Logo
Oppiestoep
web uni tv guide

Oppiestoep

145GeselsprogramPG

Vars vermaak in die nuwe jaar

Nuus
01 Januarie 2019
Híér is waarna jy kan uitsien in 2019.
Vars vermaak in die nuwe jaar

’n Nuwe jaar beteken splinternuwe programme op kykNET se familie van kanale. Van komedie tot musiek én flieks – hier is iets vir oud en jonk.

kykNET, DStv-kanaal 144:


Hotel 3
Maandae om 20:30 – vanaf 7 Januarie
Met Schalk Bezuidenhout, Mila Guy en Beer Adriaanse


KYK: HET JY AL VIR MAANDE LANK HOTEL FOMO?

Wonder bo wonder funksioneer die Fransen Hotel steeds na twee seisoene. Dinge het amper lelik skeefgeloop toe Ferdie met Thomas se ma trou. Hierdie nuwe pa-en-seun- asook mede-eienaarverhouding is iets waaraan hulle, asook die Hotel beswaarlik gewoond moet raak. Lees meer hier.

KYK OOK: ONS KUIER AGTER DIE SKERMS

Dwaalster
Dinsdae om 20:00 vanaf 8 Januarie​
Met Tinarie van Wyk-Loots, Albert Maritz, Erica Wessels en Jacques Bessenger.

KYK OOK: TRAUMATIESE LIEFDE

Annabel (Tinarie van Wyk Loots), ’n ondersoekende joernalis, soek ontvlugting na ’n traumatiese gebeurtenis waar sy gesien het hoe haar kollega vermoor word terwyl hy saam met haar ‘n storie dek oor xenofobiese aanvalle. Sy is ook op die punt om ‘n korrupte minister se betrokkenheid met die Russiese regering in skaliegasontginning te ontbloot. Dit laat haar besef dat dit veiliger sal wees om laag te lê en terug te keer na haar tuisdorp totdat die stof gaan lê. Kyk hier wat gebeur agter die skerms. 

KYK OOK: DIE GEHEIM

LEES OOK: DRAMA VOL KINKELS 

MegaBoere 5 
Woensdae om 20:00 vanaf 9 Januarie​
Met Kabous Meiring as aanbieder

Die nuwe seisoen van MegaBoere gaan veral in een opsig van die vorige vier reekse verskil: MegaBoere 5 het ’n vroulike aanbieder. Die vervaardigers van MegaBoere, Khaki Produksies, voorspel dat Kabous Meiring onder die kykers se vel gaan inkruip terwyl sy die suksesvolste boerderye in Suidelike Afrika besoek. Nie net is dié Prontuit-aanbieder ’n vonds wat ’n vars aanslag aan die program gee nie, haar warmte, insig en spitsvondigheid plaas die bekroonde reeks in ’n ander liga. Vind meer oor die vyfde seisoen.

Skelmpie 2
Woensdae om 20:30 vanaf 9 Januarie​

Skelmpie, met aanbieder Rian van Heerden, is terug in Januarie vir ’n tweede seisoen. Die eerste seisoen het gehandel oor een van die partye in ’n verhouding wat ontrou is. Kenners is ontbied vir raad aan slagoffers om aan te beweeg, met of sonder hul maat. Die tweede seisoen fokus egter op paartjies wat in verhoudings is wat meeste mense vreemd vind – ons vind meer uit by Rian.

KYK OOK: GOOI DIE NET WYER
 

Jou Sondagdrama:


Bottervisse in die jêm
20 Januarie

Bottervisse in die jêm is ’n romantiese, dog onsentimentele drama, gebaseer op Deon Meyer se gelyknamige kortverhaal. Dit handel oor ’n siniese kunstenaar, Christo Nienaber, wat ’n nuwe lus vir die lewe ontdek. Sy gebroke wêreld word omgekeer wanneer ’n klein wysneus seuntjie, Buks Barnard, onverwags en ongenooid by Christo se tuis-studio opdaag en hy gekonfronteer word met emosies en herinneringe van die verlede, asook sy soeke om heel te word.

Stille Nag
27 Januarie

Stille Nag vertel die verhaal van een gesin...én ’n engel. Op Oukersaand by die Van der Hovens, word die Kersboom se liggies nie aangeskakel nie, want Gerhard is nog nie tuis nie. Pa en ma, en die ander seuns, die verstandelik gestremde Daantjie en Adriaan (met sy vrou Antoinette) wag vir hom. Gerhard word aangehou vir ondervraging oor sy betrokkenheid by die vryheidstryd in Suid-Afrika en sy tuiskoms roep die gelykenis van die verlore seun op. Daarenteen is Adriaan deel van die regse politiek en ’n AWB-lid. Die gesin word in twee kampe geskeur – met Daantjie wat die perspektief van onskuld verteenwoordig en Antoinette wat in haar verhouding met Adriaan verdruk word.
 

Geselsprogramme vir oud en jonk:


In die oomblik
Sondae om 09:30 vanaf 6 Januarie​

In die Oomblik is ’n reeks waarin ons deur ander se stories ’n blik kry van wat dit beteken om waarlik in die oomblik te kan leef, te midde van uitdagings wat ons in die gesig staar. Ons word uitgenooi na ’n dieper bewuswording van ons eie storie, om aandag te skenk aan ons binnewêreld, en om die gawe te ontdek van waarlik leef. Dis ’n spasie van hoop waarbinne transformasie en heling kan plaasvind en ons ontdek, dat ons deel is van ’n groter storie – God se storie.

Met ’n huppel in die stap
Woensdae om 18:00 vanaf 2 Januarie​

In dié gewilde reeks vir sestig-plussers word daar oor die volgende onderwerpe gesels:

  • Hoe om jou aftrede kreatief te beplan;
  • Wat kan afgetrede mense doen dat hulle nie verveeld by die huis rondsit nie;
  • Die beste maniere om pensioengeld met gemoedsrus te belê;
  • Hoe gemaak met my slaapsteurnisse en slaapapnee?
  • Lekker kuiergeleenthede en toere saam met ander seniors;
  • Raad vir artritis, stywe knieë en knoppe op vingers.

VeranderDinge
Donderdag om 18:00 vanaf 3 Januarie

Amore Bekker en Eloïse Cupido gesels met bekende en interessante mense oor die groot skuiwe in hul lewens.

In die nuwe seisoen verwelkom Amore en Eloïse bekendes, soos Sandra Prinsloo, Lynelle Kenned, PJ Powers, Jason Goliath, Josie Borain en Jason Goliath as hul gaste. Daar word ook gekyk na hoe om jou begroting te rek en hoe om kinders etiek te leer, sowel as nuwe tendense, soos rooftop farming, pendelgesinne en virtuele restaurante. Verder besoek die span die College of Magic, ’n olifantfluisteraar en Titanic.
 

Silwerskermfees kortfilms: 


’n Kombi, kameelperd en ’n camcorder
19 Januarie om 22:00​
Met Marielise van Rooyen, Hannes Brümmer en Lida Botha

Toe Celia op haar jarelange studentevriend, Armand, se knoppie druk om haar ouma (Lida Botha) na haar troue toe te bring, kon sy haar nooit indink hoe hierdie road trip sou ontvou nie. Vasgevang op ’n ander vriend, Simon (Morné du Toit), se camcorder kan die komiese avontuur meegemaak word op pad troue toe. Hier is alles wat jy van dié kortfilm moet weet.

Grys
19 Januarie om 22:15​
Met: Luka Geldenhuys, Ben Albertyn en Geon Nel

Ná die dood van sy ma leef tiener, Xander en sy pa, Dirk verby mekaar. Albei rou op hul eie manier. Xander probeer vasklou, Dirk probeer weggee. Tuis is Xander alleen en die stilte is oorweldigend. Daar is ’n klop aan die deur en sy vriend Phillip bied ’n skouer. Hy is opsoek na wie Xander eens was. Op minder bekende plekke vind Xander ontvlugting in iets wat hul verhouding met mekaar vir altyd sal verander. 'n Intieme uitbeelding van ’n familie se unieke manier van kommunikeer. Vind hier meer uit oor dié kortfilm.

Axis Mundi
26 Januarie om 22:00
Met: Antoinette Louw, Deon Lotz en Mila Guy

Paraplegiese TV-aanbieder Nora de Vos was eens die “Koningin van Televisie”. Maar met haar kykergetalle wat daal, wil die netwerk haar program kanselleer. Nora het egter ander planne. Sy nooi Johan Moolman, ’n bekende geneser, na ’n regstreekse uitsending van haar program: ’n Man wat beweer hy kan haar weer laat loop. Dit beloof om die TV-gebeurtenis van ’n generasie te wees, een wat Nora se loopbaan sal red. Soos die kameras rol, is die vraag op almal se lippe: Sal Johan Moolman vir Nora de Vos weer laat loop? Kliek hier vir meer inligting.
 

fliekNET-hoogtepunte: 


LEES OOK: OH SCHUCKS, FLIEKNET IS TERUG

Kykers kan uitsien na ’n wye verskeidenheid van flieks op fliekNET, kykNET se tydelike kanaal wat op DStv-kanaal 198 beskikbaar is van 16 Desember – 6 Januarie. Hoogtepunte sluit in Klein Karoo, Spook van Uniondale, Panic Mechanic, Oh Schuks...I’m gatvol!, Ruiter in die nag, Kaalgat tussen die daisies, Hartstog, Noem my Skollie en Vir Altyd.

kykNET&kie, DStv-kanaal 145: 


Op seer se spoor
Dinsdae om 20:30 vanaf 15 Januarie
Met Ernusta Maralack

LEES OOK: VERTROOSTING VIR DIE SEER


Die splinternuwe reeks volg die reis van Kuier se artikel-redakteur, Ernusta Maralack, ’n vrou wat in haar loopbaan as joernalis al baie gesien het. Tydens dié reeks gaan Ernusta terug na die tonele van die wreedste moorde in die Wes-Kaap, na stories wat sy soms self gedek het. 

Arendsvlei
Maandae tot Donderdae om 20:00​
Met: Jolene Martin, Rehane Abrahams en Ernest St. Clair

Kyk hier wat het tot dusver op Arendsvlei gebeur.

Waterfront
Woensdae om 21:00 vanaf 30 Januarie​
Met: Milan Murray, Rolanda Marais, Trix Vivier en Dawid Minnaar

Drie susters, Julia, Anna en Kate, is van kleins af omring deur die romantiese swier en status van hul pa se bootbou-onderneming. Hul paaie het reeds jare terug geskei, maar ’n familie-tragedie bring al drie terug na die plek waar hul jeug en kinderdae afgespeel het – die Waterfront in Kaapstad.
 

kykNET NOU!, DStv-kanaal 146:


Classics 2018
Sondag 6 Januarie om 10:30​

Classics 2018 is ’n musiekskouspel wat jy nie durf misloop nie. Kunstenaars sluit onder andere in Juanita Du Plessis, Bobby van Jaarsveld, Theuns Jordaan, Jay, Riana Nel, Elvis Blue en Corlea Botha.

Emo vier 30 jaar
Vrydag 11 Januarie om 21:00​

BLAAI DEUR: OP NÓG 30 JAAR

Emo Adams vier 30 jaar in die musiekbedryf by die Grand West Arena in Kaapstad. Beleef hierdie hoogtepunt saam met bekendes soos Kurt Darren, Robbie Wessels, Tarryn Lamb, Katlego Maboe en vele meer. Daar is ook ’n spesiale optrede deur Emo se pa, Omar Adams, asook die groep JAG.

Amira
Sondag 13 Januarie om 10:30​

Toe Amira Willighagen in 2013 op 9-jarige ouderdom Holland’s Got Talent gewen het, het sy die wêreld se verbeelding aangegryp. Beleef dié unieke hedendaagse sprokie wat op Afrika en Europa se verhoë ten toon gestel word in dié een uur lange dokumentêr.

Helmut Lotti: The Comeback Album
Sondag 20 Januarie om 10:30​

The Comeback Album en ’n spesiale TV-program sluit ’n verskeidenheid van Helmut Lotti se grootste treffers in soos “Out of Africa” en “Santa Lucia”, asook unieke verwerkings van die beste liedjies wat al ooit geskyf is soos “Bridge over troubled water”, “You’ll never walk alone” en “Hallelujah”. Lotti en Semino Rossi sing ook ‘n pragtige duet van Solamente Una Vez. 

Bly op hoogte deur kykNET op FacebookTwitter en Instagram en bly dié feesseisoen op hoogte