web uni tv guide
web uni tv guide

Appels En Tee

144Drama13 L

'Appels en tee': Die storie tot dusver

Nuus05 November 2025
Daar was in die eerste twee episodes van Appels en tee soveel verwikkelinge en onderstrominge dat dit duidelik is dié reeks gaan vir nog heelwat drama sorg.
Appels en tee

Om op te som: Lisa (Diaan Lawrenson) se lewe lyk perfek. Sy is die eienaar van ’n gewilde teetuin en is getroud met Dawid Rossouw (Ivan Zimmermann), wat die munisipale bestuurder van Paradysbos is. Hulle seun, Francois (Jacques Erasmus), is in matriek en haar pa, Jakkals (Ian Roberts), woon ook by hulle. 

Dieselfde kan nie van Henriëtte (Tinarie van Wyk Loots) gesê word nie. Henriëtte en Lisa was skoolvriendinne, maar in die eerste twee episodes is dit duidelik dat iets in hulle vriendskap skeefgeloop het. Hoekom het hulle vir 27 jaar geen kontak gehad nie? Wanneer Henriëtte en haar gesin – haar man, Wessel de Klerk (Neels van Jaarsveld), hul dogter, Annie (Bianca Langedyk), en haar ma, Griet (Rika Sennett) – in ’n motorongeluk voor Lisa se teetuin is, word hulle as ’t ware gedwing om weer die drade op te tel. 

Dit kom aan die lig dat die De Klerks hulle appelplaas in die Langkloof verloor het en nie net haweloos is nie, maar ook platsak. Griet is ’n weduwee, maar het die konserwatiewe “mevrou dominee” gebly. Sy probeer so ver moontlik vir Jakkals vermy, maar hy laat hom nie onderkry deur haar koue skouer nie. Henriëtte erken teenoor Lisa dat haar huwelik iets van die verlede is, en dit is duidelik dat daar meer tussen Lisa en Wessel was toe hulle tieners was. Is dit ’n geval van ou liefde wat nooit roes nie? 

Intussen leer Francois en Annie, wat doof is, mekaar ken en help hy haar om geld in te samel sodat sy kan aansoek doen om drama in New York te gaan studeer. 

Henriëtte en Lisa probeer mekaar weer leer ken, en Henriëtte begin, onder meer, vir die teetuin bak. Hulle twee se vriendskap is egter vir Dawid nuus. Wanneer hy en Wessel daaroor praat, sê Wessel die vroue se verhouding is van geheime aanmekaargesit. Is die lyk langs die swembad aan die einde van episode 1 een van daardie geheime? En wie is die jong klavierspeler aan die einde van episode 2? 

In episode 3 word dit al duideliker dat die Rossouws én die De Klerks se huwelike wankelrig is. Lisa is ontsteld wanneer sy uitvind van haar besittings wat sy in die motorhuis gehou het, is deur Annie en Francois verkoop, en Annie moet besluit wat sy met die brief gaan doen wat sy gevind het. 

Jakkals en Griet begin al gemakliker in mekaar se geselskap raak, en in ’n gesprek met Wessel, vind Dawid meer uit oor Lisa se verlede. Annie en Francois span sonder toestemming uit by die skatryk tandarts Dr. Brink (ook bekend as Blink Brink) se huis – met dramatiese gevolge. 

  • DStv vier 30 jaar van vermaak, en vanaf 7 tot 9 November 2025 kry alle DStv-kliënte met ’n dekodeerder-intekening volle toegang tot DStv Premium. Besoek gerus https://www.dstv.com/30-years-of-DStv vir meer inligting en deel jou gunsteling-DStv-herinneringe op sosiale media met die hutsmerk #DStvCelebrates30.
  • Appels en tee is Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.