Logo

Patat-nachos met tuisgemaakte chakalakasous

13 Junie

Vegetaries

4

Koskonsultant Heleen Meyer het tydens ’n episode van Die GROOT Ontbyt, dié heerlike gereg voorberei vir die kosblik. Foto: Heleen Meyer

Die-Groot-Ontbyt
Bestanddele

Chakalakasous:

10 ml olyf- of avokado-olie

1 ui gekap

1 cm vars gemmer gerasper

1 rooi soetrissie ontpit en gekap

5 ml paprika

5 ml kerriepoeier (matig)

4 ryp tamaties geskil en gekap (sien wenk)

suurlemoensap na smaak

peper na smaak

Patat-nachos:

1 handvol koljanderblare

30 ml olyf- of avokado-olie

500 g patats in baie dun skyfies gesny

200 ml wit cheddarkaas gerasper

Metode

Chakalakasous:

  1. Verhit olie oor ’n matige hitte in ’n kastrol (bv. ’n AMC 20 cm Low) en braai die ui, gemmer en rooi soetrissie saam tot sag. Voeg die paprika, kerriepoeier en tamaties by. Verlaag die hitte en prut vir 20 minute of tot ’n dik sous. Geur met suurlemoensap, peper en vars koljanderblare.

Patat-nachos:

  1. Voorverhit die oond teen 200 tot 220 ˚C. Voer ’n bakplaat of twee met bakpapier uit.
  2. Plaas olie in ’n mengbak en voeg die patatskyfies by en meng tot bedek is. Pak op die bakplate.
  3. Rooster die skywe vir 12 tot 15 minute of tot goudbruin en bros.
  4. Pak die gaar patat-nachos op ’n oondbak of hitte-bestaande bord en skep die chakalakasous oor. Strooi die kaas oor en rooster vir 5 minute of tot goudbruin en die kaas gesmelt het.
  5. Sit voor met koljanderblare en pak op ’n groot houtbord met ’n bloukaas-doopsous (sien wenk), vars JAZZ™ appelwiggies, groente soos blomkool en broccoli. Neute en avokado of guacamole is ’n maklike manier om ook gesonde vette in te sluit.

Wenke:

  1. Meng 250 ml (1 k) ongegeurde of Griekse jogurt met 45 ml (sowat 50 g) bloukaas en 25 ml (5 t) gekapte Italiaanse pietersielie vir ’n heerlike bloukaassous. Vervang die vars tamaties met 1 tot 2 x 410 g-blikkies gekapte tamaties.
  2. Geur die chakalakasous met kruie in plaas van speserye, indien verkies. Italiaanse geure soos basiliekruid of origanum sal lekker wees.
  3. Om ryp tamaties te skil, sny met ’n geriffelde groentemessie ’n kruisie aan die stingelkant van die tamatie. Plaas in ’n hittebestande bak en giet kookwater oor. Laat dit vir ’n paar minute staan en trek dan die skilletjies af. Die tamaties kan dan in blokkies gesny en vir die resep gebruik word, of vries dit vir ’n volgende keer. Onthou, hoe ryper die tamaties is, hoe makliker skil dit af.
DGO_28 Mei
Die Groot Ontbyt Poster 924x1360
28 May 2018

Italiaanse geroosterde sampioene