Logo
In die ysterhand se greep slim BB
web uni tv guide

In Die Ysterhand Se Greep

145Telenovela13 VL

Early B is reg om jou te vermaak in My ma kook beter as joune

Nuus
22 September 2022
Lees meer!
Early B

Hy is geen onbekende in die vermaakbedryf nie, met ’n goue status vir sy album Funky Kaans en drie Ghoema-toekennings agter sy naam, maak Early B hom nou reg om voor die kamera in te klim as die amptelike aanbieder van kykNET & kie se nuwe vermaaklikheidsprogram, My ma kook beter as joune.

En Early B is ook geen groentjie op die kassie nie, hy het destyds in e.tv se Hotel Songololo en SABC se Knie Diep in Warm Water verskyn.

Kykers is in vir ’n lekker tyd, want wie kan nou sy liedjies Ben Ten en Potte vergeet? En nou haal Early B die potte vir jou uit om te kyk wie kan die beste kook tussen jy en jou ma!

“Ek is vrek lief vir my ma en sy kan baie lekker kook. So eintlik kyk ek uit om te sien wie se ma se kos is die lekkerste en wie se verhouding kan die druk vat. Ek is ook baie lief vir kos eet, nie maak nie. So ek kyk uit om te terg, te proe en miskien ietsie te leer,” vertel Early.

Daar word gesê dat sommige talente ’n generasie oorslaan en wanneer dit met kookvernuf kom, is dit gereeld waar. Jou ma is dalk die beste kok, maar alles wat jy aanpak is ’n flop.

Klink dit bekend? Dan is kykNET & kie se nuwe vermaaklikheidsprogram net reg vir julle. In My ma kook beter as joune gaan twee spanne teen mekaar deelneem. Die spanne bestaan elk uit ’n ma wat haar plek in ’n kombuis kan volstaan en een van haar kinders wat glad nie kan kook nie. Die wenspan neem ’n stewige R10 000 huis toe en kan spog: My ma kán beter as jou ma kook.

Die belangrikste reël is dat daar ’n nou familieverwantskap tussen die voornemende deelnemers moet wees. Seuns of dogters kan saam met hulle ma’s deelneem. Aansoeke, wat ’n kort video en aansoekvorm insluit, sluit op 24 September 2022 en oudisies van dié op die kortlys sal op 3 Oktober 2022 gehou word. Die reeks word van 24 Oktober 2022 tot 1 November 2022 by Homebrew Films se ateljee in Kaapstad verfilm.

Hoe maak mens? Maak saam ’n kort video van maksimum drie minute waarin julle mekaar voorstel en vertel hoekom julle een van die spanne met wees. Onthou, Ma is die een wat tuis is in die kombuis en die kind is die een wat glad nie kan kook nie. Vertel wat Ma die graagste kook en deel ’n staaltjie of twee van wat al in julle kombuis gebeur het. Hou dit lig en vermaaklik en moenie skroom om skandes en geheime te deel nie.

Stuur die video per WhatsApp na 079 111 0019 en die inskryfvorm, wat op kykNET.tv beskikbaar is, na [email protected].