemergrond, onthou Mario talle hoogtepunte. “Die tonele saam met Hazel (Carmen Maarman) en Junior (Ayden October) was altyd spesiaal. Daar was regtig ’n gesinsgevoel tussen ons. Ek het ontsettend lief geraak vir Junior, en dit het die rolle selfs meer betekenisvol gemaak. Die tonele saam met Lily (Hildegardt Whites) was baie sterk en vol emosie. En dan die dae op stel waar almal net saam kon lag – daardie oomblikke agter die kamera is soms die kosbaarstes. Dis ’n span mense wat ek vir altyd in my hart gaan hou.”
Voor sy loopbaan as akteur het Mario lank vir ’n lugredery gewerk. As deel van die kajuitbemanning het hy die wêreld vol gereis. “Van die sneeu in München tot die chaos van New York en die warm glimlagte in Bangkok – elke stad het iets in my gelos.
Maar Indië was beslis een van die onvergeetlikstes. Dis pure lewe, chaos en skoonheid in een asem.” Sy gunstelingplek? “Hong Kong, sonder twyfel. Dis ’n stad wat nooit slaap nie, vol energie, ligte en mense van oral.”
Mario sal nog graag Marokko wil sien en die noorderligte in Noorweë beleef. “Ek dink ek sal verlief raak op die kleure, geure en markte daar. Dis die soort reise wat jou kop oopmaak en jou herinner hoe groot en mooi die wêreld regtig is.”
Wat die toekoms betref, sê hy: “Ek wil aanhou stories vertel – op die verhoog, op skerm en dalk eendag in boekvorm. Ek wil bly groei en nuwe uitdagings aanpak, maar ook meer tyd hê vir die klein dinge wat jou hart vul: stil oomblikke, goeie geselskap en die dinge wat jou laat glimlag en rus bring.”
Hy sê hy sal graag nog ’n rol speel wat donker en intens is – iemand met ’n geheim of morele dilemma: “Ek hou daarvan om te grawe in die grys areas van mense. Maar ek sal ook nie nee sê vir ’n lekker komedie nie. Dis tyd dat ek ’n rol kry waar ek kan lag en sonder trane aan die einde.”
Vir Skemergrond se lojale kykers het hy hierdie boodskap: “Baie dankie vir julle ongelooflike ondersteuning. Julle het nie net vir Ronnie liefgehad nie – julle het hom verstaan. Julle boodskappe, kommentaar en liefde het regtig my hart geraak.
Skemergrond is meer as net ’n storie – dis ’n spieël van ons mense, ons families, ons foute en ons hoop. As Ronnie iets agtergelaat het, hoop ek dis hierdie: dat liefde altyd ’n kans verdien, al maak dit seer.”
- DStv vier 30 jaar van vermaak, en vanaf 7 tot 9 November 2025 kry alle DStv-kliënte met ’n dekodeerder-intekening volle toegang tot DStv Premium. Besoek gerus https://www.dstv.com/30-years-of-DStv vir meer inligting en deel jou gunsteling-DStv-herinneringe op sosiale media met die hutsmerk #DStvCelebrates30.
- Skemergrond is Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.




